Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
3 kêrels op ’n slag kan werk, maar 3 mans?

Sy het nog altyd geglo in drie kêrels op ’n slag, want selde kry jy ’n man wat slim, goed in die bed, romanties en suksesvol is, skryf Erla-Mari Diedericks.

Erla-Mari Diedericks

Gewoonlik kan jy kies waarna jy op soek is op ’n liefdesoekwebwerf: Vriendskap, ’n verhouding, net seks, of ’n huwelik. Toe sien ek nou die dag ’n nuwe keuse: Monogamie of nie-monogamie.

Monogamie beteken om getrou te wees aan een persoon met wie jy ’n liefdesverhouding het. Dit word gewoonlik verbind met ’n verhouding en spesifiek ’n huwelik. Dit maak selfs deel uit van sommige gelowe se huweliksformulier.

Christene glo dat God monogamie ingestel het tussen Adam en Eva in die paradys.

En dis dalk juis hier waar die kern van die probleem lê. Want dit sou tog maklik vir Adam en Eva gewees het om getrou te wees aangesien daar nie ander Adams en Evas in die paradys rondgewals het nie.

Bring egter mense (en ’n slang of twee) in die paradys in, en die gort is gaar.

Is monogamie nog relevant? Het ’n monogame verhouding so oudmodies geraak dat jy nou self kan kies tussen die twee?

Die nie-dramatiese gevolgtrekking sou wees om te kyk na die arena waarin hierdie keuse aangebied word. Dis ’n dating site. Nie almal wil verhoudings wil hê nie. Dit bied mense die geleentheid om dit vooraf duidelik te maak dat hulle nie getrou gaan wees nie. Dis half ’n klousule om te verseker almal weet jy gaan rondkuier.

As jy nie monogeen wil wees nie, is daar natuurlik allerhande keuses.

Drie mans se onderbroeke en vuil handdoeke orals. Drie mans wat ’n mening het oor my lewe.

Die anoniem van monogamie is poligamie. Wat beteken jy het meer as een huweliksmaat. As dit ’n man is met meer as een vrou, noem ons dit poligamie en as dit ’n vrou is, praat ons van poliandrie.

Ek het nog altyd self geglo in drie kêrels op ’n slag, want selde kry jy ’n man wat slim, goed in die bed, romanties en suksesvol is. Ek vind dat drie (vier is te veel) die meeste van die kriteria afsonderlik vervul, maar die idee om met drie mans te trou, laat my in puisies en angssweet uitslaan.

Drie mans se onderbroeke en vuil handdoeke orals. Drie mans wat aanmekaar met mekaar stry oor wie moet braai en wie die beste vuur kan maak, drie mans voor die televisiestel vasgenael op Saterdae, drie mans wat ’n mening het oor my lewe.

Nee dankie!

Keuses, keuses, keuses

Wat ons terugbring by nie-monogamie. Selfs hier is daar keuses. Jy kan kies tussen gewone rondkuier, of etiese monogamie. Dit beteken dat jy en jou medeslaapmaats gesamentlik ooreengekom het dat julle nie uitsluitlik getrou aan mekaar gaan wees nie.

Maar die vader weet, so eenvoudig is dit ook nie, want kyk jy na die verskillende onderafdelings van nie-monogamie, is dit genoeg om ’n mens huilend terug in die bed te laat klim – alleen!.

Eerstens is daar die casual relationship waar jy basies ’n loslappie het. Julle albei is ongetroud en wat tussen die lakens gebeur, bly tussen die lakens.

Cuckoldry is jou gewone boereverneukery waar die een persoon in ’n verhouding rondslaap sonder dat die ander een daarvan weet.

Volgende op die lys is die groepshuwelik waar ’n groep mense met mekaar getroud is en saam ’n familie-eenheid vorm. ’n Poli-familie is weer amper soos ’n groepshuwelik, maar nie almal is getroud met mekaar nie. ’n Lyn-familie is weer waar jonger lede voortdurend in hierdie groepshuwelik ingebring word sodat dit tot in die volgende geslagte kan voortduur.

Dan is daar die ménage à trois waar drie mense ’n seksuele ooreenkoms het. Daarteenoor is daar die “oop verhouding” waar een of albei mense ook seksueel aktief met ander mense kan wees – met toestemming.

Hierby kan swinging aansluit, wat meer ’n georganiseerde sosiale bedrywigheid is. Maar wat van as jy meer as net ’n groepswoeps wil hê met ander mense?

Vir die romantiese siele met miere in hul agterent is daar die poliamoreuse opsie, wat beteken jy het meer as een romantiese verbintenis. Daar is selfs poli-getrouheid waar jy net verhoudings in ’n spesifieke groep het.

Vir diegene wat die hoofby in die korf wil wees, is daar ook ’n primêre poliamoreuse verhouding, wat beteken daar is een hoof romantiese verhouding en al die ander verhoudings is nie so belangrik nie.

Dan is daar die 'monogamish' verhouding waar jy hoofsaaklik getrou is, maar daar kan hier en daar ’n glipsie ook wees.

Die twee interessantste keuses vir my is die verhoudingsanargie waar die verhouding nie vasgestelde reëls het nie. Nou dit klink na die soort verhouding waarvan ek sal hou, want ek is ’n gebore rebel.

Dan is daar die monogamish verhouding waar jy hoofsaaklik getrou is, maar daar kan hier en daar ’n glipsie ook wees.

Klink maar vir my soos die meeste huwelike . . .

* Diedericks is ’n redaksielid van Netwerk24. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

* Diedericks se boek Seks, leuens en die internet (Lapa) is nou landwyd op die rakke.

Meer oor:  Erla-Mari Diedericks
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.