Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Max du Preez
Max du Preez: Wat lê anderkant ras?
Steve Biko op die voorblad van die tydskrif Drum van November 1977 .

Bla bla bla, is my reaksie elke keer wanneer ’n ANC-politikus die ou rympie begin van die “demokratiese, nie-rassige, nie-seksistiese” gemeenskap waarvoor hulle kwansuis stry.

Oor die “demokratiese” en “nie-seksistiese” kan ’n mens maar net snork en jou oë rol.

Dit bring ons by nie-rassigheid, neergelê as ’n basiese waarde van ons demokrasie in Artikel 1 van ons Grondwet.

Kom ons besin eers oor wat nie-rassigheid nié is nie.

Dit beteken nie dat ons nou die sosiale werklikheid van rasgebaseerde identiteite kan ontken nie. Dit is al te lank met ons om dit nou te probeer ignoreer.

Dit beteken nie dat apartheid en die impak daarvan nou net ’n slegte herinnering is en dat ons almal nou kan inhaak en al “Kumbaya”-
singend die toekoms saam inloop nie. Daar lê nog skerp en onaangename gesprekke vir ons voor.

Nie-rassigheid beteken nie ons moet ophou besin oor wit bevoorregting, paternalisme en die bewuste of onbewuste houding van soveel wit mense dat wit en Westers die norm is nie.

Nie-rassigheid is nie per se in botsing met die beginsel (let wel, ek sê die beginsel) van regstellende aksie en swart ekonomiese bemagtiging nie. Dit ondermyn ook nie multi-kulturalisme nie.

So wat is dit dan en hoe manifesteer dit?

Sy “verheerliking” van swart-wees was net in reaksie op wit meerderwaardigheid en onderdrukking.

Ek dink die essensie van nie-rassigheid is ’n erkenning dat ras ’n sosiale konstruksie en nie ’n geldige biologiese entiteit is nie.

Mense het nie sekere houdings of gedagtepatrone of gedra hulself op sekere wyses omdat hulle van ’n sekere “rassegroep” is nie – as daar sulke patrone is, dan is dit ’n gevolg van sosialisering, kultuur en geskiedenis. Nie-rassigheid is die strewe na ’n Suid-Afrika waar ons eendag met oortuiging sal kan sê dit is betekenisloos om etikette soos swart, wit, kleurling of Indiër te gebruik om mense te identifiseer. ’n Ideaal, dus, ’n droom wat sekerlik nie in my leeftyd volledig gaan realiseer nie. Dalk nooit nie, maar ons kan, ons móét, naby daaraan kom.

Dit alles beteken jy kan nie twee dekades ná 1994 rondom ras mobiliseer of ’n ras-chauvinis wees en jou terselfdertyd op nie-rassigheid beroep nie.

Julius Malema se Economic Freedom Fighters is die duidelikste voorbeeld van ’n party wat die beginsel van nie-rassigheid in die praktyk geheel en al verwerp.

Solidariteit, AfriForum en die Vryheidsfront Plus sal waarskynlik redeneer dat hulle kultuur en taal, eerder as ras, as grondslag vir hul mobilisering gebruik, maar enige aanspraak op nie-rassigheid uit dié oord gaan met groot agterdog bejeën word.

Die Demokratiese Alliansie het dalk die sterkste aanspraak om homself ’n nie-rassige party te noem, maar baie Suid-Afrikaners vermoed steeds dat dit ’n jakkalsdraai is om swart steun te werf sonder om van wit bevoorregting afstand te doen.

En die ANC? Oudpres. Kgalema Motlanthe, ’n Robbeneiland-graduandus, het dié week in ’n onderhoud gesê nie-rassigheid is inderdaad ANC-beleid, maar die party het dit nie “geïnternaliseer” nie en dit word nie meer in die ANC se houdings en uitsprake gereflekteer nie.

Hy het die manier waarop parlementslede van die ANC die swart lede van die DA as uitverkopers en handlangers van wit mense uitkryt, as voorbeeld genoem.

Motlanthe kon maar verder gegaan en erken het dat die ANC nou terug by sy vroeë wortels as ’n swart nasionalistiese party is.

Die EFF en ander radikale politieke drukgroepe beroep hulle deesdae op Steve Biko om hul skerp anti-wit retoriek te regverdig en nie-rassigheid te verwerp. Maar Biko het nie-rassigheid gepredik lank vóór die ANC dit gedoen het.

“Daar is net een ras, en dit is die menslike ras,” het hy al vier dekades gelede gesê. “Ons voorsien ’n heeltemal nie-rassige samelewing, met geen meerderheid en geen minderheid nie.”

Is dit ’n teenstrydigheid – Biko was immers die hoofprofeet van die Swart Bewussyn? Nee, nie as jy hom reg verstaan nie. Hy wou hê swart Suid-Afrikaners moes hulself eers volledig emansipeer – geestelik en polities – sodat hulle dan, in sy woorde, die wit man kan nooi om saam as gelykes om die tafel te sit. Dán kan ras begin verdwyn. Sy “verheerliking” van swart-wees was net in reaksie op wit meerderwaardigheid en onderdrukking. (En onthou, hy het sewentien jaar voor die val van apartheid gesterf.)

So, die stryd om nie-rassigheid kan net vorder as rasmobilisering afneem, wit rassisme en afsondering verdwyn, en pasgeborenes se toekoms nie meer deur hul ras bepaal word nie.

* Luister hier na Biko oor nie-rassigheid: http://m.polity.org.za/article/steve-biko-talks-on-non-racialism-archive-2015-06-18.

* Max du Preez is ’n joernalis, skrywer en politieke kommentator.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.