Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
André Jansen: Land kort nou leiers wat dien
Dan sal ons kinders en kleinkinders gelukkig woon in die land wat die Here aan ons gee om in te woon.

Goeie leiers gee struktuur, inhoud en rigting. Hulle wek vertroue. Hulle laat konstruktiewe volgelinge opstaan en aanvaar verantwoordelikheid vir hulle. Dit is dienende leierskap wat volgelinge hoër ag as die self en baie bereik. Suid-Afrika het dit nou nodiger as ooit tevore.

Die onrus aan universiteite sit ’n dik streep hieronder. Sin en onsin is die laaste weke oor hierdie krisis geskryf. Een aspek verdien broodnodige aandag: die leiers van ons land. Watter soort leiding gee hulle? Wat is die uitwerking daarvan: kort termyn en lang termyn? Kinders volg eerder die voorbeelde van volwassenes as hul woorde. Wat volg die jong geslag van ons leiers na?

Die gemiddelde Suid-Afrikaner som die land se leiers op as korrup, magbelus en onbevoeg. Met die gevolg ’n gebrek aan respek en ontsag, terwyl die Bybel ons juis daartoe oproep (Rom. 13). Dit word egter moeilik as die owerheid in gebreke bly om reg en geregtigheid toe te pas en basiese dienste te lewer; en private inisitatiewe die owerheid se werk doen, soos riolering, beveiliging, netjiese begraafplase en begaanbare paaie.

Met anargie tot gevolg. Dit sien ’n mens in die studentebetogings.

Suid-Afrika veg nou vir gratis onderwys. Dit is opmerklik, juis omdat Nederland sedert die huidige akademiese jaar gratis naskoolse onderwys agter hom gelaat het. Jare lank het die owerheid studente se studies betaal, maar ontdek dat die nadele daarvan swaarder weeg as die voordele.

Heelwat studente het ekstra lank geneem om hul studie af te rond. Ander het rondgeval van die een studierigting na die ander. Dit was ’n lekker lewe. Nou moet studente self hul studies betaal om hul eie verantwoordelikheid te stimuleer. Hulle kan teen lae rentekoerse geld by die owerheid leen.

“As ’n mens self moet betaal, is jy ernstiger en meer toegewyd,” het die minister gesê. Dit stimuleer hardwerkendheid, ondernemerskap en inisiatiewe, want onderwys vorm kennis, vaardighede en karakter. Dit is presies wat ’n land nodig het. So word die leiers van die toekoms gevorm.

Dis ’n basisgedagte in opvoeding. Ouers wat alles vir hul kinders gee wat hul harte begeer, kweek lui en bederfde volwassenes wat gewoond is om alles te kry en nie hard vir iets te werk nie.

Die Spreukedigter skryf wyse en praktiese spreuke oor hierdie beginsels. Byvoorbeeld: “ ’n Mens wat nie sy hande uit sy mou steek nie, word arm; dit is vlyt wat ryk maak. Die verstandige mens samel sy oes in as dit ryp is” (13:4,5).

Die Here gee hierin ’n groot verantwoordelikheid aan leiers en dus ook aan die owerheid. So het die Here die arrogante koning Nebukadnesar in Daniël 4 letterlik en geestelik op sy knieë gedwing en hom teenoor alle volke laat erken dat die Here die groot Koning en Maghebber van hemel en aarde is.

’n Pragtige voorbeeld uit Afrika self was toe pres. Frederick Chiluba 24 jaar gelede in 1991 as die eerste demokraties verkose president Zambië aan Jesus toegewy het, hul sondes bely en hom as president onderwerp het aan die koningskap en leierskap van Jesus Christus. Ervaring vertel positiewe verhale oor die uitwerking van sulke leiers op hul lande, omdat hulle Christus se diensknegleierskapstyl navolg en weerspieël.

Leiers en maghebbers wat hul hart en verstand so op Koning Jesus Christus rig, bring hul inwoners en volgelinge tot lewensvolheid en bloei. Hulle pas die wet toe vanuit die beginsel: leef en laat leef! Vryheid deur grense. So gee die Here seën en vrede. Hiersonder kan ’n land, of selfs die kerk, nie floreer nie.

Intussen moet ons elkeen teenoor ons leiers bly getuig, vir hulle bid en hulle tot inkeer roep, soos in Daniël 4.

Dan sal ons kinders en kleinkinders gelukkig woon in die land wat die Here aan ons gee om in te woon.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.