Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kommentaar
Volksblad sê: Hofbesluit oor JZ se appèl van groot belang vir SA

Meer as ’n dekade het verstryk sedert die Durbanse sakeman Schabir Shaik in 2005 tot tronkstraf gevonnis is vir korrupsie en bedrog. In regter Hilary Squires se uitspraak toe het ’n “wedersyds voordelige simbiose” tussen Shaik, ’n adviseur van destydse adj.pres. Jacob Zuma, en laasgenoemde self geblyk.

Oor Zuma, deesdae staatspresident, se verbete pogings sedertdien om sy “dag in die hof”, waarop hy uitdagend aandring, te vermy kan politieke spanningsromans geskryf word.

In die jongste wending in die uitgerekte sage het die appèlhof gister ingestem dat Zuma mondelinge argumente kan indien teen die beslissing deur die hooggeregshof in Pretoria dat hy op klagte van korrupsie behoort tereg te staan.

Dus is dit nog het einde niet in die uitgerekte hofstryd. En bly Zuma op geleende tyd soos ’n neet aan die presidentskap kleef.

Verwag dat die Zuma-kamp die appèlhof se beslissing as ’n sege vir sy onskuld gaan uitbasuin. Ook kan verwag word as sy betoog in die appèlhof misluk, hy dan (weer) die roete na die grondwethof met ’n volgende poging tot appèl gaan probeer volg. Alles tegniese pogings om die saak uit te rek en tyd in sy presidentskap te koop.

Die oordaad van die Nasionale Vervolgingsgesag se vervolging van Pravin Gordhan, minister van finansies, staan in skrille kontras met die traagheid om Zuma te vervolg.

Die ANC is onwillig, of nie gebore in staat, om van die Zuma-albatros om sy nek ontslae te raak nie. Sy probleem duur voort.

Intussen kos die Zuma-presidentskap en

-staatskaping Suid-Afrika geld en aansien. Die simptome van gebrekkige of geen leierskap nie ten koste van eiegewin wys soos brandsiek oral in die land. Die DA pleit tereg dat Zuma sy “irriterende litigasie” moet laat vaar en staak om Suid-Afrikaners se geld verder te “plunder”. Hiervan sal dadels kom. Zuma sal nie sy oorlewingstryd laat vaar nie.

Na verwagting sal Zuma se betoog in Mei volgende jaar aangehoor word. Suid-Afrikaners sal die hofbeslissing oor of Zuma mag appelleer in spanning afwag. Dit hou groot implikasies in – ongeag of sy aansoek slaag of misluk.

Meer oor:  Zuma  |  President
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.