Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Dennis Cruywagen: Kom ons vat ons taal terug!
Dis tyd dat bruin mense hul stem dik maak vir Afrikaans op Stellenbosch, skryf Dennis Cruywagen.
Bloktyd by Stellenbosch in 1959: Het hulle gedink Afrikaans behoort net aan hulle?

Genadendal was eens op ’n tyd bekend as die Atene van Suider-Afrika, maar sy gloriedae het verskiet.

Die museum op die dorp – trots en imponerend op Kerkplein langs die Morawiese kerk – vertel egter vandag nog die storie van sy trotse erfenis.

In hierdie erfenis steek ook die pyn van onderwerping en onteiening en van ’n geskiedenis wat verdraai is – soos wat ons al so baie gesien het.

Genadendal het byvoorbeeld ’n paar geskiedkundige deurbrake gemaak, wat deur die apartheidsregering se propagandamasjien vir homself toegeëien is om in diens te staan van die mites van Afrikanerdom en die Afrikaanse taal.

Dié het Afrikaans so deeglik vir homself opgeëis dat die taal bekend geword het as die taal van die verdrukker. Maar die onderdrukker was nie die eerste wat die taal gepraat het nie en ook nie die eerste wat ’n Afrikaanse koerant gepubliseer het nie.

Trouens, ’n eksemplaar van Die Bode in die Genadendal-museum lê een van die vele leuens van die vorige regime bloot. Hierdie leuens het net daartoe bygedra dat die Afrikaanse taal beswadder is. Maar kom ons noem nou die kind by sy naam: Afrikaans is ’n Afrikataal en dit het heel eerste oor die lippe gerol van mense wat tans nie as Afrikane gereken word deur die huidige Suid-Afrikaanse regering nie.

En dis ’n taal wat steeds trots gebruik word in Genadendal, die Bo-Kaap, die Kaapse Vlakte en baie ander dele van Suid-Afrika. Die grootste komponent van die bevolking van die Wes-Kaap wat tot hul skande nie deur die ANC as Afrikane gesien word nie, noem Afrikaans hul moedertaal. Dié mense is die nasate van die eerste nasies van Suid-Afrika. Hulle word bruin mense of kleurlinge genoem.

Die regering kan hulle noem wat hulle wil, maar dit verander nie die feit dat hul voorvaders die eerste vryheidsvegters was nie, toe dié met die Portugese slaags geraak het in Tafelbaai in 1510. Net soos die vorige politieke bestel, vier die nuwe een ook nie sulke militêre oorwinnings nie. Om dít te doen sou beteken hulle erken die land behoort eintlik aan die nasate van die eerste nasies en nie aan die nuwe heersers nie.

Verandering kom nie sonder ongemak, mededinging en selfs pyn nie.

Wat is die verband tussen bogenoemde en die vurige debat op Stellenbosch?

Eerstens moet ek iets sê oor my verhouding met Afrikaans. Ek het grootgeword met Afrikaans as huistaal. Later, in 1976 toe ek ’n student was aan die Universiteit van Wes-Kaapland, is ek deur ’n tydperk waarin ek ’n sterk afkeer gehad het van dié mooi taal. Dít is omdat ek gedink het Afrikaans is toegeëien deur die ondemokratiese leiers. Later het ek besef ons gebrek aan stemreg kanselleer nie my gemeenskap se eienaarskap van die taal uit nie.

En nou is dit 2015 en ek het nooit gedink ek sou ’n kampvegter vir Afrikaans wees nie, veral nie nou dat my werktaal en my kinders se eerste taal Engels is nie.

Maar hier is ek nou, en ek is ook een van die 325 088 wat die video Luister op YouTube gekyk het. Dié dokumentêr deel ’n emosionele verhaal van swart studente aan die Universiteit Stellenbosch. Die studente verwoord hul sienings en ervarings van rassisme, van ’n ander kultuur en van die omgewing.

Terwyl ek gekyk het, het ek gevind ek doen ’n onwillekeurige “velkleursensus”: Die onderhoude word oorheers deur – om nou ANC-taal te gebruik – Afrikane.

Hoekom? Het die ANC se diskriminerende beleid my nou ook in ’n rassis verander? Ek moet natuurlik erken rassisme is nie ’n unieke Stellenbosch-probleem nie – dis ’n Suid-Afrikaanse siekte wat deur die regering vererger word.

Ons móét almal saamstaan teen rassisme voordat dit ons vernietig.

Van die opinies wat in Luister uitgespreek is, is vir ons huishouding niks nuuts nie, aangesien ons twee Engelssprekende seuns het wat in Stellenbosch studeer het en in Simonsberg gebly het.

Ek en my vrou was ooggetuies van hul eie stryd met van hierdie kwessies. In hul koshuis was die dominante kultuur bestrooi met braaivleis, rugby, rooiwyn en bier. Ons seuns het gou agtergekom daar is verskillende standaarde: As Afrikaners studentepret pleeg met drank en partytjies, wel, dan was dit aanvaarbaar. Maar niewit mense wat makietie hou, het net die stereotipe van die “dronk kleurling” uitgeleef.

Ja, daar is rassisme op Stellenbosch.

En ja, die kultuur is anders, soos wat ons tweeling en hul vriende dit ook beleef het.

Maar hulle het ook geweet kultuur verander nie oornag nie. Een van hulle het juis verlede naweek opgemerk dat hulle presies geweet het wat om te verwag toe hulle in Stellenbosch opgedaag het by ’n Afrikaanse tersiêre inrigting.

Wat daar en by al ons ander tersiêre inrigtings gebeur, weerspieël ons samelewing. Is Stellenbosch anders as ons skole? Is ons nie besig met ’n proses van evolusie in ons samelewing nie?

Verandering kom nie sonder ongemak, mededinging en selfs pyn nie.

As deel daarvan om ’n hopelik nierassige samelewing te bou, moet ons kyk na die realiteite van die lewe. In ’n provinsie soos die Wes-Kaap, waar Afrikaans die grootste taal is, moet Afrikaanssprekendes ’n inrigting hê waar hulle in hul moedertaal kan studeer.

Dis geen veldtog om Stellenbosch wit te hou nie. Dis trouens hoog tyd dat Stellenbosch die demografie van die Wes-Kaap verteenwoordig.

’n Begrip van die geskiedenis van Afrikaans gee ook ’n begrip vir die bydrae van die eerste nasies. Hul nasate het rede om te vrees vir die toekoms van tersiêre opvoeding vir hul kinders. Weens die vrees vir viktimisasie en dat hulle as rassiste uitgekryt sal word, is min van hulle bereid om uit te praat oor hul reg tot onderrig in hul moedertaal.

Maar dit is nie nou die tyd om stil te bly nie, dis ’n tyd om die stem dik te maak. Luister het klippe in die bos gegooi, maar dit wys net ’n deel van die groter prentjie.

Dit sê niks oor die regering se segregasie van die swart gemeenskap in Afrikane en nie-Afrikane nie. Dit sê niks oor die toekoms van bruin mense wat hul onderrig wil voortsit in Afrikaans nie.

Hoeveel langer gaan hierdie onteiening voortduur?

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.