Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leopold Scholtz
Trump raak nou al dieper in die knyp

Pres. Donald Trump het vandeesweek twee stukke slegte nuus gekry. Albei het die potensiaal om hom erg te knou.

Die eerste is dat Robert Mueller, die spesiale ondersoeker wat klagte moet ondersoek oor moontlike sameswering tussen die Trump-verkiesingspan en Rusland om die verkiesing te beïnvloed, sy ondersoek uitgebrei het. Klagte van regsverydeling word ook nou bekyk.

Tot onlangs was mense rondom Trump, nie die president self nie, die fokus. Maar toe dank Trump die FBI-hoof, James Comey, af. En toe besluit die FBI om Trump ook te ondersoek. Kort daarna het die onderminister van justisie, Rod Rosenstein, Mueller aangestel, iets wat Trump glo woedend gemaak het.

Bowendien het Comey verlede week voor ’n senaatskomitee getuig dat Trump druk op hom uitgeoefen het om die ondersoek na die president se eerste nasionale veiligheidsraadgewer, ­Mike Flynn, te laat vaar. As dit waar is, kan Trump skuldig wees aan regsverydeling – en dít is wat Mueller onder die vergrootglas wil plaas.

Die tweede is dat die prokureurs-generaal van die Distrik Columbia (die federale hoofstad, Washington) en die deelstaat Maryland Trump weens onbehoorlike belangeverstrengeling wil dagvaar. Byna 200 kongreslede van die Demokratiese Party doen iets soortgelyks.

Die grondwet bepaal dat ’n president geen geskenke of geld uit die buiteland mag aanvaar nie.

Die grondwet bepaal dat ’n president geen geskenke of geld uit die buiteland mag aanvaar nie. Maar, word gesê, sedert sy verkiesing maak buitelandse regerings teen betaling uitvoerig van sy hotels gebruik. En aangesien hy nie volledig afstand van sy sakeryk gedoen het nie, oortree hy na bewering die grondwet.

Veral die uitbreiding van Mueller se ondersoek kan besonder skadelik vir die president wees. Daar was tot dusver geen greintjie getuienis dat Trump hom persoonlik skuldig gemaak het aan samewerking met die Russe om die verkiesingsuitslag te beïnvloed nie. Nou het die kwessie van regsverydeling bygekom, wat dinge aansienlik kan verander.

Waarnemers wys daarop dat pres. Richard Nixon nie self by die inbraak in die Demokratiese verkiesingskantoor in 1968 betrokke was nie. Maar sy pogings om dit toe te smeer was regsverydeling – en dit sou ongetwyfeld tot ’n amptelike staat van beskuldiging gelei het as hy nie gesien het hoe die wind waai en self bedank het nie.

’n Amptelike beskuldiging teen Trump, as dit ooit sover kom, is egter nog ver weg. Dis ’n politieke proses wat afhang van die politieke magsverhoudinge in die land – en tans slaan die Republikeine die kitaar.

Dit kan laat in 2018 verander as kiesers die Republikeinse meerderheid in die kongres in die tweejaarlikse verkiesing wegvee. En selfs dan sal dit ’n moeilike saak wees.

Intussen raak Trump wel steeds dieper in die moeilikheid.

Meer oor:  Donald Trump  |  Robert Mueller  |  Rusland
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

NETWERK24 Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.