Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
1918 se Groot Griep: ‘Soos die end van die mensdom’

Die Spaanse Griep of Groot Griep van 1918 – hierdie maand 100 jaar gelede – was een van die dodelikste rampe in die mensdom se geskiedenis. Dit het in die laaste jaar van die Eerste Wêreldoorlog toegeslaan, oor die aardbol versprei, en was vir miljoene sterftes verantwoordelik. Suid-Afrika is besonder swaar getref.

John Dafel, oupa van die skrywer, wat in die Babanango-distrik in die destydse Natal talle siekes ondersteun het, voordat hy self op 18 November 1918 oorlede is.

“Spaanse Griep” is ’n foutiewe benaming. Dit het nie in Spanje ontstaan nie. Spanje was neutraal gedurende die oorlog en sy koerante kon vryelik oor die epidemie berig. Die epidemie het blykbaar in 1917 in China uitgebreek en versprei toe van sy arbeiders op die Europese front gaan diens doen het.

Die terugkeer van Suid-Afrikaanse soldate en arbeiders het plaaslik tot die epidemie gelei. Daar was twee golwe. Die eerste het vroeg in September 1918 in Durban begin, vanwaar dit na die res van Natal en die Witwatersrand versprei het. Die tweede, meer venynige golf, het Kaapstad op 13 September bereik, en binne ses weke na die res van die Kaapprovinsie, die Vrystaat en Wes-Transvaal versprei.

Dit het vinnig per spoor en pad uitgewaaier. Honderde duisende mense is neergevel, en die ekonomie is feitlik tot stilstand gedwing. Mense van alle lae van die samelewing is getref. Howard Phillips, ’n kenner van die onderwerp, vertel: “Throughout the Union communities were stretched to breaking point as they struggled to continue functioning in the face of this withering onslaught on their inhabitants.”

In die – meestal swart – dorpe wat die ergste getref is, het lyke ure lank in die strate gelê totdat hulle op muilwaens na begraafplase vervoer is, waar massagrafte haastig gegrawe is om die verbysterende getal dooies te hanteer. By gebrek aan kiste is talle net in komberse toegedraai. Iemand het opgemerk: “Dit het vir my gesmaak of die end van die mensdom daar was.”

Die siekte het minder vroue as mans (wat meer aktief was) aangeval, en die meeste ongevalle was in die ouderdomsgroep 15 tot 40, moontlik omdat die ouer groepe reeds immuun was vanweë vroeëre epidemies of omdat die jonges aktief gebly het as hulle die griep net ligweg onder lede gehad het.

Volgens die Influenza Epidemic Commission in Februarie 1919 was die amptelike getal sterftes in Suid-Afrika 139 471, waarvan 11 726 wit mense was. Phillips aanvaar die syfer vir wit mense, maar reken dat die getal swart sterftes heelwat meer was – waarskynlik het soveel as 300 000 Suid-Afrikaners omgekom, waarvan sowat 288 000 swart mense was. Indien mens die syfers vir ander lande as korrek aanvaar, beteken dit Suid-Afrika het die vyfde meeste sterftes opgelewer.

Op ’n sosio-sielkundige vlak het die epidemie vir Afrikaners gekom ná die bittere lyding in die Anglo-Boereoorlog en die 1914-Rebellie, verstedeliking en die armblanke-probleem. Vir swart mense was daar die verdelende Wet op Naturellegrond van 1913, hul verstedeliking en verarming.

Daar was ook die onberekenbare negatiewe effek op families wat dierbares verloor het. Soos my moeder, wat op ouderdom tien maande haar vader verloor het – hy, John Dafel, wat menige ander in die distrik gehelp het voordat hy self slagoffer geword het.

Meer oor:  Terugblik
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.