Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Die top-10 taalfoute wat Afrikaanssprekendes (onbewustelik) maak
Riaan Grobler

“Afrikaans is ’n kaalvoettaal,” het ek Koos Kombuis al hoor sê, en hy is reg – dit is ’n jong taal wat in sy verskillende dialekte en uitsprake ’n besonderse bekoring het. Vir my, as 'n teksredakteur en taalpraktisyn, is dit ’n aardigheid om veral op sosiale media te sien hoe mense die taal besig. Daar is verskeie taalgroepe op Facebook, byvoorbeeld, waar interessanthede soos argaïese uitdrukkings en idiome bespreek word.

Maar die ander ding wat ek ook gereeld opmerk is die ooglopende taalfoute wat Afrikaanssprekendes gereeld en konsekwent maak, amper asof almal iewers saam die verkeerde dinge geleer is en nog nooit afgeleer het nie.

Hier is ’n lys van 10 algemene taalfoute wat mense nie weet hulle maak nie. Toets jouself!

10. Wie / Wat

Die neiging om te wil skryf: “Die man/vrou/persoon wie daar sit...” is verkeerd. Die woord wat word ten opsigte van mense, diere en dinge gebruik.

9. Nogals

Nogals is nogals ’n oulike woord! Maar dit is verkeerd. Daar bestaan nie ’n woord soos nogals nie. Die AWS erken wel nogal, sonder die -s.

8. Huistoe

Om huis toe, winkel toe, kerk toe of biblioteek toe te gaan, is altyd twee woorde. Die fout sluip veral om die een of ander rede in by “huistoe”, maar dit is verkeerd!

7. Oppad

Dieselfde geld vir op pad, wat altyd twee woorde is.

6. Vir seker / Verseker

Die neiging is om verseker te gebruik wanneer jy wil sê “Beslis!”, maar dit is nie reg nie. Jy verseker jou motor teen diefstal, of jou huis teen brand. Jy kan ook iemand verseker dat jy die waarheid praat (“Ek verseker jou dis wat gebeur het”). Maar vir iets wat beslis so is, is dit vir seker. Jy sal hierdie reël nou onthou – vir seker!

5. Waardeur / Waardeer

Die gat in die grot waardeur hulle moes kruip, was baie nou. Ek waardeer jou vriendskap!

4. Minlik / Nimlik

Hierdie twee word gereeld met mekaar verwar, maar dis eintlik maklik. Minlik beteken “geliefd” terwyl nimlik “die einste een” beteken.

3. Sin / s’n

’n Sin is die ding wat jy skryf, wat uit woorde bestaan, of betekenis (dit maak nou sin, nè?), terwyl s’n gebruik word om aan te dui dat iets aan iemand behoort: “Daai duur kar is my baas s’n.”

2. Saam met

Om die een of ander rede het “met” heeltemal verlore geraak en skryf mense goed soos “Ek het saam my liefie gaan swem” of “Kom gou saam my”. Saam gaan altyd saam met “met”, soos koffie saam MET beskuit.

1. Huidiglik

Huidiglik is vir seker een van die gruwelikste woorde wat nie bestaan nie. Want ja, daar is nie ’n erkende woord of verbuiging soos huidiglik in enige gesaghebbende bron oor die Afrikaanse taal nie. So, wat gebruik ’n mens dan eerder? Die korter en gebruiksvriendelike “tans” sal jou vernedering spaar.

Bronne: Die Afrikaanse Woordelys en Spelreëls, Skryf Afrikaans van A tot Z, Pharos- aanlyn woordeboek. 

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.