Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
1899: ‘Kill the Dutchmen! Kill the bast . . !
Fransjohan Pretorius

Vandag 121 jaar gelede, op 21 Oktober 1899, het die Boere onder genl. Jan Kock ’n ernstige nederlaag by Elandslaagte­stasie, noordoos van Ladysmith in KwaZulu-Natal, aan die hand van genls.maj. John French en Ian Hamilton gely. Dit was tien dae ná die uitbreek van die Anglo-Boereoorlog.

Kock het te ver suid inbeweeg en is van die hoofmag afgesny. Ná die Britse oorwinning by Talana (Dundee) die vorige dag, het lt.genl. White vir French beveel om die gebied rondom Elandslaagte skoon te vee.

Van French se mag van 3 500 man was een derde lansiers (ruiters met skerppuntlanse) en die res infanterie, met 18 kanonne. Kock het 800 man gehad – die Johannesburg-kommando onder kmdt. Ben Viljoen, die Duitse korps onder kmdt. Adolf Schiel en die Hollanderkorps onder kmdt. Jan Lombard, met twee kanonne.

Ná ’n vroegoggend bombardement het die 5th Lancers en die Imperial Light Horse die Boere se linkerflank bestorm. Teen 14:30 het hulle die voorste Boere teruggedruk na hul hoofmag, suid van Elandslaagte-stasie. Noord van die spoor het die Duitse korps die 5th Dragoon Guards se aanval goed weerstaan, totdat Kock hulle teen 15:30 beveel het om die hoofmag te kom ondersteun, wat deur die Britse infanterie onder Hamilton bedreig is. Ná ’n halfuur se bombardement het die infanterie teen 16:30 die Boere se hoofmag aangeval – die Devon­shires links en die Manchesters en Gordon Highlanders regs, met ruitersteun weerskante.

Die meeste Boere-ongevalle het in dié aanslag voorgekom. Omtrent 38 Boere het gesneuwel en 113 gewondes is krygsgevange geneem.

Die Boere het hardnekkig weerstand gebied, totdat ’n hewige donderstorm losgebars het. Toe het hul weerstand begin knak en het die burgers hul stellings op ’n heuwel in die sentrum begin verlaat. Teen 18:00 het Hamilton met versterkings die Britse vuurlinie aangevul. Dit het die Boere-weerstand in die sentrum finaal laat verkrummel.

Teen 17:30 het maj. Gore met die 5th Dragoons en die 5th Lancers op die linkerflank in beweging gekom en van die Boere wat oor die spoor in ’n noordelike rigting aan die vlug was, in ’n verskriklike agtervolging met hul lanse deurboor.

Die meeste Boere-ongevalle het in dié aanslag voorgekom. Omtrent 38 Boere het gesneuwel en 113 gewondes is krygsgevange geneem. Agt man is aan hul wonde dood, onder andere genl. Kock. Nog 185 ongewonde Boere is na St. Helena gestuur.

Die Duitse en die Hollanderkorps het swaar verliese gely. Die korpse is ontbind en die oorlewendes het by ander Boerekommando’s aangesluit. Die Britse verliese was 263 offisiere en manskappe – 50 het gesneuwel en 213 gewond.

Hartseer is die verhaal van dr. Herman Coster. Toe hy in 1897 as staatsprokureur van die ZAR bedank ná ’n onderonsie met pres. Paul Kruger, het dié vir hom gesê: “As die oorlog kom, vlug julle Hollanders terug Holland toe.”

Coster het getrou gebly aan die Boeresaak en as luitenant van die Hollanderkorps by Elandslaagte gesneuwel nadat hy ’n wit vlag afgeruk en uitgeroep het: “Neen, liever sterven!”

Vir die res van die oorlog was die Boere lugtig vir die lansiers. L.C. Ruissenaers onthou rillend van die lansiers by Elandslaagte: “Ze schreeuwen maar aldoor: ‘Kill the bl . . . Dutchmen! Kill the bast . . !’ ”

  • Prof. Pretorius is ’n geskiedkundige van Pretoria.
Meer oor:  Fransjohan Pretorius  |  Oorlog  |  Geskiedenis
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.