Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
DINSDAG AKTUEEL
ANC-vernuwing in land se belang
Die jaar 2015 het op ’n uiters vals noot begin met die talle sterftes in selfmoordbomaanvalle in Nigerië, asook 35 sterftes waarvan ons weet in Jemen op dieselfde dag as die ysingwekkende aanval op die satiriese tydskrif Charlie Hebdo in Parys.

Ondanks die aanbreek van ’n nuwe jaar is die wêreld se halsstarrige probleme steeds met ons.

Die jaar 2015 het op ’n uiters vals noot begin met die talle sterftes in selfmoordbomaanvalle in Nigerië, asook 35 sterftes waarvan ons weet in Jemen op dieselfde dag as die ysingwekkende aanval op die satiriese tydskrif Charlie Hebdo in Parys.

Hier in Suid-Afrika hou 2015 belofte in, maar eweneens voortgesette kommer oor ongelykheid, armoede en uitsluiting.

Ons is hieraan herinner toe die ANC onlangs sy 103de bestaansjaar gevier het.

As Afrika se oudste bevrydingsbeweging kan die ANC met reg trots wees dat hy Suid-Afrika in 1994 na sy eerste demokratiese verkiesing gelei het.

Dit is maklik om die party se trotse stryd teen rasseverdrukking te vergeet teen die agtergrond van die onbeskaamde materialisme van huidige verjaardagvierings.

Toe hy “na Kaapstad gekom het”, het dit werklik gevoel asof die ANC op die stad neergedaal het om terloops ’n paar welwillendheidsboodskappe aan kiesers oor te dra.

Tegelyk het Jessie Duarte, die ANC se adjunk-sekretaris-generaal, nie doekies omgedraai nie in haar beroep om die “bevryding” van die Wes-Kaap of “apartheidsprovinsie”. Dit is duidelik die plaaslike verkiesings van 2016 lê voor.

Hiermee word die Wes-Kaap se uit­dagings en die unieke, skadelike rassepolitiek wat hom daagliks hier afspeel, nie ontken nie.

Die DA het sy eie ernstige tekort­kominge, soos die voortgesette “toiletsage”, wat die ANC behoort uit te buit. Maar om voor te gee dat ANC-beheerde provinsies probleemvry is of om dit as niks af te maak nie, is eenvoudig oneerlik.

Die Oos-Kaap het van die swaks presterende skole in die land, en die wan­orde weens korrupsie en wanadministrasie in sommige departemente in ANC-beheerde provinsies soos Limpopo was só erg dat hulle onder administrasie geplaas is.

Die feite is dikwels ongerieflik, maar nóg ’n selektiewe geheue nóg sy eie verdeelde leierskorps sal die ANC se saak in hierdie provinsie bevorder.

Ook teatrale politiek of die aanry van ondersteuners met busse sal nie genoeg wees nie. “Brood en speletjies” het intellektuele substansie in die ANC vervang.

Pres. Jacob Zuma se toespraak op 8 Januarie het ver tekort geskiet wat betref ’n kritiese aanpak van die maatskaplike toestand.

Ons het dit alles voorheen gehoor, en in die lig van sy geloofwaardigheidsprobleem is dit veral moeilik om sy uitlatings oor korrupsiebestryding ernstig op te neem.

Op bestuursvlak het Zuma heelwat oorgelaat aan sy adjunk, Cyril Rama­phosa, om reg te timmer. Net die tyd sal leer of hy dit gaan regkry.

Die ANC weet sy grootste verkiesingsuitdaging tot nog toe lê in 2016 landwyd voor. Hy weet ook sy president het ernstige tekortkominge en burgers dring al hoe meer daarop aan om te weet wat die huidige Moët-drinkende leierskorps met ’n voorliefde vir vyfsterhotelle met sy ryk nalatenskap gedoen het.

Dit voel asof die ANC se idees en stoom opgeraak het. Suid-Afrika kan nie ’n mank, luste­lose ANC bekostig as hy sy uitdagings trompop wil loop nie. Dít is hoekom die vernuwing van die ANC in die land se belang is.

Die vraag is of daardie skip omgedraai kan word en deur wie.

Judith February is ’n senior navorsings­genoot van die Instituut vir Sekerheidstudies. Sy sal voortaan tweeweekliks in hierdie ruimte skryf.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.