Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Die halwe waarhede van ’n pampoenkenner
Koos Kombuis

Die meeste van julle onthou nog seker daardie TV-advertensie waar die een ou vir die ander ou vra: “But can you do THIS?” en dan sy ore wikkel.

Die ander ou reageer dan deur ook sy ore te wikkel. En so word ’n pragtige vriendskap gebore.

Dit wys jou net, verskillende dinge is belangrik vir verskillende kulture. Tot so ’n paar jaar gelede was dit beskou as helse polite vir mans om terug te staan sodat ’n ‘dame’ eerste deur ’n deuropening kan stap. Dog hierdie, ietwat geveinsde respek vir die vrouegeslag – kan jy glo, hulle was toe nog bekend as “die swakkere vat” (goeiste!) – het weinig betekenis gehad, want in lande soos Italië was dit sosiaal aanvaarbaar vir ’n man om te fluit as hy ’n mooi vrou sien, of haar selfs ’n stoute knypie op die boud te gee in die verbygaan.

Vandag is daar ’n naam vir sulke gedrag. Hulle noem dit “seksuele teistering”. Jy kan aangekla word as jy sulke dinge aanvang, hoe lekker dit ook al mag wees.

Wat gaan ons doen as daar eendag ’n ruimteskip van ’n ver gevorderde kultuur op aarde land, en die enigste manier van kommunikasie wat hulle ken, is deur hul ore te beweeg? Hulle sal dink dat die meeste van ons glad nie kan praat nie, want die meeste van ons kan nie ons ore beweeg nie.

Onlangs het ’n bekende en vooraanstaande sanger, skrywer, resensent (en pampoenkenner) – ek wil nie sy naam noem nie, want ek wil nie hê hy moet hierdie rubriek raak-Google en dan ’n tydelike interdik teen my probeer kry nie – die stelling gemaak dat swartmense ’n “agterstand” het by witmense, en dat hierdie agterstand apartheid genoodsaak het.

Dit is ’n baie gevaarlike stelling. Dit is gevaarlik, nie omdat dit ’n leuen is nie, maar omdat dit ’n halwe waarheid is.

Toe die Westerlinge aan die Kaap die Goeie Hoop land, eeue gelede, was dit vir die strandlopers en ander inheemse volke ’n gebeurtenis so enorm en so ontwrigtend soos wat die landing van ’n ruimteskip met aliens vir ons sou wees.

Ons weet nie wat die eerste gesprekke tussen die Europeërs en die plaaslike inwoners in die skaduwee van Tafelberg behels het nie, want niemand het daaraan gedink om video-clips daarvan te neem nie. Hoe jammer!

Dalk het die Westerlinge gevra: “Het julle al die wiel ontdek?”

Hulle kon netsowel gevra het: “Kan julle jul ore wikkel?”

Wel, ek is wit, maar ek moet erken ek sal nie hond haaraf maak as iemand my ’n tegniese pos by Eskom aanbied nie.

Dis ook moontlik dat die Khoi-San, toe hulle die eerste keer in aanraking met die wit setlaars gekom het, gewonder het hoekom laasgenoemde te dom was om ’n pyl en boog te maak of te kan spoorsny. Dis moontlik dat hulle die witmense om hierdie redes as agtergeblewenes gesien het. Want die witmense het geen benul gehad van die dinge wat vir die Khoi-San van die allergrootste waarde was nie.

Dis hoekom die stelling “swartmense het ’n agterstand” slegs ’n halwe waarheid is.

Die sanger/skrywer/rubriekskrywer/sogenaamde pamoenkenner het ongelukkig verder gegaan en hierdie halwe waarheid opgevolg met ’n infame leuen. Hy het bygevoeg: “witmense kan niks by swartmense leer nie”.

Sjoe.

Onmiddellik dink ek aan Kytie, ons huishulp, wat my as kleuter met groot liefde en humor en bystand leer loop het.

Ek dink aan die dinge wat Suid-Afrikaners by Nelson Mandela geleer het oor versoening en vergifnis.

Ek dink aan my lang gesprek, een dag in die skaduwee van ’n boom by Oppikoppi, met die musikant Ghito Baloy. Die akkoorde wat hy vir my op sy kitaar gewys het. Sy inspirerende lewensverhaal, so anders as myne, wat my tot soveel insigte omtrent myself en my kultuur gebring het.

Ek weet dat die stellings van hierdie sanger/resensent/pampoenkenner/skrywer vir baie Afrikaners aanloklik is. Ek kan verstaan dat daar boere is in plekke soos Leeudoringstad wat aanklank vind by hierdie filosofie. Daardie boere ervaar die lewe totaal anders as ons in die stede. Vir hulle is hul daaglikse realiteit ’n oorlewingstryd, ’n desperate oorlog teen misdaad, moordbendes en oneffektiewe polisie. My hart bloei vir hierdie en baie ander mense in die platteland, wat so gruwelik in die steek gelaat word deur die oneffektiwiteit en die swak dienslewering van die huidige bestel.

Ons leef in ’n “verskeurde” land. So erg gaan dit hier dat ’n rubriekskrywer onlangs na ons demokrasie verwys het as ’n “disfunktokrasie”. As gevolg van oorhaastige en onnadenkende regstellende aksie is vele onervare mense aangestel in poste waarvoor hulle nie die nodige opleiding en kundigheid het nie.

Regsgesindes gryp hierdie chaotiese toestand aan as “bewys” dat swartmense kwansuis deur die bank “dommer” is as wittes.

Wel, ek is wit, maar ek moet erken ek sal nie hond haaraf maak as iemand my ’n tegniese pos by Eskom aanbied nie.

Oukei, ek sal dalk ook nie aandring op ’n Kersfeesbonus nie.

Alle swartmense is nie engeltjies nie, dis waar. En die oeroue liberale teorie van die sogenaamde ‘edele barbaar’, later gevolg deur die slagspreuk ‘black is beautiful’, is eintlik net so neerbuigend as die regsgesinde filosofieë van die sanger/skrywer/resensent/sepie-ster/pampoendeskundige.

Dit is dalk ’n versoberende gedagte – ek herinner myself gedurig daaraan! – om, telkens wanneer ek my wil skuldig maak aan Afro-pessimisme, te onthou dat ons Westerse beskawing – ja, die einste beskawing wat nou die ganse ekwilibrium van die natuur bedreig – eers die afgelope honderd jaar of meer sy grootste ontdekkings gemaak het. Ons bestaan al millenia lank, ja, ons filosofeer al met mekaar sedert die tyd van die ou Grieke, maar feitlik alles wat ons ken, ons motors en ons vliegtuie en ons TV’s en ons internet, om die waarheid te sê ons totale industriële verwysingsveld, het eers gestalte gekry in wat, vergeleke met die totale tydsduur van ons geskiedenis, skaars ’n oogknip gelede was. Vir ’n spesie wat soveel millennia gelede al kennis van vuur en hitte gehad het, het ons besonder lank gevat om die eerste mikrogolfoond te bou!

ONTHOU: Tot ’n paar eeue gelede was daar nog heksejagte in Europa.

ONTHOU: Ons het eers die afgelope tien jaar BEGIN ontdek dat gays oukei is.

Ons wittes het werklik geen rede om te glo ons is geneties soveel beter as ander Suid-Afrikaners nie.

Ons is almal net mense. En ons het mekaar nodig. Nou meer as ooit tevore.

’n Voorspoedige nuwe jaar vir al ons lesers.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.