Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kommentaar
Volksblad sê: NK en VS se premiers bring nie hoop vir 2021
Sisi Ntombela, premier van die Vrystaat. Foto: Mlungisi Louw

Die provinsiale redes van premiers Sisi Ntombela van die Vrystaat en Zamani Saul van die Noord-Kaap bied min hoop en inwoners het goeie rede om bekommerd te wees dat 2021 ook nie die jaar gaan wees waarin hul lewens verbeter nie.

Vir dié provinsies se mense skets die premiers ’n rooskleurige prentjie. Hulle kleur dit in met beloftes van groot provinsiale projekte, insluitend ou projekte waarvan inwoners al lank hoor. Dit sluit in die herstel van gehawende paaie en toegangsroetes in die Vrystaat, versnelde bouwerk aan die Gariep-pypleiding vir meer rou water vir Bloemfontein en omgewing, ’n stuk of 10 000 wooneenhede in Bloemfontein, die uitbreiding van die Vaal-Gamagara-waterskema in die Noord-Kaap, die rehablitasie van die Vaalharts-Taung-besproeiingskema, bykans 1 000 wooneenhede in Kimberley, ’n diepwaterhawe van miljarde rande by Boegoebaai en ’n mynbou-en-nywerheidskern van miljarde rande in Namakwa.

Daarmee saam spog die premiers oor prestasies wat nie prestasies is nie, maar bloot deel is van die basiese pligte en verantwoordelikhede van provinsiale regerings. Om onder meer te spog oor ’n enkele Vrystaatse departement wat ’n skoon oudit gekry het en drie in die Noord-Kaap, verklap die gebrek aan erns met deeglike politieke toesig en oorsig.

Oor die ineenstorting van munisipaliteite en die reuse-diensleweringskrisisse swyg die twee premiers grootliks.

Oor die ineenstorting van munisipaliteite en die reuse-diensleweringskrisisse, weens onder meer wanbestuur, ANC-faksiegevegte en voortslepende korrupsie en selfverryking, swyg die twee premiers egter grootliks.

Hierdie skeefgetrekte prentjies wat die premiers verkwansel, verskil hemelsbreed van die droewige waarheid wat vir almal te sien is en waarmee Vrystaters en Noord-Kapenaars gans te lank al saamleef: die haglike stand van die stede en dorpe en die daaglikse agteruitgang. Inwoners van Bloemfontein, Welkom en Kimberley tot Winburg, Warrenton en Kathu sou van die premiers wou hoor hóé en wanneer die kwynende hoofstede, stede en dorpe eindelik reggeruk gaan word.

Inwoners kan nie geblameer word dat hulle die groot beloftes wat weer gemaak is en die groot bedrae wat weer so maklik genoem is, wantrou nie. Noord-Kapenaars het in die verlede jaarliks gehoor van miljarde rande vir ’n droomprojek by die Port Nolloth-hawe. Daarvan het niks gekom nie. Met ’n kultuur van korrupsie in die Vrystaatse regering is die vraag ongelukkig wie hierdie keer die tenders gaan kry en of hier nie nog korrupsieskandale van miljarde aan die broei is nie.

En met Ntombela en Saul se swye oor die grootste bedreiging vir hul provinsies – die vrot munisipaliteite – kan mense nie geblameer word as hulle meen dat swak leierskap die Vrystaat en Noord-Kaap finaal ingehaal het en die skrif aan die muur is nie. Dit is in die premiers se hande om die teendeel te bewys en die munisipaliteite wel te red.

Meer oor:  Sisi Ntombela  |  Zamani Saul  |  Vrystaat  |  Noord-Kaap  |  Hoop  |  Hoofartikel
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.