Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
5 redes waarom Solidariteit se ‘Plan B’ sleg is vir Suid-Afrika (en Afrikaners)
Adriaan Basson

“As my buurman honger is, kan ek nie slaap nie.” – Dr. Anton Rupert

“We’re in this together / We’re in this together / Forever / Together.” – Mick Hucknall

Die vakbond Solidariteit en sy filiale soos Helpende Hand en Afriforum doen in ’n klomp gemeenskappe baie goeie werk waarvoor hy eer verdien.

As vakbond was Solidariteit en veral sy hoofsekretaris, Gideon du Plessis, aan die voorpunt om die Aurora-mynskandaal te ontbloot; daarvoor gee ek hom applous.

Afriforum werk saam met landelike munisipaliteite om paaie en rioolwerke reg te maak; ek eer hulle daarvoor en ons berig daaroor.

Pogings om Akademia in ’n Afrikaanse Harvard te omskep, is optimisties, maar ’n interessante eksperiment wat getoets sal word deur die harde realiteite van vraag en aanbod.

Maar die vakbond se jongste poging om geld te maak uit Afrikaners wat keelvol is vir korrupsie, swak dienslewering en ’n disfunksionele regering deur ’n “parallelle regering” vir wit Afrikaners te vestig, is ’n siniese skema wat die wig tussen Afrikaners en ons swart landgenote gaan vergroot.

Met Solidariteit se instink om te wil help bou aan ’n toekoms vir ons en ons kinders is daar niks verkeerd nie, maar hulle het die eeue-oue waarheid, soos vasgevang deur Rupert se aanhalings hierbo, vergeet. Ons kan eenvoudig nie in isolasie voortbestaan terwyl ons landgenote makeer nie.

Die plan word amptelik eers Saterdag in Centurion bekend gestel, maar die hooftrekke daarvan het Sondag en Maandag in onderskeidelik ​Rapport en ​Beeld verskyn.

Solidariteit se bestuurshoof, Dirk Hermann, het in ’n Twitter-gesprek bevestig die besonderhede in die media was akkuraat – die voorsitter Flip Buys is self daaroor aangehaal. Daarom is ek gemaklik om te reageer op Solidariteit se sogenaamde “Helpmekaarplan 2020” en te argumenteer waarom ek glo dit is sleg vir Suid-Afrika en veral Afrikaners om dié vyf redes:

1. Die ANC regeer swak oor almal; nie net Afrikaners nie. 

Seker Buys se swakste punt is dat Solidariteit se plan bykans eksklusief gaan fokus op Afrikaners, omdat die ANC se beleid “hoofsaaklik (fokus) op swart mense”. Hierdie aanhaling wys hoe skokkend uit voeling die voorsitter van ’n invloedryke vakbond in Suid-Afrika met die meerderheid van die land se inwoners is.

Bloot omdat daar beleid bestaan wat swart mense moet ophef, beteken nie dat dit gebeur nie.

Buys bevestig ook daarmee dat hy verwys na wit Afrikaners as hy praat van “Afrikaners”.

Dit is ongetwyfeld so dat swart mense die meeste ly onder die ANC en veral die Jacob Zuma-regime se patetiese regering. Wanneer laas het Buys of een van sy familielede ’n puttoilet of ’n staatshospitaal gebruik?

Daar is ’n massa statistieke om die punt te ondersteun dat wit mense twintig jaar ná demokrasie steeds baie beter daaraan toe is as swart mense. Die nuutste arbeidsmarksyfers van Statistiek Suid-Afrika vir die eerste drie maande van 2015 wys dat werkloosheid onder swart mense gegroei het die afgelope jaar: daar was 4.7 miljoen werklose swart mense, wat beteken een uit elke drie swart mense het nie werk nie.

Vir wit mense staan hierdie syfer op 7% van die wit bevolking of 153 000 werklose wit mense in totaal.

2. Afrikaners is nie platgeslaan soos 100 jaar gelede nie.

Buys skep die indruk dat Afrikaners in 2015 slagoffers is van ’n meerderheidstirannie en geen seggenskap of agentskap het oor hul lewens of bestaan nie. Daarom wil Solidariteit ’n “parallelle regering” skep omdat hy nie die ANC vertrou “om vir ons ’n toekoms te skep nie”.

Dit is ’n valse prentjie wat Afrikaners se enorme vermoë om aan te pas, aan te beweeg en te verander verswyg.

Buys moet ’n bietjie by die mense van Alexandra of Port Elizabeth se noordelike gebiede gaan hoor of hulle dink die ANC skep vir hulle ’n toekoms.

Die Helpmekaarfonds van 1916 is gebore uit ’n totaal ander milieu toe die Afrikaners platgeslaan was en instellings moes stig om hul welvaart, identiteit en kultuur uit te bou.

Ons kan eenvoudig nie in isolasie voortbestaan terwyl ons landgenote makeer nie.

