Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kommentaar
Volksblad sê: Senekal-gebeure dui op wonde in SA samelewing
Julius Malema spreek sy “vegters” toe.

Met talle elemente in die kookpot het die land Vrydag asem opgehou oor Senekal. Dat die gemoedere hoog geloop, maar nie fataal oorgekook het nie, was ’n bestiering.

Nou móét die fokus terugskuif na waaroor dit eintlik gaan, te wete die borgtogaansoek van die aangeklaagdes vir die moord op Brendin Horner, plaasbestuurder, wat in die dorp aangehoor word.

Die moord op Horner het in opsigte tog die keerwal laat breek, terwyl die Senekal-gebeure dui op die wonde in die Suid-Afrikaanse samelewing.

Boaan die lys is die woede en frustrasie oor plaasaanvalle en die regering en die polisie se hantering daarvan. Dit het gelei tot die betoging hieroor by die eerste hofverskyning van die verdagtes in die dorp, wat deur wanordelikes gekaap en in vandalisme en geweld geëindig het.

Opstokery, beskuldigings, politiekery, ’n presidensiële skrywe, ander pleidooie en selfs ministeriële besoeke aan Senekal waar onder meer met naasbestaandes van die slagoffer en landbou-verteenwoordigers vergader is, het gevolg.

Toe kom Vrydag en Senekal is feitlik onder beleg. Drukgroepe, oudkommandolede (in uniform), geloofsgroepe, politici en individue het aan die veldtogte kom deelneem, sommige met ’n eie agenda. Daar was ook die groep EFF-ondersteuners in rooi wat per bus ingery is.

Breedweg was dit swart en wit wat teenoor mekaar stelling ingeneem het – verdeel volgens Suid-Afrika se sosiaal-politieke foutlyne.

Breedweg was dit swart en wit wat teenoor mekaar stelling ingeneem het – verdeel volgens Suid-Afrika se sosiaal-politieke foutlyne.

Ondanks vrese het erge geweld nie uitgebreek nie. Die meeste was hier om hul pyn te lug.

Die polisie was sigbaar; vredemakers het vir kalmte gemaan, en die opruiende toespraak van die EFF-opperbevelvoerder wat in die koel hof gesit het, was eers laatmiddag toe die blus uit was.

Julius Malema se ontkenning van plaasmoorde op wittes en sy opstel van swart teenoor wit, strook met sy styl as opswepende EFF-stemmejagter van diegene wat deur land en regering verloën word.

Op die waglys nou, is terugvoering van Bheki Cele, minister van polisie, oor sy ondersoek na boere se klagtes. En van die Menseregtekommissie oor die sing van “Kill the Boer, Kill the Farmer”.

Aandag aan plaasaanvalle én aan ongelykhede en onreg gaan deel van die pad na rasversoening moet wees.

Meer oor:  Brendin Horner  |  Hoofartikel  |  Wonde  |  Rassisme  |  Apartheid
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.