Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Max du Preez
Max du Preez: Verlede verdien groter nuanse

Die ANC se huidige ras-waansin begin gevaarlik raak. Dit ondermyn die werklike stryd teen rassisme en herinner ongemaklik aan die kakkerlak-strategie waarvan ons die gevolge in 1994 in Rwanda sien afspeel het.

Week ná week word die retoriek meer ekstreem en dreigend en die klimaat plofbaarder.

Die woeste goed wat gewone heethoofde in die sosiale media sê, is een ding. Dit is anders as senior figure in die regerende party die vure stook.

En hier in die middel van die krisis kom AfriForum met ’n kru anti-ANC-propagandaprent, Tainted Heroes, wat ’n groot deel van die waarheid oor die geweld in die laat 1980’s en vroeë 1990’s doelbewus ignoreer en eintlik net aan sy wit volgelinge wil sê: Kyk hoe barbaars is die swart mense. Dit is net so roekeloos. Red nou ’n nasie met sulke opportuniste van alle kante!

Ja, swak regering, vrot bestuur en korrupsie is ook bedreigings, maar dit is dom en oneerlik om dit as rede vir die rassisme aan te voer.

Dit sal dalk van die wit lesers hier irriteer, maar dit help nie om suiker om dié pil te sit nie: Wit rassistiese houdings is nie net verkeerd nie, dit is ’n bedreiging vir ons stabiliteit. Ja, swak regering, vrot bestuur en korrupsie is ook bedreigings, maar dit is dom en oneerlik om dit as rede vir die rassisme aan te voer. Maar om ras en rassisme sinies vir partypolitieke gewin te misbruik, maak die stryd teen rassisme net moeiliker.

Die ANC gebruik nou veral sy jeug­liga en van sy apparatsjiks, soos die parlementêre woordvoerder Moloto Mothapo, om die rasgif te saai.

Nou is ’n DA-LP wat haar langs ’n foto van Paul Kruger laat afneem het volgens Mothapo ook ’n bose rassis en apologeet vir apartheid. Want Kruger was ’n “bloeddorstige, rassistiese heerser” en “skuldig aan massamoord en marteling”. Hy was ’n “moordmasjien” wat swart mense in die Anglo-Boereoorlog ter dood veroordeel het – ’n oorlog wat “swart onderwerping, slawerny en koloniale plundering” ten doel gehad het, sê Mothapo. Nie ’n woord oor Britse imperialisme en aggressie nie. Ek weet nie of Mothapo onkundig of moedswillig is nie, maar hy is nie dom nie. Die probleem is dat soveel ander sommer sy weergawe aanvaar en Kruger nou saam met Eugène Terre’- Blanche klassifiseer.

Iemand moet maar probeer om rustig aan dié mense te verduidelik dat Suid-Afrika in die 19de eeu deur ’n proses van nasie- en staatbou gegaan het en dat dit, soos elders ter wêreld, gewoonlik die gewelddadige onderwerping van ander groepe behels het. Daar was Shaka van die Zoeloes, Mzilikazi van die Ndebeles, Sekwati van die Pedi’s, Moshoeshoe van die Sotho’s, Sobhuza van die Swazi’s, ens. Ek het al heelwat en heldevererend geskryf oor die Tlokwa-leier Mantatisi van dié era – ’n duikboot is na haar genoem – wat eintlik net daarvoor bekend is dat sy haar clan teen aanvallers verdedig en ander uitgewis het.

Kruger moet as deel van dié era beskou word. Ja, Kruger en die Boere van die ou Transvaal en Vrystaat was ietwat anders, maar ook nie só anders nie – tensy ’n mens hulle (en hul nasate) beskou as ongewenste immigrante wat nie in Afrika hoort nie. (Is dit die sleutelvraag?)

Die geliefde Amerikaanse “Founding Fathers” George Washington, Thomas Jefferson en Benjamin Franklin was slawe-eienaars wat die inheemse mense se grond afgevat het. Kruger se ampsgenoot in Amerika in 1901 was Teddy Roosevelt, wat gesê het die enigste goeie Indiaan is ’n dooie een. In Au­stralië was dit Edmund Barton, wat die “White Australia Policy” ingevoer het. Mohandas Gandhi het swart Suid-Afrikaners in 1903 k*****s genoem.

Ons moet heelwat meer genuanseerd met die verlede omgaan.

  • Du Preez is ’n kommentator.

Meer oor:  Paul Kruger  |  Afriforum  |  Anc  |  Rassisme
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.