Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Stemme
Marida Fitzpatrick: 'Ja, ek is bevoorreg omdat ek wit is'

Ek wonder soms wat die veiligheidswag dink wanneer ek in die oggende deur die valboom by die werk inry en ons mekaar vinnig met ’n “morning” en ’n glimlag groet.

Marida Fitzpatrick

Daar staan hy in sy warm uniform in die bloedige son, doen ’n sieldodende werk waarvoor hy ’n fraksie van my salaris kry, en hier kom ek vrolik ingery met my Yaris, Taylor Swift op my CD-speler en die lugreëling koel in my gesig. 

Dan waai ons vriendelik vir mekaar, asof hierdie skreiende   ongelykheid tussen ons die normaalste ding op aarde is, asof ons onderskeie situasies bloot die produk van ons moeite en vermoëns is.

Natuurlik is absolute gelykheid ’n onrealistiese ideaal. Niemand in hierdie wêreld word gelyk gebore nie en daar sal altyd iemand wees wat onverdiend beter of swakker daaraan toe is as jy. Dit is dus nie asof ek ’n naïewe utopie voorstel waar almal gelyke kanse en voorregte kry nie. Maar daar is iets anders tussen my en die veiligheidswag  aan die gang as bloot die onregverdigheid van hoe die dobbelsteen val.

Die hoofrede hoekom hy is waar hy is en ek is waar ek is, is die kleur van ons vel. Dit is hoe eenvoudig en kru en skreiend dit is. Nou kan jy sê: Maar daar is al hierdie swart mense met motors en goeie poste en al hierdie wit mense wat werkloos en uitsigloos is. Dit is so, maar die ding is: As jy vandag in Suid-Afrika wit en uitsigloos is, is ditondanks die feit dat jy wit is. En as jy swart en uitsigloos is, is dit weens die feit dat jy swart is.

Dís waar die verskil lê. Dít is wat wit bevoorregting beteken.Dis nie ’n lekker ding om oor te dink of oor te praat nie, veral nie as jy wit is nie, veral nie 20 jaar ná demokrasiewording nie, veral nie met die president en die ANC wat so droogmaak en dan die skuld gedurig op apartheid en soms op wit mense wil pak nie.

Om in hierdie tye te moet hoor jy moet boete doen vir jou wit bevoorregting, maak ’n mens opstandig.

Jy wil dadelik lostrek met: Luister, my lewe is nie ’n piekniek nie. Ek werk blerrie hard om hierdie Yaris af te betaal en my pa het hom sy lewe lank in ’n fabriek afgesloof sodat ek kon swot, my oupa was so arm soos Job se trane en my oumagrootjie was in ’n konsentrasiekamp.En wat van swart bemagtiging en regstellende aksie? wil jy vra. Wat van die black diamonds met die BMW’s en die Mini Coopers? Wat van al die wit kinders met 9 A’s wat nie beurse kry nie net omdat hulle wit is?

Ja, dinge het die laaste 20 jaar baie verander, en ja, die skaal hét in (sekere) swart mense se guns begin swaai. Ja, daar is uitsonderings, maar vir die oorgrote meerderheid is die volgende steeds waar: As jy wit is en ’n goeie opvoeding en werkgeleenthede het, is jy die norm. As jy swart is en ’n goeie opvoeding en werkgeleenthede het, is jy die uitsondering.

Toe ek ’n hoërskoolkind was, het ek en my ma dorp toe gery verby swart mense wat taxi-rank toe gestap het. “Siestog,” het my ma gesê, “hulle wil mos ook wit wees”.

Dit was in 1994, midde-in demokrasiewording, en ek was woedend en verontwaardig oor my ma se opmerking. “Hoe kán ma so iets sê?” het ek gevra. “Hulle wil net so min wit wees as wat ma swart wil wees. Hulle is trots op hul velkleur.”

Maar vandag verstaan ek wat my ma bedoel het. Sy het bedoel daardie mense wou die voorregte hê wat (danksy apartheid) outomaties met wit wees saamkom. As daar nie iets soos wit bevoorregting was nie, sou daardie woorde nooit eens by my ma opgekom het nie.

Dis tyd dat ons dit erken – nie skaamkwaad of verdedigend nie, maar eerlik en ruiterlik: “Ja, ek is bevoorreg omdat ek wit is.”

As ons regtig wil verstaan waaroor #FeesMustFall gaan, as ons in ’n land wil woon waar mense werklik begrip het vir mekaar, vir waar die ander een vandaan kom en hoekom hy is wie hy is, dan móét ons wit bevoorregting begin erken en verstaan.

Dit gaan waarskynlik nie enigiets aan my of die veiligheidswag se lewe verander nie. Maar dit gaan die land verander waarin ons kinders en hul kinders gaan bly, dit gaan húlle verander, en dit gaan iets verander aan die manier waarop ek en hy mekaar elke dag in die oë kyk. 

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.