Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Van Alle Kante
‘ACVV-tannies’ is al 110 jaar diensbaar
Johan van Wyk.

Dalk het jy al gewonder presies wie (behalwe jou eie vrou) Leipoldt in gedagte gehad het toe hy gedig het: “Waak oor die stem! Let op die siel! Behou die beste wat ons nasie het – die vrou!”

Ek het die antwoord: die lede van die Afrikaanse Christelike Vrouevereniging (ACVV), wat pas sy 110de bestaansjaar van opheffingswerk en versorging gevier het.

Aanvanklik het wit mense hierby baat gevind, maar nou is dit grotendeels swart mense, onder wie die nood vandag selfs groter is as toe arm, neergeslane Afrikaners 100 jaar gelede, en lank daarna, sulke versorging nodig gehad het.

Met 9 000 aktiewe lede, 117 takke landwyd, 150 maatskaplike werkers, 60 bewaarskole vir 4 000 kinders, 20 naskoolse sentrums, 68 ouetehuise en 49 voorskoolse versorgingsoorde vir 3 900 kinders is dit ’n onvergelykbare naastediens, uitgeleef in die woorde van die ACVV se eerste rondreisende sekretaris, die legendariese MER: “Ek wou altyd gebruik word.”

Kom op aandag en salueer hierdie vroue! Of, soos die Namakwalandse boer sy seun se uitpassering as polisieman in Pretoria beskryf het toe sy ma by sy tuiskoms wou weet hoe Kosie gelyk het: “Nee, hy staan toe daar knypgat en kyk doer!”

Jy hoef nie eens ’n klokkie te lui om die toegewyde tannies van die ACVV diensbaar te kry nie. As jy op hul nommer druk, vra hulle nie net of hulle moet spring nie, maar ook hoe hoog. Indien hulle nie ook bereid sou wees om, soos hul dapper voorgeslagte, die Drakensberg weer kaalvoet oor te steek nie. Miskien darem met Crocs!

My ma was een van hulle. Toe die eerste minister genl. Jan Smuts, behep met Britse imperialisme en vol mae vir Suid-Afrikaanse soldate in die woestyne van Noord-Afrika, mense gedurende die Tweede Wêreldoorlog verbied het om meel te sif en botter te eet, was daar ook op Calvinia honger wit mense.

’n Pond winkelbotter, toe bekend as creamery-botter, het (as jy dit kon kry) drie sjielings en vier pennies gekos (34c) – totaal bokant die vermoë van versukkelde wit mense van anderkant die spoor in die onderdorp.

Talle se broodwinner was werkloos. Dié wat wel werk gehad het, was ongeskoolde arbeiders. Die meeste op die spoorweë. Op Calvinia se stasie het wit mans mudsakke koring op hul rug in treintrokke gelaai. Hul vroue het die bodorp se mense se klere gewas en gestryk.

Hoe hy dit reggekry het, sal niemand weet nie, maar die ACVV het ’n vrag botter per trein van die Kaap tot op Klawer gestuur, van waar dit met ’n spoorwegbus Calvinia toe is. My ma moes dit onder behoeftiges versprei.

Hulle het by die agterdeur van ons dorpshuis tougestaan. Vroue met ’n baba op die heup en twee, drie dunbeen-orrelpypies in verbleikte rokkies en hempies van meelsakkies aan die hand. Hulle het my ma “Miesies” genoem. Daar was trane in haar oë terwyl sy die botter uitgedeel het.

jvwstop1@telkomsa.net

Somerset-Wes

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.