Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Max du Preez
Max du Preez: Benut krisis en skep ’n beter SA
Max du Preez

Dis ’n te goeie krisis om te mors.

Groot protesaksies, die besetting van openbare ruimtes en militante retoriek maak gewone middelklas burgers senuagtig en die doemprofete floreer.

Die regering en meerderheidsparty trek laer en probeer die aanslag ontlont; opposisiepartye staan bont en probeer munt slaan uit die vloeibaarheid; en die sakesektor maak ywerig plannetjies om sy bates te beveilig.

En dan koel die situasie ’n effe af en die oproeriges verloor stoom. Dis terug na die status quo ante, tot die volgende krisis, wat net erger gaan wees.

’n Mens kan maar net hoop dat Suid-Afrika dié keer anders op die politieke en sosiale omwentelings van die laaste paar weke gaan reageer; dat dié in posisies van mag in die politiek en die private sektor gaan besef dit is dalk die ideale kans om nuut te dink en te sorg dat die land ná die krisis beter daaraan toe gaan wees.

Ons ervaar tans die afsterwe van die post-1994-bedeling en die pynlike geboorte van ’n nuwe orde. Dit is ’n unieke geleentheid om die grondslag vir dié nuwe orde nou te lê eerder as om te wag dat dit deur revolusionêre magte en opportunistiese populiste op ons afgedwing word. Hoeveel slim mense het nie al die afgelope dekade of wat gewaarsku nie dat ons op ’n tydbom sit?

Die meeste van hulle het gewaarsku dat dit die miljoene vrygeborenes gaan wees wat in opstand gaan kom: Die miljoene jong swart mense wat ná 1990 gebore is wat deur die onderwysstelsel in die steek gelaat is en nou sonder werk en sonder hoop in die plakkerskampe sit.

Dit was toe nie hulle nie, maar die jonges wat dit wel deur hoërskool gemaak het en hulle nou op universiteit vir ’n lewe in die middelklas voorberei. Dit was toe nie ’n bloedige opstand nie, eerder ’n militante, maar meestal goed geartikuleerde landwye protes-
aksie. Maar daar is geen sekerheid dat die oproer op universiteite nie na swart skole gaan uitbrei as dit behoorlik georganiseer word nie. Die swart ghetto’s is klaar stomend van frustrasie en woede, dit is net moeiliker vir die heel armstes om nasionaal te mobiliseer.

Julius Malema se EFF het sterk in gewildheid gegroei sedert dit die steun van ’n miljoen kiesers in verlede jaar se verkiesing getrek het. Die EFF, dit weet ons nou, was toe nie ’n verbygaande populistiese verskynsel nie. Om die waarheid te sê, die EFF se verklaarde prioriteit, die skrapping van die klousule oor eiendomsreg in die Grondwet, is besig om grond te wen.

As huidige tendense voortduur, gaan die EFF en die ANC saam meer as 70% steun in die volgende algemene verkiesing trek. En as die ANC se huidige napraat van EFF-retoriek voortduur, kan ons aanvaar dat die eiendomsklousule in die Grondwet geskrap gaan word.

Dit gaan katastrofiese gevolge vir die ekonomie en stabiliteit hê. Ons moet nou alles in die stryd begin werp om ’n klimaat te voorkom waarin dit kan gebeur.

As die ANC en die regering nie soveel strydende faksies gehad het nie en die leierskorps meer respek afgedwing het, sou hulle die komende weke en maande gebruik het om ’n behoorlike bestekopname te doen en nuwe strategieë uit te werk.

Maar ons moenie weer net op die regering wag om die leiding te neem nie. Die sakesektor, akademici, opposisiepartye, openbare intellektuele en beroepslui moet uit hul slaap wakker word. Daar is nog ruimte om die onsekerheid en soepelheid wat die huidige krisis meegebring het te gebruik om nuwe oorlewingstrategieë uit te werk.

Ons kán nog ’n beter Suid-Afrika as die 2015-model bewerkstellig as ons nie weer uitstel en gerus word nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.