Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kommentaar
Volksblad sê: Rasversoening is UV-rektor se grootste bydrae
Prof. Jonathan Jansen Foto: Charl Devenish

Prof. Jonathan Jansen se bedanking as rektor van die Universiteit van die Vrystaat is nie ’n verrassing nie. Op en van die kampus af was sy vertrek geen geheim nie.

Sy bedanking – amper halfpad deur sy tweede termyn – kom op ’n ongemaklike tyd vir die UV. Die AfriForum-hofsaak oor die UV se nuwe beleid oor onderrigtaal, waarin Afrikaans uitgesluit is, is hangend. Van die “onafhanklike” ondersoek na en dissiplinêre optrede oor die kampusgeweld het tot dusver min gekom.

Die belang van Jansen se UV-rektorskap het juis daarin gelê dat dit ’n strategiese sleutelpos is – vir die UV, die akademie en die breë gemeenskap – wat in 2009 aan hom toevertrou is. Onmiddellik was dit met sy projek rondom die berugte Reitz 4-video duidelik dat hy ras-inisiatiewe as deel van

sy kerntaak hier beskou. Die stigting van sy Internasionale Instituut vir Studies in Ras, Versoening en Maatskaplike Geregtigheid en ander inisiatiewe het dié voorneme gestaaf.

Ná sy aankondiging gister op ’n vergadering van die senaat het Jansen die transformasie van UV-koshuise, die “meer inklusiewe taalbeleid” en veranderings aan die “institusionele simboliek” as hoogtepunte in sy UV-loopbaan uitgesonder. Met koshuistransformasie is beslis gevorder. Die proses vir die verandering van die UV-taalbeleid, met Afrikaans as slagoffer, bly bevraagtekenbaar. Eindelik sal Jansen onthou word as ’n omstrede, onortodokse en energieke figuur, gelief in eie kring, wat dinge hoe ook al deurgedryf gekry het; vir sy baie uitsprake én sensitiwiteit oor reaksie op sy uitsprake – ook in Volksblad; vir die aandrang op publisiteit; vir baie openbare optredes en skrywes.

Oorhoofs is pogings tot rasversoening wel sy groot bydrae. Die indruk bly sluimer tog dat hy met die kampusgeweld ten tyde van die Varsity-beker-rugbywedstryd die kans verspeel het om deur beslissende optrede ter plaatse ware versoening daadkragtig te bewerkstellig.

In die UV se huidige topbestuur is nie ’n aangewese opvolger as rektor nie. Hopelik is die proses vir die aanstelling van die opvolger, op wie buitengewone uitdagings en onvoltooide werk wag, deursigtiger as die proses wat vir die deurdryf van die UV se nuwe taalbeleid gevolg is.

Meer oor:  Prof. Jonathan Jansen  |  Bedanking
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.