Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Adriaan Basson: ‘Kampuskultuur’ sal die Puk nie red nie
Identiteit versus relevansie. Universaliteit versus partikulariteit. Elitisme versus egalitarisme. Outonomie versus beperking. En gemeenskap versus korporasie.

Wat is die doel van ’n universiteit?

Dit is die eerste vraag wat ons moet oorweeg in die vuurwarm gesprek oor die plek en rigting van die Noordwes-Universiteit (NWU), veral sy Potchefstroom-kampus.

Die NWU-raad vergader die naweek om te besin oor die strategiese rigting wat dié skisofreniese instelling behoort in te slaan, 21 jaar nadat Suid-Afrika ’n demokrasie geword het en die meerderheid van mense in die land vir die eerste keer kon stem.

Die vergadering is voorafgegaan deur intense bespiegeling, verdagmakery en stemwerwing vir of teen die voorstel van prof. Dan Kgwadi, visekanselier, van ’n unitêre kampus met ’n plat bestuurstruktuur.

Die reaksie het gewissel van ’n histeriese, dog voorspelbare “doodskoot-vir-Afrikaans”-aanslag, tot die net so histeriese “Potch-as-apartheidsenklave”-retoriek.

Albei reaksies neem nie die aller belangrike gesprek vorentoe oor wat die NWU behoort te wees nie. My denke oor die idee van ’n universiteit is sterk beïnvloed deur die Stellenbosse filosoof prof. Hennie Rossouw se skrywes hieroor.

Sonder om ’n finale bloudruk voor te stel, het Rossouw krities gekyk na die spannings waaraan die moderne universiteit blootgestel is, in ag genome die sentrale doel van ’n universiteit.

Identiteit versus relevansie. Universaliteit versus partikulariteit. Elitisme versus egalitarisme. Outonomie versus beperking. En gemeenskap versus korporasie.

Hierdie kwessies is almal relevant vir die huidige gesprek oor die NWU. Rossouw maak veral twee punte wat by vandag se raadsvergadering ter sprake behoort te kom:

. Universitêre onderwys was die voorreg van ’n eksklusiewe groep (lees wit) uitverkorenes.

Hoe maksimaliseer ’n mens akademiese onderwysgeleent­hede vir ’n breë bevolking sonder om standaarde prys te gee?

. En: ’n Staatsuniversiteit (soos die NWU) kan nie voortbestaan “as die breë samelewing nie die belang erken van die dinge wat hy doen en die produkte wat hy voortbring nie” (Rossouw se woorde).

Prof. Herman van Schalkwyk, Potchefstroom-kampusrektor, het dié week aan studente gesê daar is drie redes waarom hulle by die Puk studeer: Afrikaans, die studentelewe en die “kampuskultuur”.

Interessant genoeg het hy nie akademiese uitnemendheid of relevansie genoem nie.

Myns insiens is dit nie goed genoeg om “studentelewe” of ’n “unieke kampuskultuur” voor te hou as redes waarom die status quo van die Potch-kampus gehandhaaf behoort te word nie.

Rossouw sou waarskynlik van die NWU-raad, Kgwadi en Van Schalkwyk wou weet: Hoe maksimaliseer julle die akademiese onderwysgeleenthede op Potchefstroom om die breë Noordwes-bevolking én die Afrikaanse studentegemeenskap te dien?

En: Wat moet verander om te verseker dat die breë samelewing, veral van Noordwes, die belang van die Potchefstroom-kampus se navorsing en produkte erken? Salomo se wysheid is nou hier nodig.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.