Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kommentaar
Volksblad sê: Sterk boodskap teen bakleiery by skole is welkom
Oor die tameletjie van moeilike ouers langs die sportveld kan ’n mens met skoolhoofde net simpatie hê.

Wat ’n plesierige skolesportmiddag moes wees, is voorverlede Saterdag deur ’n rugby-bakleiery tussen Sentraal en Jim Fouché se eerstespanne ontsier. En Vrydag het die vuiste tussen twee hoërskoolseuns op Grey-kollege se skoolterrein geklap – glo oor ’n meisie.

Instinktiewelik is die versoeking om te sê: Ag wat, seuns sal seuns bly. Dit was altyd so en sal altyd so wees.

Tog: die tonele – op die rugbyveld en in die video oor die skoolgeveg – is nie mooi nie. Dit is selfs brutaal om te sien hoe ’n groter seun ’n kleiner ene onder aanhitsing van skoolmaats pot.

Dié soort bakleiery gebeur by skole. Spogskole ontkom nie. Danksy – of weens – sosiale media is dit nou baie meer in die openbare domein.

In die geval van die rugbybakleiery is die Vrystaatse Rugbyunie se skorsing van altesaam elf wedstryde – agt, drie en drie, onderskeidelik – van die drie oortreders te verwelkom. Dit stuur ’n sterk boodskap oor ongeoorloofde spel in skolesport uit, maar is ook realisties.

Die welwillende samewerking van die skoolhoofde en die verskoning van Sentraal aan die VRU is positief. Pleks van verskuiwing van blaam, leer dit spelers om verantwoordelikheid te aanvaar. Vuilspel ís onaanvaarbaar.

Lindsay Mould van die VRU sê tereg die spel moet veilig bly en dat spelers dit moet geniet.

Hiertoe dra die VRU – deur tien dissiplinêre verhore van skolespelers sover die seisoen – by.

Oor die tameletjie van moeilike ouers langs die sportveld kan ’n mens met skoolhoofde net simpatie hê. En skeidsregters wat wedstryde by skole – met soms meer toeskouers as by senior rugby – hanteer, moet gewis hare op hul tande hê.

Net so kan die vuisslanery by Grey nie goedgepraat word nie, maar dit gebeur. Gelukkig, in dié geval oënskynlik sonder erge beserings.

Die skool het g’n ander keuse nie as om ingevolge sy gedragskode op te tree.

Die Vrystaat en Noord-Kaap se skole in die stad en platteland is trots onder die land se voorstes.

Ondanks hul trotse rekord ontkom hulle nie uitdagings nie. Regte optrede dra by tot die leerproses. En, soos Mould oor rugby sê, is dit goed as nagedink word hoekom enige spel gespeel word.

Meer oor:  Skole
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.