Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
2020: Jaar van die oranje pak?
Johann Maarman
Netwerk24

Wanneer kerkleiers praat, kan ’n mens maar jou antennas uitstoot en notisie neem.

Ons Suid-Afrikaners behoort eintlik te ril van politieke ekstase, halleluja uit te roep of ’n ligte vuisie in die lug te pomp nadat die Anglikaanse aartsbiskop van Kaapstad, Thabo Makgoba, in sy Kersboodskap gepleit het dat staats­kapers genadeloos vervolg en tronk toe gestuur word.

Sit hulle in oranje tronkklere en laat die plunderaars van die staatskas boet vir hul dade, was die sterk woorde van die aartsbiskop.

Makgoba het gesê daar moet gevolge wees vir korrupsie: Vir dié in die private sektor wat dit fasiliteer én vir diegene in die openbare sektor wat voordeel daaruit trek.

Die gereg, die vrede, die versoening en die oorvloed lewe wat ’n bloeiende demokrasie belowe, gaan net bereik word as diegene wat dreig om dit te ondermyn aanspreeklik gehou word, aldus die aartsbiskop.

Dit is nie die eerste keer dat Makgoba te velde trek teen die ANC-regering en hom in die openbaar repudieer nie. In ’n vorige jaar se Kersboodskap het Makgoba sterk aanbeveel dat die ANC van Jacob Zuma ontslae raak – wat toe inderdaad gebeur het, want Zuma was ’n ongeleide politieke projektiel en een groot flop as president.

Ek is dit 100% eens met die aartsbiskop, en die vervolgingsgesag behoort nie net die spoor te vat van gewone klerke nie, maar moet mik na die slang se kop. Dis tyd dat die groot kokkedore aan die pen ry.

Dis húlle wat die land rot en kaal besteel het, en dan word die klein vissies maar altyd gegryp.

Dis húlle wat die land rot en kaal besteel het, en dan word die klein vissies maar altyd gegryp.

Dis die ministers, direkteurs-generaal en senior bestuurders wat vervolg moet word. Dis die Jacob Zumas, Dudu Myeni’s, Guptas en die Ace Magashules en hul kohorte wie se spoor gevat behoort te word.

Ons weet hoe Zuma met sy netwerk van patronaatskap die land in sy peetjie laat gaan het. Ons kan ongelukkig nie terugkeer na die Zuma-jare waar ons anderpad kyk oor korrupsie nie.

As pres. Cyril Ramaphosa werklik die stertvere van die staatskapingshoender wil pluk, kan hy gerus na die aartsbiskop luister. Anders verleen hy net legitimiteit aan die narratief dat dit maar ’n storie is van dieselfde ANC­-sirkus, maar met ’n nuwe sirkusbaas.

Ons sien uit na die dag wanneer adjunkhoofregter Raymond Zondo, wat die kommissie van ondersoek na staatskaping lei, sy verslag aan die president oorhandig.

Dit behoort ons ’n goeie aanduiding te gee van watter politieke skarminkels hul mates vir die oranje tronkklere kan laat neem.

Maar die aartsbiskop het ook iets laat val wat Ramaphosa lankal moes gehoor het, want ons kan nie meer agter die mooi romantiese spreuke van ’n gelukkige reënboognasie skuil wat by kosmopolitiese skemerkelkies gedeel word nie. Daarvoor is die kloof tussen ryk en arm nog eenvoudig te groot.

Die aartsbiskop is reg wanneer hy sê hy hoop ons politieke leiers sal ontslae raak van die ou sjibbolette en rasionele ekonomiese besluite oor ons land neem.

Die afgelope dekade het gewys dat ongebreidelde kapitalisme, globalisering en ’n gesentraliseerde ekonomie nie die nodige ekonomiese groei teweegbring nie en ook nie genoeg werk skep nie.

Soos Magoba tereg uitwys, sal die ou ekonomiese orde moet wyk. Wat ons nou nodig het, is ’n nuwe ekonomiese orde wat minder uitbuitend is en waarin die hulpbronne eweredig versprei word.

Interessante tye lê voor. Komaan, 2020!

  • Maarman is eindredakteur van Die Burger.
Meer oor:  Johann Maarman  |  Korrupsie  |  Tronkstraf
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.