Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
André le Roux: Moenie ons taal verromantiseer
Net wanneer Afrikaans sy stekels verloor, sal Die Taal en die werk van sy kreatiewe geeste in stand gehou word.

Eers ’n bekentenis: Ek dink Afrikaans, ek bid Afrikaans, ek swets Afrikaans en ek maak my ook soms skuldig aan rassistiese stereotipering wanneer ’n taxi voor my insny.

Nou, voordat ons Afrikaners, Afrikaanssprekendes en Afrikaanses – wat is die verskil en wie besluit? – toelaat dat wroegings oor “die aanslag” teen “Ons Taal” ons beetkry, moet ons besin oor hóé ons Afrikaans praat en ons ons Afrikaansheid na ander projekteer.

Afrikaans word al hoe meer deur te veel mense met woede, frustrasie en rasseweersin gepraat. Dit bepaal gedrag, alles kwansuis “ter wille van Afrikaans”.

Met die heimwee na apartheid, is daar ’n venynigheid wat nie net na hulle buite Afrikanerskap slaan nie, maar onderling. (Lees elke dag die aanvalle in Afrikaans deur Afrikaners op mede-Afrikaners in die Afrikaanse media.)

Daar is ook te veel van ons, veral dié wat wydsbeen oor die twee eras voor en sedert 1994 staan, wat ons verlede romantiseer. Ons doen dit sonder om selfs te wil weet hoe ander – die 1976-ers in die besonder – daardie bloedige en kwaadjare beleef het en in 2015 aan hul born-free-nageslag oordra.

Op kampusse word die politieke rowe nou weer van daardie senuwee afgekrap. Die groeiende studenteweerstand teen Afrikaans, én die land se Engelse koloniale nalatenskap, is grootliks die gevolg van botsende stereotipes wat in drog-karikature van wit én swart omsit. Die ergste is, dit is tuisgemaak.

Aan die een kant hunker apartheid-bittereinders na ’n soort self-verordende kloosterdom deur lewe te probeer blaas in ’n nuwe slagoffer-nasionalisme. Só word Suid-Tirool, ’n koue, eenrassige gehuggie in Italië, die fakkel in die wapad.

Daarteenoor staan die wanregering en die gevolglike verdere radikalisering van ANC-leiers wat deur die EFF op sleeptou is. Die neweproduk van hul magsmisbruik is dat alle swart mense onverdiend gestereotipeer word as onbevoegte, korrupte afbrekers.

Stereotipes is altyd gevaarlik en strydig met die noodsaaklike en onafwendbare daaglikse omgang in daardie hoofstroom waar gewone mense, wit en swart, gedeelde belange het.

Daardie breë Suid-Afrikaanse “middelgrond” (prof. Danie Goosen, as voorsitter van die FAK, in Junie vanjaar) is tussen die rasgegronde politieke uiterstes al ruimte waar ons, elke Suid-Afrikaner, kan en moet leef en meeleef.

Dit geld, teen wil en dank, ook diegene wat hulself in die hoekie van ’n onhaalbare paradysstaat sou wou inverf.

Afrikaans en sy instellings kan hul regmatige, en nasionale staanplek – as vak-, koerant-, sake-, kerk-, lag-, kwaad-, huiltaal – net handhaaf deur konstruktief te deel in die soeke na oplossings vir makro-vraagstukke. Alle Suid-Afrikaners is onder die juk van ’n groeikoers van slegs 1,4%; ware werkloosheid van by die 50%; wetteloosheid; én die land se weer verlore internasionale aansien.

Afrikaans kan net sy eerste belang – sy behoud – dien as Die Taal inklusief en in realistiese samehang met Engels, verreweg die meeste Suid-Afrikaners se tweede taal, in gesonde wisselwerking leef en gedy. Dit gebeur gelukkig daagliks en die berge val nie op ons nie.

Maar waar, binne die gedeelde milieu, Afrikaans deur van sy pleitbesorgers sinoniem met rassisme gemaak word en só Afrikanerskap ook daarmee brandmerk, is dit fataal. Dit is taalselfmoord.

Net wanneer Afrikaans sy stekels verloor, sal Die Taal en die werk van sy kreatiewe geeste in stand gehou word. Nie een van hulle het Afrikaans geskryf om dit af te sonder nie.

Dié land het ’n nuwe geskiedenis nodig, een wat nie weer geromantiseer of gekriminaliseer kan word nie. Die kampusjeug, wit en swart, vereis dit.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.