Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leopold Scholtz
Die rimpeleffek van situasie in Libië ál wyer

In Libië het alle pogings om te keer dat die burgeroorlog daar opnuut losbars, in duie gestort.

En op internasionale politieke vlak woed ’n woorde-oorlog daaroor wat byna net so erg soos die skietery is.

Libië se huidige probleme het in 2011 begin toe sy onstabiele diktator, kol. Moeammar Ghaddafi, in ’n volksopstand omver gewerp en vermoor is.

Omdat hy dekades lank ’n vlieg in die Weste se salf was (hy het dikwels terreur aangestig), is sy val in Amerika en Europa entoesiasties begroet.

Maar toe die ystergreep verdwyn waarmee hy die land regeer het, was die stabiliteit ook weg en het die land uiteengeval. (Dis te ingewikkeld om wat sedertdien gebeur het in dié ruimte te behandel.)

Tans is die groot geveg tussen die regering van nasionale eenheid onder leiding van premier Fajez al-Sarraj en die LNA van genl. Chalifa Haftar. Die oorlog het reeds duisende lewens geëis en meer as 140 000 mense verplaas. Die ontginning van olie het in duie gestort. As dit nou maar slegs om die menslike ramp in Libië gegaan het, was dit al erg genoeg. Maar die onstabiliteit het ernstige internasionale implikasies.

Die magsvakuum bied die gaping waardeur tienduisende vlugtelinge uit lande verder suid in Afrika stroom om oor die Middellandse See na Europa te beweeg.

Dit veroorsaak aansienlike maatskaplike probleme in Europa, asook ’n swaai na regs onder die kiesers.

Die Europese Unie se strategie was om Libië te stabiliseer sodat daar ’n enkele regering is waarmee hy kan onderhandel.

Die doel is ’n ooreenkoms soortgelyk aan die een wat in 2016 met Turkye gesluit is: In ruil vir miljarde se ontwikkelingshulp voorkom Libië die deurstroom van die vlugtelinge na Europa.

Maar met die burgeroorlog wat opnuut uitgebreek het, val daardie strategie plat. Intussen probeer allerlei ander internasionale rolspelers – veral Rusland, Turkye en Sirië – hul elmboë gebruik om invloed in Libië te verwerf.

Pres. Reçep Tayyip Erdogan van Turkye het byvoorbeeld (in weerwil van ’n belofte wat hy op 19 Januarie in Berlyn gemaak het) oorlogskepe met Siriese soldate na Libië gestuur om die amptelike regering by te staan.

Ook Russiese vrywilligers is deur pres. Wladimir Poetin van Rusland toegelaat om na Libië te vertrek. Rusland staan agter Haftar in ’n poging om hul eie rol in die gebied van die Middellandse See te vergroot.

Dit tot ontsteltenis van veral die regerings van Duitsland, Frank­ryk en Brittanje, wat ’n onderhandelde skikking verkies.

Amerika staan aan die kantlyn. Pres. Donald Trump het vandeesweek wel ’n telefoongesprek met Erdogan gehad, maar dit lyk nie of hy enige inisiatief gaan neem nie.

Om diktators soos Ghaddafi af te sit, klink na ’n edele saak. Maar die wet van onbedoelde gevolge is onbarmhartig.

Dr. Leopold Scholtz is ’n historikus en onafhanklike kommentator wat in Nederland woon. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie. 

Meer oor:  Leopold Scholtz  |  Libië  |  Rubriek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.