Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
2021-verkiesing: Hef aan lê voor

Die politieke jaar 2020 is net enkele weke ver, en sal na alle waarskynlikheid gefokus wees op die plaaslike verkiesing van 2021.

Van al die politieke partye is dit die ANC en die DA wat waarskynlik deur die grootste uitdagings in die gesig gestaar word.

In 2016 het die DA baie goed gevaar, grotendeels ten koste van die ANC. Die party het beheer oorgeneem oor die metropole van Johannesburg, Tshwane en Nelson Mandelabaai, maar in koalisie met die EFF, nog ’n groot wenner in die 2016-verkiesing. In 2021 sal die ANC die terugslae van 2016 wil omkeer, en die DA sal wil bewys dat sy winste in 2016 nie ’n hersenskim was nie.

Interne woelinge in die twee partye dui egter daarop dat dit nie maklik sal wees om op 2016 te verbeter nie. En die ANC kan kwalik bekostig om slegter as in 2016 te vaar.

Die SAKP, ’n senior vennoot in die ANC-alliansie, het reeds in ’n besprekingsdokument gewaarsku dat die ANC kiesers iets spesiaals sal moet aanbied indien die party hoop om in 2021 suksesvol by die stembus te wees.

Die SAKP worstel daarmee of hy hom moet registreer om regstreeks aan die verkiesing deel te neem.

Die SAKP worstel daarmee of hy hom moet registreer om regstreeks aan die verkiesing deel te neem. Dit sal die ANC se uitdagings vererger. Die SAKP is baie kleiner as die ANC, maar hy beskik oor die organiseringsvermoë wat die ANC broodnodig het.

Die besprekingsdokument sal na verwagting vandeesmaand nog op ’n spesiale nasionale konferensie van die SAKP bespreek word, iets wat die ANC met ’n mate van angstigheid sal dophou.

Die SAKP sal egter baie mooi moet dink aan regstreekse deelname aan verkiesings. Die swak prestasie van die Revolusionêre Werkersparty (RWP) in vanjaar se algemene verkiesing bied stof tot nadenke. Die vakbond Numsa het die RWP gestig met die doel om die ANC by die stembus die stryd aan te sê. Dit was ’n klaaglike mislukking, iets wat die SAKP in gedagte sal moet hou.

Vir die DA was 2019 tot nou ’n annus horribilis. Interne vetes het na buite uitgeborrel en die party het sy verkose leier, Mmusi Maimane, verloor net dae nadat die burgemeester van Johannesburg, Herman Mashaba, uit sy pos bedank het. Mashaba het met sy bedanking erge kritiek op die DA gelewer.

Hy was veral skerp oor Helen Zille, voormalige partyleier en premier van die Wes-Kaap, se hertoetrede tot die topleierskap van die party.

Zille, wat voorheen van alle besluitnemingsposisies in die party onthef is, is tot voorsitter van die party se federale raad verkies. Dit was een van die hoofredes waarom Mashaba besluit het om sy tasse te pak.

Sy kritiek sal in die aanloop tot die 2021-verkiesing by die DA spook. Nie dat dit Zille of die nuwe leierskap van die DA sal pla nie.

Die DA het intussen sy voormalige hoofsweep in die Nasionale Vergadering, John Steenhuisen, as tussentydse federale leier in die plek van Maimane verkies. Steenhuisen moet beskou word as een van die gunstelinge wat Maimane permanent kan opvolg.

Die vraag is of die party die skerwe van die Maimane-era betyds sal kan optel om ’n suksesvolle verkiesingsveldtog in 2021 aan kiesers te bied.

Benewens die ANC en die DA sal die aandag ook op die EFF van Julius Malema wees. Die party van die rooi barette is klein in vergelyking met sy groter teenstanders, en die party het probleme van sy eie. Die EFF se posisie as die party van die histories agtergeblewenes het ’n knou weg ná onthullings van korrupsie deur van die party se topleiers, insluitend die leier, Malema, en die onderleier, Floyd Shivambu.

Dit is wel nog meer as ’n jaar ver, maar 2020 sal die jaar van die verkiesing in 2021 wees.

  • Jeffreys is ’n onafhanklike ontleder.
Meer oor:  Henry Jeffreys  |  Sakp  |  Anc  |  Verkiesig.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.