Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
André Jansen: Kerk se toekoms lyk dáárom blink
Party kerke weier om hand in eie boesem te steek.

EK raak opgewonde oor die kerk se toekoms as ek aan die jong geslag dink. Regtig. Oppervlakkig gesien, sou ’n mens dit nie sê as jy in baie kerke omtrent net gryskoppe sien nie. Toegegee, ek moet erken my keel trek toe as ek dink wat oor so tien jaar van so ’n kerk gaan oorbly. My siel roep uit: Here, asseblief moenie dat dit gebeur nie! Ek voel soos Abraham wat bid om die stad te spaar oor die enkele gelowiges wat oor is.

Totdat God ’n mens verder laat kyk. Soos Abraham wat moet emigreer na waarheen hy nog nie kan sien nie. Sy GPS se koördinate was net: vertroue. Die roetebeskrywing het gelui: God sal aanwys.

Hier kom die opgewondenheid in.

Kerkmense word nie deur die kerk nie, maar deur Christus gered. Die kerk is wel God se instrument om hierdie genade te bedien. Die jonger geslag is besig om hierdie waarhede te herontdek en op ’n nuwe manier in te vul.

Dit maak my opgewonde.

Toegegee, dis nog maar ’n teer begin, maar God gaan deur met sy werk.

Daar is heelwat oor ontkerkliking geskryf. Oor formalisme, piëtisme, verkramptheid, vrysinnigheid, ruggraatloosheid, beginselloosheid . . . in kerke. Oor die goeie en slegte pogings om dit aan te pak.

Intussen loop die kerke leeg. Party kerke weier om hand in eie boesem te steek. Ander het lam hande en knieë (Spr. 10:4).

Die jonges in Europa se reaksie op die ‘‘lost generation’’ is verklaarbaar, sê geleerdes. Hulle word kerkloos groot, omdat hul ouers die kerk verlaat het. Hulle is nie teleurgesteld in die kerk soos hul ouers nie. Hulle het mos nie daarin grootgeword nie?

Dus is hulle onbeskrewe bladsye.

Wat sien ’n mens nou? Leegheid, bedreiging? Of ’n leë bladsy met kanse om God se verhaal op te skryf?

’n Voorbeeld. Ná 20 jaar tree Joop Gankema terug as leier van die Opwekkingskonferensie in Nederland wat jaarliks tydens die Pinksterfees gehou word vir 60 000 Christene uit verskillende kerke. Gankema vertrou die leiding aan die jong mense toe: Hulle gaan vir ’n geestelike reformasie sorg wat nie deur ’n organisasie, kerk of sinode gaan ontstaan nie. Hy meen dat daar geen kerkleiers tussen 30 en 50 jaar beskikbaar is nie. Hulle is die verlore geslag.

Die jong geslag volg hulle op. Els van Dijk noem hulle in haar boek die “hunkerende generasie”. Pragtig! Dis die onbeskrewe-bladsy-generasie. Hulle ontdek ’n groeiende geestelike honger by hulleself.

Soos Manon wat ongelowig en onkerklik grootgeword het en toe saam met haar kêrel kerk toe kom. Sy was verbaas toe sy hoor die dominee preek oor haar eie lewensvrae. Toe sy met my kom praat, het ek vir haar die Evangelie verduidelik. Haar reaksie: “Dit maak klompleet sin. Dis fantasties. Ek glo dit heeltemal.”

Sy het haar lewe aan die Here oorgegee en verorber omtrent die Bybel. Sy bestook my met stewige vrae.

Praat ’n mens met hierdie geslag oor die kerk, leer ’n mens. Hulle dink nie die kerk is ouderwets of modernisties nie. Vra byvoorbeeld hul voorkeur vir ’n orrel of ’n orkes om die kerksang te begelei, vra hulle verbaas: “Wat maak dit nou saak?”

Oor kerkgrense sê hulle ook niks nie.

Hulle ervaar die leegheid van die verlore geslag en smag, positief-krities, na goeie, deeglike kos, inhoud. Hulle gee nie om of dit in ouma se Royal China-eetservies of op ’n blikbord voorgesit word nie. Hulle wil God ontmoet en Hom dien.

Hier begin reformasie en herlewing. Hulle wil deurdring tot die kern, die wesenlike dinge (Rom. 12:1,2) en hul lewe daarop bou. As ’n mens deur Christus gered is, leef jy soos ’n nuwe mens. Daarom stel hulle kritiese vrae aan en oor die kerk (1 Tim. 1:6,7).

Durf ons luister?

Dis heerlik ongemaklik om met hulle te praat. Dit prikkel ’n mens.

Dit is opwindend!

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.