Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
2019 as jaarring in geskiedenis
Gert Coetzee

In die boom van Suid-Afrika se poliltieke geskiedenis die afgelope 70 jaar is 1948 (NP-bewind), 1960 (Sharpeville), 1961 (Republiekwording), 1963 (Rivonia-verhoor), 1976 (Soweto-opstande), 1985 (noodtoestand), 1990 (FW De Klerk-toespraak, Mandela-vrylating, ontbanning van ANC en ander) en 1994 (demokratiese verkiesing en aanvang van ANC-bewind) bepalende jaarringe.

Onder die ANC is Polokwane 2007 (Jacob Zuma-leierskap; staatskaping) en 2017-’18 (Nasrec; Cyril Ramaphosa neem oor as partyleier/staatshoof; belofte van Nuwe Daeraad) skeidslyne.

Of die Ramaphosa-ommekeer die Zuma-staatsrampokkery ongedaan gaan maak, is ’n ontvouende storie. Sover duidelik is dat baie Suid-Afrikaners dink Cyril se Thuma Mina-pleidooi beteken Thuma Wena. Hy moet red.

Al was sy sege van net 179 stemme op Nasrec maar triestig. Toegegee, hy het beter gevaar as die NP in 1948, wat slegs 38,9% van die steun teenoor 53,5% van die Verenigde Party kon trek (maar danksy die oorwig van plattelandse kiesafdelings met 79 setels teenoor 74 gewen het). En kyk na die drastiese uitwerking van NP-beleid op die land se sosiaal-politieke geografie.

Van die refrein #ZumaMustFall het die nasionale narratief nou na grond toe geskuif. #OccupyTheLand vanuit die EFF-hoek en #VreesVirMyGrond van elders.

Van die refrein #ZumaMustFall het die nasionale narratief nou na grond toe geskuif. #OccupyTheLand vanuit die EFF-hoek en #VreesVirMyGrond van elders.

Ná die jarelange uitsien na Zuma se val, is 2019 se nasionale verkiesing die volgende rigtingwyser waarheen opgebou word. In die verkiesing sal duidelikheid oor sekere kwessies die sleurstroom van verandering help rig. Grond gaan die groot kieskwessie wees.

ANC: In ’n Ipsos-peiling het 63% van die deelnemers aangedui Ramaphosa het in sy eerste 100 dae Suid-Afrika in die regte rigting gelei. As sodanig is hy die faktor wat die ANC bo die kerf van 50%, en selfs weer by 60%, kan hou.

Druk van binne die party en van buite (met teenoorgestelde dinamika van EFF-denkendes en DA-gesindes) oor die grondbeleid en die hantering van die saak gaan vir die ANC en die land beslissend wees. Oor die noodsaak van die wysiging van die Grondwet om onteiening sonder vergoeding te bewerk heers ook in die ANC twee denkskole, luidens Business Day (22.5).

Gans te groot onsekerheid heers oor die hóé van die nodige tameletjie met die ANC wat ondanks praatjies self nie herwaarts of derwaarts weet nie.

Die ander neut wat Cyril (Thuma Wena!) moet kraak, is veral die Vrystaat, Noordwes (ondanks Supra se uittog), Mpumalanga en KwaZulu-Natal se uitkalwery van sy bewind.

DA

DA: In die Ipsos-peiling het die DA se nasionale steun van 22,2% (in 2014) tot net oor die 20% gedaal.

Die vraag oor die DA wat verkiesing 2019 kan opklaar is of die party ’n leier het. Indien wel, wie die leier is.

Die Patricia-petalje gaan hom in die Wes-Kaap kos. En hy gaan politieke kapitaal uit grondvrese wil munt.

EFF: Net soos die DA, het die Malema-bende sy groot ongeheime wapen – Zuma – verloor en moet hy nou met die CR-faktor rekening hou.

Hy gaan die grondkitaar slaan en slaan en slaan, maar sy teiken van 10% (teenoor 2014 se 6,4%) bly ’n wens.

Aanduidings is dat verkiesing 2019 (datum volg in Februarie of Maart) nie so ’n definiërende jaarring in die groot geskiedenis gaan wees nie.

Een gebeurtenis wat waterskeidend sou wees, is die skeuring van die ANC.

En/of die dag wanneer geen party ’n oorgrote meerderheid behaal nie.

ANC-skeuring nou is onwaarskynlik. Daar sou seker dissidente wees wat met ’n lawaai vertrek, maar nie maklik nie.

Die “breë kerk van menings” is ook ’n gemakshuis van poste en vet geld.

Meer oor:  Gert Coetzee  |  Da  |  Anc  |  Eff  |  Verkiesing  |  Politiek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.