Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
2020 is jaar van maak of breek
Christo van der Rheede

Die jaar 1994 was ’n waterskeidingsjaar. Ten goede. Alle Suid-Afrikaners kon hul stem ter ondersteuning van die politieke party van hul keuse uitbring. ’n Nuwe demokratiese staat gegrond op universele menseregte waarin vryheid, menswaardigheid, gelykheid en nierassigheid sentraal staan, is gevestig. Dit was die regte ding om te doen!

In die gees van die Verenigde Nasies se Universele Verklaring van Menseregte, wat lui dat alle mense vry, met gelyke waardigheid en regte gebore is, is die grondslag gelê om hierdie regte uit te bou en te versterk.

Vir ons demokrasie om wortel te skiet, is ’n nasionale Grondwet met ’n Handves van Menseregte ontwikkel. Dis nié net ’n bron van politieke aspirasies nie, maar plaas ook ’n verantwoordelikheid op almal om dié aspirasies te verwesenlik. Dié eer en die verantwoordelikheid het die ANC onder leiding van wyle oudpres. Nelson Mandela te beurt geval. Sedert 1994 is dit die regerende party.

Wat ’n edele roeping is dit nie! Vir politici, staatsamptenare, burgerlike organisasies, sakelui en alle burgers van ons land. Om ’n demokratiese orde te vestig waarin vryheid, menswaardigheid, gelykheid en nierassigheid kan gedy. En waarin reg en geregtigheid die hoeksteen is vir vrede, vooruitgang en selfverwesenliking.

Teen hierdie tyd moes ons demokrasie al ver gevorder het. Onderwys van die laagste tot die hoogste vlak moes al van die beste ter wêreld gewees het. Dieselfde geld vir mediese, munisipale, polisie- en alle ander basiese dienste. Ons ekonomie moes al onder die sterkstes ter wêreld getel het. Dis die hartklop van ons samelewing en bring werk- en welvaartskepping mee.

Waar het dinge dan verkeerd geloop? En wie is te blameer?

En teen dié tyd moes ons al die vervreemding, agterdog, vooroordele en rassespanning tussen mede-Suid-Afrikaners wat voor 1994 in felheid geheers het, oorkom het. Twee dekades later is dit nie die geval nie. Waar het dinge dan verkeerd geloop? En wie is te blameer? Die liberales, konserwatiewes, sosiaal-demokrate, nasionaliste, sosialiste, Marxiste, kapitaliste of die Skelms? Laasgenoemde blyk deesdae ’n voltydse beroep in Suid-Afrika te wees, daarom die hoofletter.

Om derms uit te ryg oor wie die skuldiges is, gaan ons nêrens bring nie! En om oor die verlede te tob nóg minder. Vir die NP was die skrif aan die muur. Apartheid kon nie moreel geregverdig word nie, nog minder was dit ekonomies en polities volhoubaar.

Dit geld ook vandag vir die ANC. Wat dié organisasie betref, is die skrif ook aan die muur. Ons land ervaar ongekende ekonomiese, maatskaplike en politieke verval. Onderliggend daaraan is die minagting van universele regte en die waardes soos vervat in ons Grondwet. Dit manifesteer in apatie, korrupsie en politieke vuilspel op bykans elke terrein. Dit kan nié moreel geregverdig word nie! En hoe gouer daarvan ontslae geraak word, des te beter.

Ons land kan nie op dié pad vorentoe nie. Ons boer agteruit en vir dit moet die ANC die blaam vat. Maar wat van ons, die burgers van die land? Ons het ’n ewe groot verantwoordelikheid. Ons is die skans.

Franklin D. Roosevelt, voormalige VSA-president, het eens opgemerk die enigste sekere skans vir volgehoue vryheid is ’n regering wat sterk genoeg is om die belange van al sy burgers te beskerm. En ’n land se mense wat sterk genoeg en goed ingelig is om hul soewereine beheer oor die regering te behou en dit tot verantwoording te roep.

Gaan ons toelaat dat die ANC die land verder vernietig of gaan ons die skans wees om te red wat daar te redde is? 2020 is die jaar van maak of breek!

* Van der Rheede is uitvoerende adjunk-direkteur van Agri SA.

Meer oor:  Christo Van Der Rheede  |  Apartheid  |  Politiek  |  Rassisme
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.