Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
1994 het onreg net herstel
Steve Hofmeyr sê in ’n onderhoud hy “was een van Max du Preez se kinders”, maar dat hy lankal nie meer liberaal is nie. Die voormalige redakteur van Vrye Weekblad reageer.
Steve Hofmeyr verlede jaar by ’n musiekfees by die Voortrekkermonument in Pretoria.­Foto: Lisa Hnatowicz

‘Op hierdie ouderdom stick ek by wat my eie is,” sê Steve Hofmeyr laas week in ’n onderhoud met By.

Dis vir my ’n interessante verskynsel, dié dat party mense se denke en houdings verstar en hulle wêrelde kleiner word as hulle ouer word.

’n Mens sou dink dit behoort andersom te werk: hoe meer ’n mens te wete kom, hoe meer ’n mens sien en ervaar, hoe meer mense jy ontmoet, hoe oper behoort jou kop en hoe breër jou horisonne te word.

Hofmeyr is nie die enigste een met wie dit gebeur het nie. Ek kan die name van ’n hele paar van my Afrikaanse vriende en kennisse noem wat ná ’n relatief progressiewe, vrydenkende lewe al meer reaksionêr en bitterbek geword het.

Dis amper asof daar ’n veronderstelde doktrine is dat mense oor 50 wat nie sinies, onverdraagsaam en regserig is nie, nie regtig volwasse geword het nie.

Die herstel van ons swart landgenote se menswaardigheid . . . was doodgewoon die regte ding om te doen, moreel gesproke en om ons as Afrikaners se vreedsame voortbestaan in die land wat ons liefhet, te verseker.

En as jy boonop effens verlig of andersdenkend in jou jeug was of dalk ’n keer of wat apartheid veroordeel het, het jy ’n spesiale lisensie om ná 50 ’n onvergenoegde, reaksionêre ou drol te mag wees.

Dit kan maar koud en eensaam vir ’n Afrikaner wees om deur sy/haar volk verwerp en as ’n hensopper of ’n verloopte gebrandmerk te word.

In die dae toe daar nog ’n “saak” was, toe die swart mense hul plek moes ken en toe ou PW se vinger nog in ons gesigte geswaai het, was dit nog draaglik en hervormingsgesindes het hul rebelse baadjie met trots gedra. Maar in die tyd dat Thabo Mbeki met sy “colonialist of a special kind”-twak begin het, het dié baadjie uit die mode begin raak.

Ons was dan aan julle kant, was die argument, en nou spoeg julle ons uit.

Skielik, soos dié ontnugterdes begin om die ANC te kritiseer, word hulle weer deur die Afrikaner-establishment omhels. En o, hoe lekker is dit om weer in die boesem van die volk gekoester te kan word! Slag die gemeste kalf!

Dié verskynsel word natuurlik aangehelp deur die rasbeheptheid, onbeholpenheid en korrupsie van ons huidige regerende party.

Ek het dit al in verskeie variasies gehoor – Hofmeyr noem dit “ontnugterd”: Ons was teen apartheid, maar kyk wat het die swartes nou met die vryheid gemaak wat ons vir hulle gegee het. Ai, dié mense kan maar net nie ’n demokrasie en ’n moderne ekonomie bestuur nie  . . .

Ek hoor die koor deesdae elke dag: ons is moeg gekruip; ons is gatvol vir skuldig en skaam voel; ons het nou genoeg ekskuus gevra en handjies gevrywe; los nou die verlede uit; ons wil nou weer trots wees en dit sê.

Heil Steve, hy’t die moed om dit van die dakke af te skreeu en die volkslied van apartheid op konserte te sing.

Ek kruip voor niemand en het nog nooit nie, nie voor die Broederbond, PW Botha se meedoën­lose masjien, Engelse geld, die ANC, die regering, die Jacob ­Zuma-kliek, die Malemas en ander swart nasionaliste nie. Ek voel nie skuldig en skaam nie, ook nie oor my wit vel of Afrikaner-wees nie.

Maar ek maak nie asof Suid-Afrika skielik uit die niet in 1994 ontstaan het nie. Ek sluit nie my oë en ore vir die diep letsels wat die eeu van onreg op die meeste Suid-Afrikaners gelaat het en die impak wat dit nog steeds het nie.

Heil Steve, hy’t die moed om dit van die dakke af te skreeu en die volkslied van apartheid op konserte te sing.