Vandag is die Afrikaners ’n welgestelde groep mense met ’n goeie peil van onderrig, lewendige ondernemingsgees en gesonde beleggings. Ja, baie hiervan is te danke aan die bevoorregting wat ons onder en danksy apartheid ontvang het, maar baie mense is op ’n beter plek as 20 jaar gelede as gevolg van harde werk, die besef dat die staat nie meer na jou gaan kyk nie en (ironies genoeg) goeie samewerking met swart sakelui.

Buys is 100 jaar te laat as hy ’n maatskappy of organisasie soos die ou Naspers of Volkskas wil begin. Albei dié organisasies moes verskoning vra vir hul aandadigheid aan apartheid en het dramatiese transformasie ondergaan om te moderniseer en swart mense te bemagtig.

3. Die plan is onprakties

Buys-hulle wil nie afstig of ’n Volkstaat soos Orania vorm nie, maar stel dit ten doel om “amper elke tradisionele regeringsfunksie” vir Afrikaners oor te neem. Ek verstaan nie hoe dit prakties gaan werk nie (dalk kry ons Saterdag antwoorde).

Die meeste van ons dorpe en woonbuurte is gemeng. As daar ’n rioolpyp in Garsfontein bars, hoe gaan Solidariteit weet waar die wit mense se rioolpyp begin en waar die swart mense s’n eindig?

Of as Afriforum ’n buurtwag stig in Polokwane, hoe gaan hulle besluit watter strate om te patrolleer en watter nie? Gaan Solidariteit uiteindelik ondersteuners van hul plan dwing om saam te woon in een groot kompleks waar hulle skole, klinieke, buurtwagte, winkelsentrums en rioolpype deel?

4. Afrikaners moet méér welwillendheid wys, nie minder nie

Daar is ’n groeiende gevoel onder veral jong swart mense dat Afrikaners nie genoeg geboet het ná apartheid nie.

Die Malema-generasie is ontnugter deur oudpres. Nelson Mandela se versoeningsgebare teenoor hul ouers en grootouers se onderdrukkers. Dis nie altyd duidelik wat hulle wil hê nie: Malema self wil alle grond nasionaliseer en plase en myne aan wit mense verhuur (namens die staat).

My ervaring is dat die groot meerderheid swart Suid-Afrikaners bloot erkenning soek dat daar teen hulle in die verlede gediskrimineer is en dat ons hulle erken as medemense en nie ondergeskiktes nie.

Dit is nou, 20 jaar ná demokrasie en met ’n sukkelende ekonomie belangriker as ooit vir Afrikaners om uit te reik en te help waar hul kan; selfs al is dit hulp aan een mens, gesin of skool.

Duisende Afrikaners doen dit reeds en besef die persoonlik waarde daarvan om ’n paar kilo’s in ’n ander man of vrou se skoene te loop. Húl denke is ligjare verwyder van afstig-en-onttrek. Duisende jong Afrikaner-kinders word kleurblind groot en het die wonderlike geleentheid om verby velkleur na die wêreld te kyk. Ras is sentraal tot Buys se plan en daarom behoort ouers wat na ’n nie-rassige toekoms vir hul kinders streef, dit te verwerp.

5. Afrikaans sal die slagoffer wees van ’n wit-onttrekking

Die sensus wys daar is vandag baie meer swart Afrikaanssprekendes as wit mense wat Afrikaans as huistaal praat. Die grootste skade wat ons die taal kan aandoen is om dit weer te probeer toeëien as ’n “wit taal”.

Waldimar Pelser, redakteur van Rapport, stel dit ondubbelsinnig in sy rubriek Sondag: “Bruin Afrikaanssprekendes is nie aanhangsels van die taalgemeenskap nie. Hulle ís die taalgemeenskap, en wit mense en swart mense wat Afrikaans praat, beklee in dié gemeenskap ’n numeriese minderheidsrol, al word hulle beslis as bondgenote deur bruin sprekers beskou.”

Dit is ’n kritieke denksprong wat mense soos Buys nog nie gemaak het nie. Geen wonder bruin kommentators soos prof. Hein Willemse beskryf die plan as “neo-apartheid” nie.

Dit is aanmatigend van Buys en kie. om te dink hulle is die beskermhere van die toekoms van Afrikaans en Afrikaanse onderrig met ’n plan waarbinne bruin mense nie welkom is nie (die ANC kyk mos na swart mense).

Die uiteinde van die stryd om die siel van Afrikaans op Stellenbosch gaan rigtinggewend wees vir die toekoms van die taal in Suid-Afrika, veral op tersiêre vlak. Die laaste ding wat mense soos proff. Wim de Villiers, Jonathan Jansen en Dan Kgwadi nou nodig het, is ’n laertrek van bevoorregte wit Afrikaners wat maak asof die taal hulle s’n is om oor te besluit.

