Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Die terreur van die horlosie in jou lewe
Wilhelm Jordaan

Ouer mense besef soms op ’n dag hulle het baie minder tyd (lewensdae) oor as wat verby is. En dis ’n eenvoudiger som as binne hakies eerste en dan maal en deel en optel en aftrek van links na regs . . . !

Dan wonder jy of T.T. Cloete se woorde in die gedig “Opruim” vir jou geld: “Die nietige het ons rykdom / geword, die daaglikse het sin / gekry omdat ons van die datumlose begin / begin weet en van die datumlose wat kom . . . ”

Wat ’n lieflike raaisel (vir ’n ouer mens) oor tyd-ruimte wat verby en nog oor is.

Wat is die tyd dan tog anders as die terreur van die horlosie in ’n mens se lewe? Soos toe Lilliput se klein mensies gereken het die horlosie is Gulliver se god omdat hy dit heeltyd dophou.

Dit is die moderne tydsbesef; gemete wiskundige tyd bereken in jare, weke, ure, minute, (nano)sekondes – waar tyd ’n leë, aaneenvloeiende lyn vorm sonder ’n aanduiding van hoe die leë lyn gevul word.

Die digter W.H. Auden had sy oog op die ingevulde tyd toe hy geskryf het: “Clocks cannot tell our time of day / For what event to pray, / Be­cause . . . we have no time until / We know the time we fill . . . ”

Hoe weet ons dan “ons vul die tyd” waarvan Auden praat?

Miskien deur ’n bietjie meer religie (minder godsdiens-tigheid) in die alledaagse te vind.

Elke mens het iets daarvan nodig; juis omdat horlosietyd se eise ons algaande beangs maak.

In die bediening van klein sakramente langs die pad – daar waar die eenmalige onvervangbare oomblik aan’t gebeur is in die geleentheid wat nóú hier aan jou gegee is; ook buitekerklik in die gemeentes van die lewe.

Dit is tyd wat ruimte skep waarin ’n ander mens – jou man, vrou, kind, vriend en vriendin en ’n onbekende ander – lewensveranderend deur jou teenwoordigheid aangeraak word. Deur jou woorde, gebare én in die stilte van net dáár wees. Elke mens het iets daarvan nodig; juis omdat horlosietyd se eise ons algaande beangs maak; vreemd vir die ander en daarom bang vir die ander.

Hel word dan, soos Jean Paul Sartre gesê het, die teenwoordigheid van die Ander.

Tyd wat gevul kan word, is altyd beskikbaar as ons begin dink soos die karakter Daniel Ziskind in Dara Horn se roman The World to Come: “Time is created through deeds of true kindness. Days and hours are not time, but merely vessels for it, and too often they are empty until an act of generosity changes it in an instant and sends it soaring through arcs of rich seasons, moment after spinning moment of racing beauty. And then, with a single unkind deed, a single withheld hand, time ceases to exist.”

Wanneer ons die klein sakramente langs die pad van mekaar weerhou, maak ons die eenmalige oomblik tot niet; vernietig ons die tyd wat gevul kan word en leef ons bedroewend in die “Hel” saam met die altyd vreemde “Ander”.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.