Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
André Jansen: Wêreld nie vir God te groot

Die wêreld is té groot. Té ingewikkeld. Ek wil uit hierdie wêreld wegvlug, sug ’n vrou hier. Sy wil nie meer nuus luister nie. Die probleme is so groot. Dit haal die lug uit haar longe.

Neem Griekeland en Suid-Afrika as voorbeeld. Die spanning in Europa loop hoog oor Griekeland. Politieke leiers vergader, baklei en trek dwars. Elke voorstel word afgeskiet. Europese burgers is benoud, want hulle betaal om Griekeland te laat oorleef, maar gaan dalk nie hul geld terugkry nie. Eers is hulle kwaad vir die Grieke – hulle is dan lui en korrup. Nederlanders gaan eers op 67 jaar met pensioen, terwyl die Grieke al 15 jaar oordag sit en niks doen nie.

Dan hoor ons van enorme werkloosheid; groot gesinne wat op oupa se pensioentjie moet oorleef en baie selfmoorde weens die finansiële krisis. Terwyl hierdie persoonlike nood in Europese sitkamers tot lewe kom, veg die politieke leiers oor getalle en bankbalanse.

Elke Europese land veg vir sy euro’s. Die ander moet maar bloei.

Jan Burger het die Europese banke in 2008 gered. Nou stop die banke hul sakke weer vol. Bankbestuurders verdien absurde salarisse, maar wil Jan Burger nie meer help nie. Dit lyk waar wat die Bybel sê: Geld (Mammon) is ons god. Dit beheers ons. Ons beheer dit nie.

Die Suid-Afrikaanse sosiale media is oorvol van frustrasie en verdriet oor geweld, onvermoë en korruptheid van die nasionale regering en plaaslike regerings.

Voeg die groeiende buitensporige rykdom van sommiges en die ekstreme armoede van ander hierby en ’n mens verstaan die gevoel van magteloosheid.

Magteloosheid en frustrasie is egter geen verskoning om niks te doen nie. Prediker 10:18 sê: Luiheid laat die dak inval, slap hande laat die huis lek. En Spreuke 21:25: ’n Lui mens soek sy dood, want hy wil nie sy hande uit sy moue steek nie.

’n Mens kan mekaar lekker verwyt met hierdie soort tekste. Die bedoeling is eerder om verantwoordelikheid te neem. Dis hoe die Here ons geskape het. As almal wag dat almal verantwoordelikheid neem, gaan almal wag en uiteindelik toesien hoe almal en alles verlore gaan. Hierdie dinge is miskien waar, maar so bly die wêreld nog steeds té groot en ingewikkeld.

Die Bybel en die geskiedenis leer dat enkelinge gemeenskappe verander. Dit begin klein. Soos Jesus wat onopvallend in ’n stal gebore is en alleen aan ’n kruis gehang het. Petrus wat alleen na Cornelius, sy vyand, toe gegaan het. Enkelinge beïnvloed gemeenskappe.

Soos Ernest in KwaMhlanga wat ’n groetetuinprojek by ’n dagsorgsentrum vir MIV/vigs-kinders begin het. Hy betrek die gemeenskap en maak hulle medeverantwoordelik. Die stadsraad erken later sy aanvanklike pessimisme hieroor teenoor Ernest en bied nou hulp aan.

Hier in Nederland ontmoet ek Herman in sy elektriese rolstoel, ’n wewenaar met groot gesondheidsprobleme en ander sorge. Hy is stoksielalleen. Ons probeer om hom geestelik en prakties te help. Toe sê hy skielik: “Jy is vir my soos ’n vader.” Terwyl ek dekades jonger is as hy!

Toe tref dit my. Ernest en Herman is klein en eenvoudige voorbeelde. Dis juis die punt. Die wêreld is inderdaad té groot, behalwe vir God. Maak dus jou wêreld “kleiner”. Soveel dat jy wel ’n verskil kan maak. Vir elkeen sal dit anders wees. Groter vir die een; baie groter vir ’n ander, en vir nog iemand klein. As dit jou vreugde gee, is jy op Jesus se manier besig.

Die Here sal wel sy weg loop met die spreekwoordelike Griekelande en Suid-Afrikas. Gelowiges behoort hulle daarom steeds voor sy troon te bring. Hy verander harte en gesindhede, en kan regeringsleiers bewoë maak oor hul landsburgers, meer as oor geld, mag en status.

Dit gee lug.

  Ds. André Jansen is leraar in Woerden, Nederland.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.