Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Die 2 wêrelde van godsdiens

’n Slegte ding van godsdiens is dat dit jou in twee wêrelde kan laat leef.

Kyk maar na die Doppers. Die Doppers wat ek ken, is heerlike mense. Maar Sondae en op sinodes verander hulle. Dis of hulle in ’n sprokie in beweeg waar ’n ­nare heks hulle toor om vir ewig te slaap. Soos Doringrosie.

En terwyl die Here almal se oë oopmaak om te sien vroue is gelyke mense, staar die omies hulle blind teen 1 Korin­tiërs 14:34,35 en 1 Timoteus 2. En ons weet almal dat die verse in 1 Korintiërs ’n glos (kantaantekening) is.

In die oudste manuskripte wat ons het, is hierdie verse wat vroue laat swyg op verskillende plekke ingevoeg. En dit bewys mos dit was nie deel van die oorspronklike teks nie.

En 1 Timoteus, ag menere, ons weet mos die briewe aan Timoteus kan nie van Paulus af kom nie omdat die kerk­like strukture wat daar beskryf word nog nie in Paulus se tyd bestaan het nie.

Wanneer julle ontwaak uit die slaap, kan julle Romeine 16 lees waar Paulus die vroue groet wat hy volg om self ’n goeie Christen te wees.

Die andersheid van godsdiens moenie daarin lê om na ’n ander wêreld te ontsnap waar jy die ander dwing om jou en jou dogma te aanbid nie.

En wat nou van die NG Kerk? Die NG Kerk se wit lidmate werk in die week saam met swart mense, saam in kantore en in ondernemings. Maar Sondag stem hulle teen Belhar. Maar eintlik is hulle versot op Belhar. Want hulle kan dit as ’n verskoning gebruik om nie met die swart kerk saam te smelt nie. Want hulle wil nie hul eiendomme en salarisse met die swart kerk deel nie.

En kyk nou, daar iewers in Parys, Frankryk, het jongmense gewoon wat iemand se kind was en hulle voorberei het op ’n lewe.

Maar op ’n dag oortuig hul godsdiens hulle om mense wat Mohammed satiries teken dood te skiet.

Sê nou maar net godsdiens kon deel wees van ’n gesonde lewenstyl, iets wat jou hier op aarde gesond laat lewe en nie na ’n ander wêreld laat ontsnap wanneer jy iemand wil bykom nie.

Sê nou maar net godsdiens laat jou die waarde in ’n ander mens sien. Sê nou maar net godsdiens se hoofdoel was dat ons mekaar respekteer.

Dan dink ek dat Charlie Hebdo juis goed sou doen om van godsdiens te leer. Ek dink regtig hulle kan leer om dít wat waardevol is vir ’n godsdiens te respekteer, eerder as om van Mohammed ’n drolletjie-drie-mannetjie te maak, wat hy regtig nie was nie.

Weer eens, die Moslems wat ek ken, is verruklike mense. Dis min dat daar geslagsiektes onder Moslems voorkom, verstaan ek, en hulle kyk baie mooi na mekaar waar daar nood is.

Net, hulle dink min of meer dieselfde oor vroue as die Doppers.

En dit bring ons hierby uit: Dis juis godsdiens wat ons moet leer om krities te wees. En daar was Jesus juis ’n jol, wat skynheilige godsdiensleiers en magsjagse regeringsmense met groot satire bygekom het. En daarvoor met sy lewe geboet het.

Net soos mense wat in ons land vandag die regering kritiseer en die staatshoof met satire bykom – en daarvoor moet boet met hul professionele waardigheid en om verskoning moet vra.

Maar godsdiens moet ons krities maak. Waar mag misbruik word, waar mense mislei word, waar vroue se gelykheid gesteel word . . . daar moet dit juis godsdiens wees wat sê ons moet saam aan alternatiewe werk.

Die andersheid van godsdiens moet daarin lê om hierdie wêreld beter te maak met waardes soos liefde en omgee en waardigheid en droom en verwondering. Die andersheid van godsdiens moenie daarin lê om na ’n ander wêreld te ontsnap waar jy die ander dwing om jou en jou dogma te aanbid nie.

Maar ons wil ook nie ’n wêreld hê waarin Charlie Hebdo meedoënloos elke stukkie heiligheid uit enigeen pers wat dit waag om godsdienstig te wees nie.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.