Juis omdat ek ’n Afrikaner is, kan ek die sensitiwiteite, gebrek aan selfvertroue (selfs minderwaardigheidskomplekse), frustrasies en aspirasies van ons swart landgenote beter raaksien. Ek gaan nooit my bek hou nie, maar ek gaan ook nie met kapstewels tussen hulle invlieg en vertel hoe hulle hulself moet regruk as ’n ras nie.

Hofmeyr gaan egter ’n stap verder. Wit Suid-Afrikaners moes nooit ’n politieke skikking met die swart meerderheid beding het nie, want hulle moes eintlik nee gestem het in die 1992-referendum wat die onderhandelinge gesanksioneer het: “My ja-stem was ’n dolk in die rug van die minderheidsgroepe in hierdie land, veral die Afrikaner.”

En dan, verstommend, dít: “Ek dink om alleen-heerskappy op te gee is ’n gróót opoffering. Die res? Wat het hulle opgeoffer?”

En: “ ’n Liberale ou dink die bevoordeling in daardie dae [apartheidsdae] was ten koste van ander. Ek dink dit was welverdiend.”

Goeie genade. Wit mense het verdien om baas te speel en vooruitstrewend te word, en swart mense moes net sê dankie, my baas, vir ’n ou joppie, wil die baas nie gou kyk of my pas in orde is nie?

Ek was ’n voorgestoelte-getuie van die ernstige politieke en ekonomiese krisisse van die tagtigerjare en van die onderhandelinge wat tot die 1994-verkiesing en die skryf van ons Grondwet gelei het. Oor twee sake het ek geen swympie twyfel nie.

Goeie genade. Wit mense het verdien om baas te speel en vooruitstrewend te word, en swart mense moes net sê dankie, my baas, vir ’n ou joppie, wil die baas nie gou kyk of my pas in orde is nie?

Een: Ons het ’n uiteindelike burgeroorlog vermy wat soos dié in Sirië kon gelyk het, tienduisende lewens sou gekos het en almal, ook (en dalk veral) die Afrikaner wat nie sou kon bekostig het om te emigreer nie, plat te slaan soos laas met die Anglo-Boereoorlog gebeur het.

Twee: Ons Grondwet met sy handves van menseregte is die heel, heel beste waarop die minderheidsgroepe kon gehoop het. Op die keper beskou, het die werklike kompromisse, soos die eiendomsklousule, eintlik net van ANC-kant gekom.

Maar apartheid moes ook om morele redes beëindig word. Dis insiggewend dat Hofmeyr sê wit mense se opoffering was om “alleen-heerskappy” prys te gee. Die HAT sê heerskappy beteken “oppermag” of “oorheersing”.

Onderdrukking, dus. Die Afrikaner se duur opoffering was om op te hou om ander te onderdruk?

Die oordrag van mag in 1994 was nie ’n opoffering nie. Dit was bloot die herstel van onreg. Dit was bloot die ongedaan-maak van ’n vroeëre wandaad. Die enigste “opoffering” wat wit mense in 1994 gemaak het, was om van hul ongeregverdigde bevoordeling prys te gee, en dit sonder om juis ’n materiële prys te betaal.

Hofmeyr en talle ander soos hy, is vandag ’n miljoenêr, wat hy nie in 1994 was nie.

Jy doen net jou eie bankbalans ’n guns, Steve

Hier is die kern van die saak, my vriend Steve. Al het ons in 1992 presies geweet hoe Suid-Afrika vandag sou lyk en hoe Zuma en sy skelm, magsbehepte kornuite ons sou regeer, moes ons in elk geval apartheid keel-af gesny en ons swart landgenote se menswaardigheid herstel het.

Dit was doodgewoon die regte ding om te doen, moreel gesproke en om ons as Afrikaners se vreedsame voortbestaan in die land wat ons liefhet, te verseker.

Die demokrasie is maar ’n gebrekkige stelsel en ’n mens kan soms jou kop skud oor die meerderheid se keuses, maar dis steeds die beste stelsel wat bestaan, die beste versekeringspolis teen tirannie en anargie.

In 2014 gee ons Grondwet ons steeds die demokratiese ruimte om luidkeels te protesteer en vir ’n beter bestel te baklei.

Afrikaners was eers vryheidsvegters met ’n sterk sin vir geregtigheid voor hulle rassistiese, selfsugtige boelies geword het.

Jy doen net jou eie bankbalans ’n guns, Steve, as jy probeer om die geskiedenis om te draai en jou aanhangers in ’n nuwe bestaan van rassisme, selfsug en nasionalistiese kragdadigheid in te verlei. Jy doen nie Afrikaners ’n guns nie – en ek vermoed diep in jou hart as ’n intelligente, belese mens weet jy dit. 

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.