Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
‘16 dae van aktivisme’ beteken dan niks

Geslagsgeweld gaan nie end kry voordat daar anders oor vroue gedink word en seksisme trompop gekonfronteer word nie, skryf Jana Marx.

’n Veelseggende plakkaat tydens ’n betoging teen geslagsgeweld einde verlede maand in Kaapstad. Foto: Gallo Images

“Die blonde bom van Netwerk24!” groet die omroeper my toe ek by die ateljee aankom.

“Jy sal dit nou nie glo nie, maar ek’s slimmerig ook,” mompel ek, waar ek regskuif vir die onderhoud oor my grusame waremisdaadboek wat vroeër vanjaar die winkelrakke getref het.

Hy het dit gehoor. Hy lag. Ek glimlag nie eens nie. Ek het nie probeer om snaaks wees nie.

“Gebeur dit baie dat jy so vinnig reageer?”

Hy het nie my ongemak opgemerk nie; ek het hom net onkant betrap.

“Nee . . . ”

Dit was ’n leuen. Die man is toondoof vir wat hier aangaan en ek het nie die energie om my ongemak te probeer verduidelik nie.

Die skade was gedoen. Teen teetyd het ek al allerlei naampies soos 'Poplap' gehad. Een onbekende dominee wou ’n foto saam met my neem. Sal ek op sy skoot sit?

’n Ruk voor hierdie onderhoud, wou iemand met ’n ander professionele afspraak weet of ek “darem” voel mense neem my ernstig op.

Die pouse was seker te lank of hy het gedink my blonde kop verstaan nie mooi nie, want hy verduidelik toe: “Ek bedoel, neem mense jou ernstig op as jy soos ’n modepop lyk?”

Ek het ’n swart langbroek aangehad wat ek hof, kerk en begrafnis toe dra, en ’n bloes met blompatrone wat tot by my nek toeknoop. My lang hare was los en reguit, soos altyd. As ek geweet het hoe om iets – enigiets anders – met my hare te doen, het ek. ’n Modepop? If only.

Maar ek behoort nie voorkoms te verduidelik nie. Dis in die eerste plek nie veronderstel om die aandag af te lei van my professionele doen en late nie.

’n Paar jaar gelede woon ek een van die Afrikaanse kerkgroepe se sinodesittings by.

Ek het teologie studeer wat my ’n voorsprong gee wanneer dit by kerksake kom. Maar ek is op grond van my voorkoms welkom geheet en as ’n nagedagte: “ . . . en sy werk vir die koerant”.

Tientalle dominees het nog omgekyk. Hulle het seker gedink dis vir my ’n groot kompliment, maar dit was nie. Ek het afgekyk om die loeroë te ontsnap. Die bloed het eers teen my wange en toe tot by my ore gekruip.

Die skade was gedoen. Teen teetyd het ek al allerlei naampies soos “Poplap” gehad. Een onbekende dominee wou ’n foto saam met my neem. Sal ek op sy skoot sit? “Uhm, hoekom?” Nee, net sommer. Ek het omtrent oor my voete geval soos ek probeer wegkom.

Om anders te begin dink

Die Gauteng-regering het ook op 25 November sy 16 dae van aktivisme teen geslagsgeweld en geweld teen kinders afgeskop. Foto: Getty Images

Op 25 November het die regering sy jaarlikse 16 dae lange veldtog teen geslagsgeweld en geweld teen kinders afgeskop.

Pres. Cyril Ramaphosa het met die aankondiging van dié veldtog gesê die Suid-Afrikaanse vlag hang halfstok ter nagedagtenis aan dié wat hul lewens verloor het aan twee pandemies – Covid-19 en geslagsgeweld.

Op dieselfde dag het die ANC in Mpumalanga sy besluit verdedig om ’n voormalige LUR in dié provinsie wat van die verkragting van twee kinders aangekla word, weer in sy provinsiale uitvoerende komitee aan te stel. Die man is op borgtog vrygelaat.

En dít is presies die probleem: Die regering kan vir jare aaneen veldtogte teen geslagsgeweld voer, maar geweld sal nie afneem voordat daar nie ’n totale kultuurskuif onder Suid-Afrikaners plaasgevind het nie.

’n Nuwe narratief oor vroue moet dan ontstaan wat neerslag moet vind in onder meer ons taalgebruik.

Dit moet begin met ’n kopskuif weg van patriargie.

’n Nuwe narratief oor vroue moet dan ontstaan wat neerslag moet vind in onder meer ons taalgebruik, in die soort groepe en mense wat ons op Facebook volg en in die grappe wat ons vertel en op WhatsApp rondstuur.

