Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
André Jansen: As jy ver is en jou mense ly . . .
As ’n mens seer het, jou kop kry nie gedink nie en jou hart huil (of nog nie), soek jy nie antwoorde op vrae wat jy nie gestel het nie.

My jongste broer het laasmaand in die Tankwa-Karoo verongeluk. ’n Skaap het voor sy motorfiets ingespring.

Die diere waarmee hy so graag gewerk het, het sy dood veroorsaak.

Iemand se dood is afskuwelik. As jou jonger broer ’n jong vrou en kinders agter laat, kom ’n mens se gedagtes en emosies nie tot stilstand nie.

En die verdriet van twee bejaarde ouers wat hul kind moes begrawe, skeur deur jou heen.

Soveel Suid-Afrikaners is al getref deur trauma soos moorde en padongelukke.

Hoe moet hulle die draad van hul lewe weer optel? Hoe troos ’n mens hulle?

Daar is die mense wat met goeie bedoelings nie-gestelde waarom- en daaromvrae vir jou probeer beantwoord. Die Jobstroosters.

As ’n mens seer het, jou kop kry nie gedink nie en jou hart huil (of nog nie), soek jy nie antwoorde op vrae wat jy nie gestel het nie.

Die beste ding wat Job se vriende gedoen het, was om ’n week lank hul monde te hou en saam met hom op die ashoop te sit en huil.

Hier wil ek nou ’n ander afdraai vat, oor die daar wees vir treurende ouers.

Hoe moet hulle getroos word terwyl hul geliefdes deesdae dikwels oorsee woon?

Dis geen verwyt aan die wat oorsee is nie. Ek is self een van hulle.

Uit eerstehandse ervaring ontdek ’n mens jou verleentheid met hierdie vraag.

’n Bejaarde man vertel dat almal in hul dorp in die Noord-Kaap een of meer kinders het wat oorsee woon. “Nou is ons alleen oor.”

’n Man met kanker se vrou het ’n verlammingsiekte. Hul drie kinders woon oorsee. Hulle stoei alleen.

In ’n ander familie sterf twee kleinkinders, die ouers skei en nog ’n kind se gesin word uitgewis. Die oorgeblewe kinders bly oorsee. Bejaarde pa en ma bly alleen agter.

Wie is die mense wat jy naby jou wil hê as jy so swaar getref word? Jou kinders. Hulle is mos deel van jou hart!

Die emigrasie van duisende Suid-Afrikaners, om verstaanbare redes, het hierin ’n dilemma veroorsaak en raak my. Wie help ons ouers in hul verdriet, nood en verlange as almal ver is?

Soms is daar gelukkig nog kinders wat naby woon.

Daar is egter mense in Suid-Afrika wat (byna) niemand meer naby het nie. Of wie se kinders té “besig” is om te kom kuier.

Het die mense wat ons en ons land help bou het, hul vervaldatum bereik?

Ek soek ook nog na die regte oplossing. Een bejaarde vrou smeek ’n vriendin se dogter in Australië om terug te kom en haar lydende ouers te steun.

Dis ’n ingewikkelde probleem om op te los, want terwyl ’n mens verstaan hoekom mense emigreer, het die kwessie van agterblywende, soms treurende, ouers ons almal se indringende aandag nodig.

In die Bybel het uitgebreide gesinne bestaan en is daar vir mekaar gesorg. Toe Jesus aan die kruis gehang het, het Hy Johannes aangesê om vir Sy moeder te sorg. In die laaste uur van Sy lyding het Hy aan Sy verantwoordelikheid vir Sy moeder gedink vanuit die vyfde gebod: “Eer jou vader en jou moeder”. Hy sien toe dat sy versorg word.

Jesus roep Christene op om sy getuies te wees. Die woord vir getuig en lyding het dieselfde oorsprong in die Bybel. Sou ’n mens van kinders, ook die wat in die buiteland woon, kon verwag om hierin Jesus se voorbeeld te volg?

Ons ouers verdien ons eer, met woorde én dade. Dis ons seën.

Selfs al is dit afstandelik in die land waarheen die Here ons gebring het en vir ons beloof het, waar dit ook al mag wees, om sy Woord te gaan verkondig deur ’n verskil te gaan maak.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.