Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
VAN ALLE KANTE
Charles Fryer ontheilig die ‘heilige halle’
Etienne Britz

By Danie Botha se hulde aan die ontslape Charles Fryer (DB, 19.11) wil ek graag aansluit deur te vertel hoeveel pret Charles­ se gevoel vir absurditeit my as student besorg het. Ons was in 1969-1970 saam studente-assistente in die departement Afrikaans-Nederlands op Stellenbosch.

Die departement in die Wilcocks-gebou het vier wandelgange gehad wat ’n vierkantige “sirkelgang” gevorm het. Op drie van die vier hoeke was die vermaarde professore Willem Kem­pen, W.E.G. Louw en D.J. Opperman in enorme werkkamers gesetel. Portrette van 19de-eeuse Nederlandse skrywers, sommige met knypbrilletjies, en glaskaste met toetspunte en aankondigings het tot ’n gestrenge atmosfeer bygedra. Die studente die wandelgange die “heilige halle” genoem.

Hierdie heilige halle het uitgeroep om ontheiliging wanneer die kat afwesig was en die muise kon speel. Charles het die halle ontheilig deur sy hande uit sy broeksakke te pluk, hulle soos pistole te rig, en op my of die bode Johnny te vuur telkens as ons mekaar in die wandelgange teëkom. ’n Professorale aantog is vervang deur Charles in die gedaante van ’n cowboy wat bakstaan om te skiet.

Ten spyte van hierdie onstigtelikheid het ons destyds baadjie en das gedra en die gesag gerespekteer. Met skok het ek later jare verneem dat studente-assistente in die aand van die heilige halle ’n renbaan, ’n Killarney, maak. Die departement se vlekvryestaal-teetrollies was die renmotors, met ’n meisie bo-op elke kompeterende trollie.

Die gewaagde sestigerjare het egter invloed op my en Charles uitgeoefen. Charles het my op guitige uitdrukkings getrakteer. ’n Franse tongsoen het hy ’n “delikate mangel-operasie” genoem. Die manlike gay gemeenskap het hy die “onheilige suster-orde” genoem. Ons was bevriend met gay klasmaats, maar Charles kon geen moedswilligheid wat die lagspiere prikkel, weerstaan nie.

Danie Botha het gelyk: My loopbaan as verhoogakteur is beperk tot die rol van die vampier in Charles se gelyknamige toneelstuk. Ons het saam verskeie Dracula-produksies van Hammer Films bygewoon. Dit het gelei tot die toneelstuk waarin ek, in die slottoneel, met Dracula-valstande en ’n mond vol bloed op ’n aanvallige dame toeslaan.

Die bloed het ons van gouestroop gemeng met Moir se rooi versiersuiker-kleurstof gemaak. Hierdie klewerige bloedformule was ’n fout. Dit het my laat stik toe ’n professor, ’n vampier-kenner, my met ’n kruis en ’n houtpen toetakel. Ek het doodsbenoud op die verhoog neergesyg terwyl ek Charles besorg sien naderstorm uit die gehoor. Met my laaste kragte het ek deur die kasteel se muur, ’n beskilderde doek, gestorm. Die kasteelmuur het glo wild gewapper.

Ek kan vandag eerlik sê dat ek gehoop het om die opvoering te red deur nie werklik op die verhoog te sterf nie. “The show must go on” was my egte sterwenswoorde voordat ek skielik weer asem kon skep.

Charles was my redder en iemand wat my as student groot plesier besorg het. Ek kan byvoeg dat ons ’n stampvol saal gehad het die aand nadat ek byna die emmer geskop het.

​ecbritz@gmail.com

Stellenbosch

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.