Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Woord en perspektief
André Jansen: Om wetenskap ’n god te maak
André Jansen

‘Nelson Mandela het nie regtig geleef nie. Hy is ’n mitiese karakter wat in die harte van mense bestaan.

“In ’n land wat deur rassisme verskeur was, het mense die behoefte gehad aan ’n leier wat hoop gee. Hy moes ’n martelaar wees en simpatie en wysheid uitstraal. So het hy mense moed gegee in ’n donker tydperk. Met vandag se wetenskaplike kennis weet ons iemand wat so gely het en so liefdevol, vergewensgesind en wys was, kan nie bestaan nie.”

Dit sal my nie verbaas indien so ’n berig oor 200 jaar in ’n koerant verskyn nie.

Mense het ’n natuurlik ingeboude behoefte om te verstaan. Die neiging is om wanneer ons iets nie kan verklaar nie, dit as onwaar te beskou.

Die wetenskap is onmiskenbaar ’n groot seën. Heelwat mense moet nog net erken dat die wetenskap beperk is. Dit kan nie alles verklaar en oplos nie.

’n Goeie leier is bewus van sy/haar beperkings. ’n Goeie wetenskaplike laat ruimte vir verwondering.

Dit is waar teoloë mense laat struikel indien die wetenskap hul onfeilbare here word en slegs verklaarbare feite goddelike waarheid maak.

Die werklikheid het Christene in Nederland die week hartseer en verwar gelaat. Ander juig. Ds. Edward van der Kaaij, ’n Gereformeerde predikant, sê die historiese Jesus Christus het nooit bestaan het nie. “ ’nMens dink mos ook nie Rooikappie het bestaan nie?” Al die elemente uit Jesus se geskiedenis kom uit die ou mite van Osiris uit Egipte. Dit handel oor die godheid wat mens word sonder dat hy deur ’n man verwek is. Die kern van die verhaal is die sterwende godheid wat uit die dood opstaan.

Die Osiris-mite kom uit die opkomende en ondergaande son voort.

Volgens Van der Kaaij gaan dit daaroor dat Christus in jouself bestaan. Die besef het hom by die hart van die Christelike geloof gebring.

Een reaksie hierop is sprekend. Dit verwys na Michael Servet wat op 29 Oktober 1553 lewend verbrand is nadat Johannes Calvyn hom in hegtenis laat het. Hy het nie in die Drie-Eenheid geglo nie en Jesus as ’n voorbeeldige mens beskou.

Van der Kaaij is net deur een gemeente toegang tot die preekstoel geweier.

’n Rubriekskrywer reageer hy het ongelowig geword, omdat ’n mens met deesdae se kennis nie langer in die historiese Jesus en Sy wonderwerke kan glo nie. Hy benadruk dit dat ons vandag so slim geword het dat dit ons nie langer toelaat om in sulke fabels te glo nie. Deur Jesus Christus as non-existent te verklaar, sal die prediking nou suiwer wees.

Iemand se reaksie: Eindelik kan ek in Jesus glo sonder om my vir die kwasi-wetenskaplike onsin van die Bybel te skaam. ’n Spotprenttekenaar het dit raak opgesom: “Fiksie is die weg, die waarheid en die lewe”.

Iemand vertel hy kan nie meer in die “konsep God” glo nie en verwoord hiermee die kern van die probleem.

Deur wetenskap as onfeilbaar toe te pas, word dit ’n god en is daar nie meer ruimte vir die onverklaarbare nie. Daardeur word Jesus ’n konsep.

Hierteenoor hoor ’n mens die opvallende getuienisse deesdae uit Moslemlande van mense aan wie Jesus persoonlik verskyn het.

Dieselfde mense wat saam met Hom geleef het, getuig nie oor ’n konsep, fiksie of hipotetiese mens nie. Des te meer opmerklik dat een van hulle skryf: Daar het baie misleiers te voorskyn gekom in die wêreld. Hulle erken nie dat Jesus die Christus is wat mens geword het nie. Dit is wat ek met ‘die misleier’, die ‘antichris’ bedoel (2 Joh. 7).

Hy is die lewende werklikheid, want deur Hom lewe ons, beweeg ons, bestaan ons. . . Ons stam ook van Hom af” (Hand. 17:28).

Deur (hier)die genade van God is ek wat ek is (1 Kor. 15:10).

Ek is nie ’n konsep nie. Dus leef Hy.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.