If one will always have to feel white first, and African second, it would be better not to stay on in Africa. It would not be worth it for this.
Nadine Gordimer

Dit is maklik om te kritiseer en Netwerk24-lesers soos LM van Zyl het reeds gevra wat my alternatief tot Buys-hulle se plan is. As die Helpmekaarplan ’n antwoord is op die vraag: “wat kan ek as wit Afrikaner doen om die ANC se swak regering teen te werk en ’n toekoms vir my kinders te verseker?”, stel ek die volgende alternatiewe voor:

1. Raak betrokke in jou eie gemeenskap by jou kinders se skool, die buurtwag en uitreik-aksies om minderbevoorregtes in jou onmiddellike omgewing te help. Doen moeite om jou bure en mense in jou omgewing te leer ken.

2. Raak betrokke by ’n verskeidenheid organisasies wat hulle beywer om onderwys te versterk (soos Equal Education, Fedsas en Partners4Possibility). ’n Beter onderwysstelsel vir soveel as moontlik Suid-Afrikaners is die enigste manier om ’n toekoms te verseker.

3. Neem deel aan protes-aksies soos verlede week se teenkorrupsie-optogte in Pretoria en Kaapstad waar ’n verenigde front van Suid-Afrikaners vir Zuma en die ANC wys hoe ons oor swak regering voel.

4. Betree die politiek as jy dink dit is die plek waar jy ’n verskil kan maak. Die DA het hulself oor die jare bewys as ’n effektiewe opposisieparty en in die Wes-Kaap regeer die party talle munisipaliteite, distriksrade en uiteraard die provinsie. Ek het vroeër geskryf dit is jammer Solidariteit en die metaalwerkersunie Numsa werk nie saam in die stigting van ’n nuwe vakverbond of politieke werkersbeweging nie.

5. Neem deel aan openbare debatte oor regeringsbeleid. Maak voorleggings aan parlementêre portefeuljekomitees oor gebiede waaroor jy kundig is of neem deel aan openbare vergaderings wat die regering verplig is om te hou voordat hy groot projekte implementeer.

6. Ondersteun nie-regeringsorganisasies soos Freedom Under Law, Corruption Watch of Outa wat miljoene rande bestee aan hofsake om regeringsbeleid te hersien of aanstellings (deur veral Zuma) voor die hof te daag.

7. Belê in private onderwysfirmas soos Curro wat daadwerklik iets daaraan doen om die toekoms van gehalte-onderrig, ook in Afrikaans, te verseker. Ten spyte van onlangse voorvalle by een van hul skole, het Curro ’n indrukwekkende model beet wat daarin slaag om op ’n nie-rassige grondslag onderwys van gehalte te bevorder.

8. Ondersteun projekte deur organisasies soos Afriforum om ons munisipaliteite te versterk en dienslewering – veral aan die armstes wat nie private dienste kan bekostig nie – te verbeter. Moenie dit doen omdat jy heeldag skuldig voel oor apartheid nie (veral as jy nie daarvoor gestem het nie), maar omdat jy die institusionele bevoorregting van wit mense (insluitend Afrikaners) erken en as ’n verantwoordelike landsburger optree om jou medemens te help.

9. Skep werk en ondersteun die mense en gesinne wat vir jou werk. Ja, die regering gee te min erkenning aan entrepreneurs (insluitend boere) wat daagliks miljoene monde voed. Fokus eerder op die individue en gesinne wie se lewens en toekoms jy verander deur skouer aan die wiel te sit.

10. Doen aansoek vir werk in die staatsdiens as jy geskik is vir die pos en die vaardighede het om ’n verskil te maak. Ek is telkens verbaas oor hoe baie wit mense, selfs Afrikaners, nog in die staatsdiens werk. Dit is 'n mite dat daar geen werk vir Afrikaners in die staatsdiens bestaan nie. Ja, natuurlik is daar gevalle waar wit mense onregverdig behandel en teen gediskrimineer word, maar daar is net soveel gevalle waar daar verkeerdelik teen swart staatsdienswerkers opgetree word.

Vier jaar gelede het ek ’n ope brief geskryf aan Afriforum se uitvoerende hoof, Kallie Kriel, waarin ek hom gekritiseer het oor die voorhou van ’n valse slagofferskap terwyl Afrikaners eintlik in die nuwe Suid-Afrika gedy.

Ek het die brief begin met ’n aanhaling deur ons Nobelprys-wenner Nadine Gordimer: “If one will always have to feel white first, and African second, it would be better not to stay on in Africa. It would not be worth it for this.”

Vandag is dié aanhaling net so gepas en behoort Buys-hulle mooi daaroor te dink voordat hulle duur planne maak om veiligheidsones vir wit mense te skep.

Is dit die moeite werd om in Afrika te wil aanbly as dit altyd só belangrik vir jou is om eers wit te wil wees?

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.