Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kommentaar
Volksblad sê: Hoe gaan Mangaung die dieretuin red?
Vuil water by een van die kampe in die Bloemfonteinse dieretuin. Foto: Mlungisi Louw

Die Mangaung-metroraad moet uitstippel presies hoe hy sy vervalle dieretuin gaan regruk, én hoe hy dit vorentoe behoorlik gaan bestuur.

Die tyd vir wollerige stories en leë beloftes oor hoe die dieretuin tot sy ou glorie herstel gaan word, is verby.

Soos dit nou lyk, is die dieretuin nóg ’n skande vir Bloemfontein en die Vrystaat. Gaan kyk maar net na besoekers en toeriste se kommentaar op gesaghebbende reis-en-verblyfwebbladsye en na die nadeel daarvan vir die stad en provinsie.

Die munisipaliteit is dit aan Bloemfontein en die Vrystaat verskuldig om sy gemors reg te maak en ’n einde te bring aan die verdeeldheid in die gemeenskap wat hy oor die dieretuin se voortbestaan ontketen het.

Aan die een kant het meer as 15 000 mense reeds Radio Rosestad se griefskrif onderteken vir die summiere sluiting van die dieretuin. Aan die ander kant staan groepe wat sê die oorlogskrete dat die dieretuin moet sluit, is ’n fout. Dié eens voortreflike stadsbate moet met die samewerking van inwoners gered word. Daarvoor het van hulle reeds ingespring met werk by die dieretuin en is daar planne om die Vriende van die Dieretuin te laat herleef.

Van die kantlyn af beskou, is die eise dat die dieretuin moet sluit en die enkele diere wat oor is na goeie, diervriendelike oorde verskuif moet word, verstaanbaar. Onder Mangaung se wanbestuur het die dieretuin ’n vaal, vuil, en vervalle plek geword: mistroostig en sleg vir dierlike welsyn en menslike gemoed.

Die munisipaliteit is dit aan Bloemfontein en die Vrystaat verskuldig om sy gemors reg te maak.

Pleidooie dat die dieretuin gered moet word, is ewe verstaanbaar. Wat sal Bloemfontein wees sonder sy 114 jaar oue dieretuin? Dit was immers een van die bestes ter wêreld: ’n lushof vir mens en dier.

Om die kwessie op die spits te dryf, moet die muni-sipaliteit vinnig oop kaarte speel. Sy vae trooswoorde dat die netheid van die dieretuin nou aandag kry, ’n tuindiens aangestel word sodat personeel die hokke kan skoonhou en daar planne is om ou strukture te herstel en nuwe diere te koop, skiet ver te kort. Die oord moes in die eerste plek nie so verval het nie. Bloemfonteiners wag ook al nege jaar vir ’n beloofde spog-dieretuin by Kwaggafontein, maar al wat die munisipaliteit kan wys vir die R42 miljoen wat bestee is, is ’n flenter-heining.

Die munisipaliteit moet nóú, in oorleg met die bekommerde publiek, kom met konkrete planne, tyd-raamwerke en sperdatums vir die herstel, uitbou en goeie bestuur van die dieretuin. En hy moet sê hoe hy daarvoor gaan betaal.

Kan hy dit nie doen nie, is die sluiting van dié stadsbate onafwendbaar en sal Mangaung se politici en amptenare skuldig staan voor Bloemfontein en die Vrystaat se mense. Dan is die verwaarlosing van diere nog nie eens geopper nie.

Meer oor:  Dieretuin  |  Reddingspoging  |  Diere
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.