Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
10 vrae aan Wannie Carstens: sy droom vir Afrikaans
Die Afrikaanse Taalraad het prof. Wannie Carstens onlangs met ’n Koker-toekenning in Potchefstroom beloon vir sy rol in die bevordering van Afrikaans. Hy praat met Willemien Brümmer oor Afrikaans se grootste vyand en sy droom vir dié taal.
Prof. Wannie Carsens

Wat beskou jy as die enkele grootste vyand van Afrikaans?

Ons eie Afrikaanse mense wat begin moed verloor oor Afrikaans en begin oorgaan na Engels.

Hoe kry jy tyd vir al die rade waarvan jy voorsitter is?

Gelukkig is ek nou klaar met die meeste hiervan, maar dit was by tye moeilik om by alles uit te kom. Tydsbestuur was van kernbelang, en baie koffie . . .

Wat is jou droom vir Afrikaans?

Dat die Afrikaanse mense van 2064 Afrikaans steeds sal beskou as húlle unieke taal, as die taal waarin hulle hul menswees kan uitleef, as die taal waarin hulle skoolgaan en hulle tersiêre opleiding ontvang.

Dink jy mense soos Steve Hofmeyr bevorder Afrikaans?

Hy versinnebeeld ongelukkig daardie element wat ons nie meer met Afrikaans geassosieer durf hê nie: Aggressie, uitsprake wat moontlik as rassisties vertolk kan word. Een so ’n uitspraak sit ons ver terug op die pad van versoening.

Wat beteken die Koker-toekenning vir jou?

Dit is openbare erkenning vir werk wat ek al meer as twaalf jaar in die stilligheid (“agter die skerms”) verrig het. Dit maak daardie lang ure op die pad en die talle taai gesprekke oor taal en politiek die moeite werd. En dit beteken ook dat die versoeningsproses waaraan ek my toewy, die regte pad is om te loop.

Het Afrikaanse koerante volgens jou die staanplek vir Afrikaanse universiteite benadeel met hul hantering van die Heil Hitler-voorval by die Pukke?

Ja, absoluut! Afrikaans is betrek by ’n saak waarmee dit niks te doen gehad het nie en het hierdeur ’nʼngeweldige beeldknou weg. Soms moet daar dieper gedink word oor die effek van beriggewing.

Frustreer die banale lirieke in sommige ligte Afrikaanse liedjies jou, of is daar vir elkeen ’n plekkie in die son?

My pa het altyd gesê: Enigeen het die reg om ’n gek van homself te maak . . . Sommige mense doen dit werklik met hul lirieke, en ander weer nie.

Hoe kan bruin kinders weer aangemoedig word om Afrikaans te wíl praat?

Die bruin gemeenskap is die mees afgeskeepte groep wat verdere opleiding in Suid-Afrika betref, en as ons die deure van universiteite en kolleges in Afrikaans vir hulle kan oopmaak, gaan daar groot groei kom.

Dink jy die Akademie vir Wetenskap en Kuns sal ooit heeltemal sy apartheidsverlede ontgroei?

Ja, ek dink so. Ek glo ook dat die akademie die afgelope drie jaar onder my leiding ’n groot stap in daardie rigting gegee het. Daar is egter nog baie werk voor, maar daar is besliste vordering.

Hoe kan die gewone man op straat Afrikaans bevorder?

Praat die taal, koop die boeke, steun Afrikaanse inisiatiewe, stuur julle kinders na Afrikaanse skole, dring aan op tersiêre onderrig in Afrikaans. Dus: Moenie moed verloor met Afrikaans nie.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.