Op regeringsvlak sal daar strenger opgetree moet word teen dié wat van geslagsgeweld beskuldig word.

Politici word deesdae vir weke of maande geskors hangende ondersoeke na korrupsie, maar ondersoeke na aanranding of geslagsgeweld ontwrig blykbaar niemand se lewens behalwe dié van die slagoffer of klaer nie.

’n Strafhof waar iemand vir ’n seksuele misdryf vervolg word, word ’n foltering. Asof die dade wat tot die hofsaak gelei het, nie skreiend genoeg is nie, hoor die slagoffer oor en oor hoe sy lieg, die dade “verwelkom” of “aangemoedig” het of sy sien hoe haar hele lewe oopgevlek word in ’n poging om haar te diskrediteer. Als omdat sy dit “durf waag het” om ’n saak aan te gee.

Konfronteer seksisme

Stilbly is lankal nie meer ’n oplossing vir geslagsgeweld nie, sê die plakkate van dié betogers teen geslagsgeweld. Foto: Gallo Images

Ek dink aan ’n vooraanstaande politikus wat weens aanklagte van seksuele misdrywe geskors is, weer in sy pos aangestel is en later weens “politieke druk” wéér geskors is. Dis vir my irrelevant dat hy weer geskors is. Hy moes in die eerste plek nie toegelaat gewees het om terug te gaan werk toe voordat die saak nie afgehandel is nie – dis nou as hy nie in die tronk beland nie.

Stel jou voor ’n verkragte kind het uiteindelik die moed bymekaar geskraap om iemand te vertel wat hierdie man na bewering aan hom of haar doen. Die man beland voor die hof, maar die volgende oomblik kry hy borgtog. Daardie borgtogpapiere is skaars onderteken, of die man is terug by die werk asof niks verkeerd is nie. Ek wil nie eens dink watter vrees en emosies van waardeloosheid daardie kind beleef nie.

As vroue het ons ook ’n plig om seksisme trompop te konfronteer.

Watter boodskap kry jong seuns of mans? Dat jy in hierdie land kan verkrag en oukei sal wees, as jy net belangrik genoeg is, genoeg geld het en mense in die regte poste ken?

As vroue het ons ook ’n plig om seksisme trompop te konfronteer.

Ek moes myself daar en dan uit die kerkvergadering verskoon het. Ek moes myself ook uit die afsprake verskoon het. Ek het nie, want ek het onmiddellik gedink: Dalk oorreageer ek? Niemand gaan my tog glo nie? Dit is seker nie so erg nie? En dan: Hier word tog nou nie ’n misdaad gepleeg nie?

Patriargie is so deel van die wêreld waarin ons grootword en leef dat enige ongemak daaroor instinktief verkeerd voel. Maar deur ons stilswye maak ons vroue die wêreld vir toksiese mans ’n baie gemaklike plek.

Vroue moet nie geslagsgeweld alleen beveg

Jana Marx

Ek hoor al klaar die #AllLivesMatter-brigade: “Alle mans is nie so nie!” ’n Paar mevroue wat graag onder hul belangrike mans se titels bekend wil staan, roep: “Akkoord!”

Dis nie die punt wat ek wil maak nie.

Ek gaan saamstem met Thandi Modise, speaker van die Nasionale Vergadering, wat in ’n verklaring van die parlement gesê het: “Ons kan nie die feit ignoreer dat geslagsongelykheid die gevolg is van patriargie nie. Dit is die primêre rede vir geslagsgeweld. Vroue moet nie alleen geslagsgeweld beveg nie. Mans moet ook deel wees van die oplossing.”

Alle mans moet deel wees van die oplossing. Elke liewe een. Solank die oortuiging heers dat vroue net nog nie heeltemal “daar” is – ’n man se gelyke is – nie, sal vroue sagte teikens vir geweld bly.

Ramaphosa is reg wanneer hy sê dat geslagsgeweld ’n tweede pandemie is.

En die “virus” wat dit veroorsaak? Patriargie.

Suid-Afrika het ’n ernstige probleem wat nie deur politieke foefies soos veldtogte van 16 dae opgelos sal word nie. Ons kort nie bewusmakingsveldtogte oor die “pandemie” nie. Ons beleef dit reeds daagliks. Ons het eerder ’n entstof teen hierdie “virus” nodig.

*Marx is Netwerk24 se diepteverslaggewer. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Meer oor:  Thandi Modise  |  Cyril Ramaphosa  |  Geslagsgeweld  |  Seksisme
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.