Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Goeiemôre
Charles Smith: Revolusie dreig en Afrikaners paartie toe oë

So, die revolusie het begin.

Dis die nuwe veldtog van verskroeide aarde teen Afrikaners en Afrikaans. Die Taal wat almal so bang maak.

As Zuma in die pekel is, stig ’n brand, wys vingers na die ‘Boere’ en skree rassisme.

Eers was dit die Britte onder Kitchener se Nazi-plan en nou het die kommuniste onder tsaar Blade Nzimande dit oorgeneem. Kampusse word afgebrand en tot stilstand geruk. Tientalle swart seuns sterf elke jaar in inisiasieskole. Korrupsie, gierigheid en misdaad vernietig ons land.

Die ekonomie is danksy die ANC en sy vermiste hoof op die rand van ineenstorting. Baie swart skole is wanfunksioneel; 61% van 888 000 babas verlede jaar is sonder pa’s gebore en die meeste van dié ma’s is werkloos.

Maar Blade dink Afrikaans aan universiteite soos Maties is die grootste probleem in die land. Regtig. En sommige Afrikaners sluk dit.

Skurke val Ikeys met riool aan en op Elsenburg word studente wat eksamen moet skryf met swepe en stokke geslaan. En al wat Blade kan doen, is om te kla oor Die Taal op Maties.

Dis kamstig rassisme – ’n universiteit waar duisende bruin studente ook in hul moedertaal studeer.

Die revolusie teen Afrikaans is alles ’n rookskerm om die verwoesting van die land deur Jacob Zuma en die hiënas in die ANC te verdoesel. Dis maklik. As Zuma in die pekel is, stig ’n brand, wys vingers na die “Boere” en skree rassisme.

Lees ’n bietjie wat spel die SAKP se Nasionale Demokratiese Revolusie (NDR) uit (in die taal van die nuwe bevryders): “Society is always in constant revolution, with the ultimate goal being the seizure of political and state power.”

Alles moet brand, ja. Dit blyk die ondersteuners van Open Stellenbosch en Rhodes Must Fall en die Elsenburg-klasontwrigters het hierdie NDR-wysheid verkeerd gelees: “Revolutions can be between or against classes.”

Eisj. Inglish is mos nie hul moedertaal nie.

’n Handjievol kommies onder Blade het almal in vrees en bewing. Dié revolusioniste gaan ook op Kovsies toeslaan. Hier weier ’n paar opgesweepte studente dat Afrikaans ’n bestaansreg het. Hulle weier om iets van hul moedertale, Sotho en Xhosa, te hoor. En Afrikaners steun hulle. Waar is die Afrikaanse studente? Gaan julle jul laat slaan met swepe en tjoepstil bly? Staan op. Wys ’n bietjie rugraat, dêmmit!

Môre gaan julle vir jul kinders moet sê jammer, julle het gepaartie terwyl ’n paar kommuniste jul moedertaal vernietig het. Sonder dat julle ’n bier verspil het.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.