Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kommentaar
Volksblad sê: Kom skreeu almal op Oranjedag saam: Vrystaaat!!

Vrystaaaaat!!!

Vrystaaaaat!!!. Wanneer laas het ons hierdie brul gehoor? Uit volle bors, dat die vlaktes antwoord gee en honde tjank!? Vrydag en Saterdag is só ’n dag.

Dis Oranjedag in die Vrystaat – en orals in die wêreld waar die geswore ondersteuners van hardlooprugby hulle bevind.

Trek vandag oranje aan en spog met die span wat môre om 15:00 in die Curriebeker-halfeindstryd teen die Goue Leeus in die Toyota Vrystaatstadion speel.

In kantore, op skoolterreine, in gimnasiums, supermarkte en ouetehuise moet die Vrystaat-gees lewe. Dis ’n kans om die blues van ’n nimmereindigende #FeesMustFall-protes, eksamens wat uitgestel is, ’n ondersoek na die Zuptas se staatskaping, die rand wat verflou en die Springbokke se krisis op Oranjedag uit die gestel te kry.

Die droogte kasty mens en dier en die Augustuswinde waai stof op in die helfte van Oktober. Maar vir een dag kan ons ons sorge vergeet en ’n span ondersteun wat in die Curriebeker gewys het hy wíl rugby speel en hy neem sy ondersteuners baie ernstig op.

Dit is ’n dag waarop Saru, die Springbok-keurders en die Bok-afrigter, Allister Coetzee, ook sal moet kennis neem hoe die toekoms van Suid-Afrikaanse rugby lyk as twee spanne wat aanskoulike, moderne hardlooprugby speel mekaar takel. Met die bal wat tussen slotte en senters flits en ’n stut soos Ox Nche wat drieë soos ’n vleuel druk.

Trek jou Cheetah-trui of ’n oranje T-hemp aan en wys vir die wêreld jy ondersteun Franco Smith en sy harde werk om die span vinnig, sterk, fiks en kompeterend te maak – een wat soos Muhammed Ali dartel soos ’n vlinder en steek soos ’n by. Vir ondersteuners is dit ’n span so rats soos ’n jagluiperd en wat steek soos ’n skerpioen.

Dis ’n dag om Francois Venter en sy span woema te gee deur in die strate vlae te swaai en te jubel. Ons wil seker maak dat die Curriebeker-eindstryd volgende Saterdag in die einste Vrystaatstadion gespeel word.

Vandag en môre moet almal sáám brul dat die kranse antwoord gee: Vrystaaaaat!!

Meer oor:  Vrystaat
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.