Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
2020 sal Cyril se leierskap bepaal
Henry Jeffreys

Die stryd om Eskom van ineenstorting te red is ’n intens politieke een wat in wese oor beheer van die hart en siel van die ANC gaan.

En uiteindelik gaan dit ook oor of pres. Cyril Ramaphosa gaan oorleef as staatshoof en leier van die ANC.

Die betrokkenes is ingestel op eie belang en weerspieël geen aanvoeling vir die nasionale of openbare belang nie.

Die vraag is wat die president omtrent al hierdie skadelike onverkwiklikheid gaan doen. Wel, hy kan op sy eie eintlik nie veel doen nie. Hy is uitgelewer aan meedoënlose magte wat nie trou sweer aan enigiets behalwe hul eie smagting na mag en selfverryking nie.

Ramaphosa het niemand om na te draai in die ANC nie. Sy adjunk in die party, David Mabuza, het verlede week sy hand gewys deur te beweer Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, en Eskom het die president mislei oor die hervatting van beurtkrag aan die begin van die jaar en so as ’t ware oorlog teen Gordhan verklaar.

Gordhan geniet nog die steun van die president. Dit is egter ’n ope vraag hoe lank dit sal hou.

Die anti-Gordhan-magte het nou ook ’n nuwe front geopen.

Die anti-Gordhan-magte het nou ook ’n nuwe front geopen. Hulle plaas nou druk op Ramaphosa om Eskom en ander staatsinstellings onder regstreekse ministeriële beheer te plaas.

In die geval van Eskom is die idee om die kragverskaffer onder beheer van die minister van minerale bronne en energie, Gwede Mantashe, te bring. Mantashe is ook voorsitter van die ANC en bekend as ’n ondersteuner van Ramaphosa. Dit kompliseer die hele kwessie net verder.

Daar is egter vrae oor Mantashe se rol as minister. Die Mail & Guardian het hom ’n E-simbool gegee in sy 2019-gradering van die kabinet se prestasie.

Die koerant het ook tot die slotsom gekom dat hy meer vatbaar is om in ’n verleentheid te beland. Mantashe was verlede jaar in die middel van ’n seksskandaal en is daarvan beskuldig dat hy joernaliste probeer omkoop het om stories oor hom te onderdruk. Dis dus nie ’n onregverdige vraag of hy geskik is om aan die hoof van ’n komplekse onderneming soos Eskom te staan nie.

Dit is egter die verkeerde vraag. Die eintlike vraag is of enige onderneming wat sake doen noodwendig deur die staat bestuur moet word.

Wêreldwyd is dit ’n uitgediende idee. Die ANC glo egter dat sy kaders beter toegerus is om staatsbeheerde ondernemings te bestuur as sakelui met bewese ervaring uit die private sektor.

Hoe ook al, die president het ’n aantal sleutelbesluite om te neem.

Die regerende party klou verbete vas aan die idee van staatsbeheer, nieteenstaande die vele voorbeelde van wanbestuur deur politiek gemotiveerde aanstellings. Nie dat bestuurders uit die private sektor altyd perfek is nie. Dit is net dat in vergelyking met politiek gemotiveerde aanstellings hulle in ’n heeltemal ander klas is, veral wat betref kundigheid en ervaring.

Hoe ook al, die president het ’n aantal sleutelbesluite om te neem.

Van dit het regstreeks te doen met die land se grootste ekonomiese bedreiging, naamlik Eskom. Uitsluitsel is nodig oor Gordhan se posisie, een van die land se mees doeltreffende ministers. Die risiko vir Ramaphosa met Gordhan is dat dit hom sy posisie as staatshoof kan kos. Dit is duidelik die mikpunt van sy teenstanders.

Ramaphosa het besluit om nie die byeenkoms van die wêreld se politieke en sakeleiers in Davos, Switserland, by te woon nie. Daar word bespiegel dit is uit vrees dat sy teenstanders sy afwesigheid sal gebruik om teen hom op te tree. Die besluit om eerder tuis te bly, sal hom ten beste net ’n kortstondige opskorting van die aanslag teen hom wen. Maak geen fout nie, 2020 is bepalend vir Ramaphosa se voortgesette leierskap van die land.

  • Jeffreys is ’n onafhanklike kommentator.
Meer oor:  Eskom
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.