Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
60 jaar later: Was Sharpeville se verleenthede en geleenthede tevergeefs?

Suid-Afrika het sy onskuld verloor in die twee minute wat die Sharpeville-slagting op 21 Maart 1960 geduur het, skryf Leon Wessels.

’n Toneel tydens die tiende herdenking van die Sharpeville-slagting in 1970 op Trafalgarplein in Londen. Foto: Getty Images

Net twee minute was nodig om die gang van sake te verander. Sharpeville, 21 Maart 1960, staan vir altyd in die Suid-Afrikaanse geskiedenisboek geskryf.

Senuagtige polisiemanne was dié dag die gesig van die gehate pasboekstelsel, die dompas wat mense se vryheid van beweging en geleentheid om oral werk te soek beheer het.

Suid-Afrika het in dié twee minute sy onskuld verloor.

Njabulo Ndebele, akademikus en skrywer, het my vertel hoe hy die Sharpeville-nuus as ’n 12-jarige ontvang het. Hy en sy oupa het elke dag na die aandnuus om 19:00 geluister. Die nuusberig oor die gebeure by Sharpeville het hulle geskok. Sy oupa se aanvanklike woede en daarna die ontroosbare hartseer sal hy altyd onthou.

Dit word vertel dat die Iere nooit vergeet nie en dat die Britte nooit onthou nie. Soms is ons soos die Iere, soms soos die Britte.

Mense vlug voor die polisie tydens die Sharpeville-slagting op 21 Maart 1960. Foto: Getty Images

Die NP-regering het ná enkele dae ’n noodtoestand afgekondig, 18 000 mense is aangehou vir ondervraging en die ANC en PAC is tot verbode organisasies verklaar. O.R. Tambo het landuit gevlug en die ANC in die buiteland gevestig.

Drie dekades later bring Neil van Heerden, direkteur-generaal van buitelandse sake, en ek in opdrag van FW de Klerk se regering ’n welwillendheidsbesoek aan hom en sy gesin in Londen. Dit was tyd om huis toe te kom en die strydbyle te begrawe.

As tienerseun het ek Sharpeville (1962 en 1963) dikwels saam met my pa (hy was toe distrikskommandant van die Suid-Afrikaanse polisie in Vereeniging) besoek. Ek het gedink Sharpeville 1960 was ’n lastige opstand wat maklik onderdruk is. Dit het nie as iets aardskuddend op my richterskaal geregistreer nie. My houding was in pas met gesprekke by die skool en kerk. Tyd het my oppervlakkige begrip van die slagting blootgelê.

Hermann Giliomee sê Verwoerd was met 'ideologiese oëverblindery besig'.

Met my teruglees (nou) van daardie era, is dit moeilik om te verstaan hoe dr. H.F. Verwoerd, eerste minister, ons so op sleeptou kon neem.

Hermann Giliomee sê Verwoerd was met “ideologiese oëverblindery besig”. Die sakeleier Anton Rupert het Verwoerd tevergeefs gevra om aan swart mense die geleentheid te gee om hul huise te kan koop, die Afrikaanse Handelsinstituut het gevra dat instromingsbeheer hervorm word sodat die wrywing tussen polisie en die swart bevolking uitgeskakel kan word, kabinetsministers wat ’n sagter benadering gepleit het, is kortgevat.

Piet Cillié (redakteur van Die Burger) sê nadat Verwoerd die sweep geklap het: “Jy het net manelpunte gesien soos die kerkmanne hardloop”.

Toe Beyers Naudé op 22 Maart 1960 die skreeuende plakkate sien wat die gebeure die vorige dag uitbasuin, was dit sy aanvoeling dat hier ’n ernstige krisis ontstaan het: ’n keerpunt in Suid-Afrika se geskiedenis en ook in sy lewe. Kort hierna het sy pad met die NG Kerk geskei. Meer as 30 jaar later word hy emosioneel terugverwelkom.

’n Stryd wat nie vergeefs was nie

Die ondertekening van die Grondwet in 1996. Pres. Cyril Ramaphosa en Leon Wessels staan weerskante van oudpres. Nelson Mandela. Foto: Gallo Images

Sharpeville 1960 was (in vele opsigte) ’n verleentheid. Sharpeville 1996 was (in vele opsigte) ’n geleentheid.

Op 10 Desember 1996 (in Sharpeville) het oudpres. Nelson Mandela die Grondwet in die teenwoordigheid van die Sharpeville-slagoffers onderteken. Hulle was eregaste by die geleentheid, want hulle moes weet dat hul stryd nie tevergeefs was nie. Dit was die dag sekerlik hul wens dat die stryd van 1960 – vir stemreg, vryheid van beweging, werksgeleenthede en beter onderwys – nou verby is. Dit was dié dag Mandela se versugting dat Suid-Afrikaners nou die inklusiwiteit sou smaak wat hulle nie in 1902 tydens die ondertekening van Vredesooreenkoms in Vereeniging beskore was nie.

In die oë van baie was die terroris Mandela van die 1960’s nou die geliefde Mandela van die 1990’s. En so het sir Peter Bottomley (tans die Father of the House of Commons – die langsdienende lid van die Britse parlement) se woorde in die 1980’s aan my (ons was toe agterbankers in ons parlemente) waar geword. Ek was skepties toe hy gesê het: “Terroriste word dikwels staatsmanne. Julle moet met Mandela praat”.

Sharpeville leef wêreldwyd voort: 21 Maart is Internasionale dag teen Rassisme.

Sharpeville 1996 is nou ’n verspeelde geleentheid. Verspeelde geleenthede word dikwels verleenthede. Soos in 1960 smag die #FeesMustFall-geslag na beter onderwysgeleenthede en werkgeleenthede. Betoging oor die gebrek aan dienslewering en die Marikana-slagting (16 Augustus 2012 toe 34 betogende mynwerkers dood is en 78 ernstig beseer is toe die polisie op hulle skiet) herinner ons dat Suid-Afrikaners mekaar nog dikwels aan die keel gryp.

Wanneer Sharpeville en Marikana in een asem genoem word, word gespreksgenote warm onder die kraag.

Jong mense (hulle noem Mandela ’n sell-out) stel nie belang in die stryd van die ou dae nie. Hulle wil nie sukkel soos hul voorsate nie. Twyfelaars kan gerus Clinton Chauke se boek Born in Chains: The Diary of an Angry ‘Born-free’ lees.

Enige gesprek oor die toekoms sonder hierdie geslag se deelname sal op niks uitloop nie. Die toekomsgesprekke moet ook simpatiek staan teenoor die inklusiwiteit waarna Mandela destyds verwys het.

Leon Wessels

Sharpeville leef wêreldwyd voort: 21 Maart is Internasionale dag teen Rassisme. In Suid-Afrika is dit Menseregtedag. Die stryd vir menseregte word nooit uitgewoed nie. Dit is die stryd van mense wat veg vir ’n beter toekoms en nie ’n beter verlede nie.

Dit is die rede hoekom verleenthede en verspeelde geleenthede nooit tevergeefs is nie.

Nagedagte: Indien die ANC nie van sy ideologiese brille ontslae raak nie, sal hy soos die NP van ouds ’n voetnota in die geskiedenis word.

* Leon Wessels is die skrywer van Die einde van ’n era: Bevryding van ’n Afrikaner (1994) en Vereeniging: Die onvoltooide vrede (1910). Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Meer oor:  Nelson Mandela  |  Hermann Giliomee  |  Leon Wessels  |  Or Tambo  |  Grondwet  |  Apartheid  |  Rassisme
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.