Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Dana Snyman: Die verraad met die T-hemp

Wasdag

Ek hou in my bakkie voor die motorhuis stil. Ek was mall toe. Ek maak die agterplaas se hekkie oop, toe vang my oog iets op die wasgoeddraad: Daar hang ’n T-hemp met president Jacob Zuma se gesig op.

Lettie Bogosi, wat saam met haar man, Johannes, in die woonstel langs my huis woon, is in die waskamer doenig. Sy was gewoonlik op ’n Donderdag ons almal se klere sommer saam.

“En daai T-shirt, Lettie?” vra ek.

“Watter een, Ouboet?”

“Die een met Zuma se gesig op.”

“Dis Johannes s’n, Ouboet.”

Johannes kom om die hoek van die huis gestap. Hy probeer dapper ons yl Weskus-tuin aan die gang hou.

“Waar kry jy daai T-shirt, Johannes?” vra ek.

“Ek het hom gekry toe ek gevote het, Ouboet,” antwoord hy.

“Het jy vir daai skelm gevote?”

Johannes antwoord my nie. Hy lag net. Ek stap by hulle woonstel in en gaan sit op die bank, wat eers in my sitkamer gestaan het.

“Nee, nee, nee, Johannes,” sê ek. “Jy kan mos nie vir Zuma vote nie.”

Lettie kom ook by die deur in. “Ons het eintlik vir Mandela gevote,” sê sy.

“Ouboet moenie worry nie,” voeg Johannes by. “Ek dra die hemp nie bo nie. Ek dra hom soos ’n vest onder die ander hemp.”

Eers wil ek begin lag, maar ek doen dit nie. Ek is verras deur die gevoelens wat die T-hemp aan die draad in my losgemaak het.

Ek voel ’n bietjie verraai deur Johannes-hulle wat vir die ANC gestem het.

“Mandela is nou dood,” sê ek. “Julle kan nie vir Zuma stem nie. Hy is nie ’n goeie man nie.”

“Zuma het vir ons ’n huis op Ventersdorp gebou – verniet,” kap Lettie terug. “Ons het nie ’n sent betaal nie. Zuma het vir ons ’n kraan met water gegee.”

“Dis nie Zuma nie,” sê ek.

“Dis Zuma, Ouboet,” antwoord Lettie. “Dis die ANC. Die ANC het ons gehelp. Ouboet het Johannes se dompas gesien. Ek het ook ’n dompas gehad. Die polieste het ons gejaag met die honne. Die ANC het ons gehelp om daai af te kap.”

“Het Ouboet vir die DA gestem?” vra Johannes.


Ek doop jou in die naam


Nou die aand bel Attie uit die bloute. “Onthou jy nog vir Santie?” vra hy.

“Natuurlik onthou ek vir Santie,” sê ek.

Santie was saam met ons in standerd nege, totdat sy swanger geraak het.

Een dag was Santie nog in die klas, die volgende dag was sy op pad na die Tehuis vir Ongehude Moeders in die stad.

“Onthou jy al die skinderstories?” vra Attie.

“Ek onthou,” sê ek.

Dis omdat Santie se pa en ma geskei is dat Santie swanger geraak het, het mense gesê. Dis omdat Santie na liefde gesoek het.

Dis omdat Santie se liggaam te vroeg ontwikkel het. Dis omdat Santie kuns geneem en André P. Brink se boeke al in standerd sewe gelees het.

Wie haar verwagtend gemaak het, het ons nie geweet nie. Dit het glo gebeur toe Santie in die April-vakansie by haar pa in die stad gekuier het.

Dit was ’n outjie wat al werk.

Dit was ’n student.

Dit was ’n soldaat. Dit was haar getroude oom.

Santie was maklik. Santie stoot boep. Santie is op die paal. Santie kan nie meer in die kerk voorgestel en aangeneem word nie.

Santie se ma het die dorp ook kort daarna verlaat. Sy het ’n senu-ineenstorting gehad. Sy het oornag grys geword.

Sy het miergif gedrink, toe moes haar maag uitgepomp word. Sy het op Witbank gaan woon.

“Bestaan die Tehuis vir Ongehude Moeders nog?” vra Attie vir my oor die foon.

“Ek weet nie,” sê ek.

Dit was glo naby die H.F. Verwoerd-hospitaal en daar was tralies voor die vensters. Die meisies is nie toegelaat om alleen toilet toe te gaan nie, want party het glo ’n klomp Disprins saam met Coke afgesluk en probeer om die babas só in die toilet af te bring.

“Wat het jou aan Santie laat dink?” vra ek vir Attie.

“Ag, ek weet nie,” sê Attie, en op die agtergrond kan ek ys in ’n glas hoor rinkel.

“Soms wonder ek maar net wat het van die kind geword.”

■ Die sketse kom uit Dana Snyman se nuwe boek,In die blou kamp. Dit word deur Tafelberg uitgegee en kos R225.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.