Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Danny Titus: ‘Om te dink taal kry nou erkenning’
Die voorsitter van die Kommissie vir Kultuur, Godsdiens en Taalregte sê onlangs by ’n beraad oor Afrikaans die volle verhaal van Afrikaans en Afrikaanssprekendes moet vertel word.

Die Wet op die Gebruik van Amptelike Tale Wet 12 van 2012 is die afgelope 18 maande soos die spreekwoordelike stopstraat deur staatsdepartemente, openbare ondernemings soos Telkom en Eskom, en nasionale entiteite soos die Padongelukkefonds en die Oorlogsmuseum geïgnoreer.

Nadat Nathi Mthethwa, minister van kuns en kultuur, ingegryp het, het die prentjie begin verander. Die departement het met indringende werksessies die erns van die wet aan staatsdepartemente en die ander staatsentiteite uitgewys.

Een vir een het hulle begin voorleggings doen oor hul onderskeie taalbeleide. Sommige het met behoorlike en diepgaande aanbiedings gekom, ander het ongemaklik kom stamel dat hulle nog nie veel aandag aan taal gegee het nie, ander het gewoon gesê dis te duur, ander weer dat Engels tog maar die algemene voertaal in ons meertalige land is.

Enkeles het Afrikaans as een van die minstens drie tale genoem. Een wetenskapinstelling noem dit dat Engels tog die wetenskapstaal is. Hier en daar word die demografiese verspreiding van tale in Suid-Afrika ook bygetrek.

Die feit dat Afrikaans die derde grootste taal in die land is, word nog nie genoem nie. Die afsnydatum vir die instelling van die wet is 2 Mei vanjaar en die departement wil teen einde vandeesmaand soveel moontlik taalbeleide hê sodat die minister kan gaan rapporteer aan die parlementêre portefeuljekomitee van kuns en kultuur. Ons sal verplig wees om aan die parlement uit te wys wie van julle die wet geïgnoreer het en dan sal julle moet gaan “please explain”, was die nadruklike boodskap van die departement van kuns en kultuur by die werksessies.

Intussen het ’n indrukwekkende stroom beleide gevolg, maar volgens ons berekeninge by die ATKV is dit steeds minder as ’n kwart. Sodra die beleide in die Staatskoerant gepubliseer word, is daar geleentheid vir 30 dae van kommentaar.

Die fokus vir die Talewet het dus nou verskuif van wie moet wanneer wat doen tot die inhoud van die argumente.

In die keuse van tale moet ook gekyk word na die gebruik, praktiese uitvoerbaarheid, koste, streekomstandighede, en die balans tussen die behoeftes en voorkeure van die publiek wat gediens word.

Uit die Grondwet kom die volgende oorwegings: die bevordering van taaldiversiteit, die erkenning dat inheemse Afrikatale tot hoër funksies moet kan ontwikkel, die strewe dat tale werklike amptelike tale moet wees en nie net vir die skyn nie. Daar is nog meer.

Die verhaal word vertel toe die kompromie oor 11 tale laataand gesluit het, het adj.pres. Cyril Ramaphosa met groot gelatenheid gesê “om te dink my taal kry nou grondwetlike erkenning en staan daar langs Engels en Afrikaans.”

Dit is juis waaroor die gesprek nou moet gaan. Die amptelike tale kan nie verdwyn onder die oorheersende rol van Engels nie.

Die voorsitter van die Kommissie vir Kultuur, Godsdiens en Taalregte sê onlangs by ’n beraad oor Afrikaans die volle verhaal van Afrikaans en Afrikaanssprekendes moet vertel word.

Die African vrou wat Afrikaans praat, inkluis.

Mathews Phosa het by dieselfde beraad die aand vertel hoe Totius se gedig “Vergewe en Vergeet” vir hom ook in die struggle lafenis gebied het.

“Tog het daardie boompie weer stadig reggekom, want oor sy wonde drup die salf van eie gom.”

Afrikaans, die taal van verdrukking, wat salwing bied te midde van verdrukking.

Ons moet die volle verhaal van Afrikaans vertel en die Talewet tot lewe bring.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.