Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Goeiemôre
Die voorgapser en ’n boekmerk vir oom Hendrik

OU Klippies daar in die Vuildriehoek sê altyd die een ding van daai deel van die wêreld is dat “what you see is what you get”.

Hy sê dit oor die mense maar veral oor die lekker geurige lug wat jy daar inasem.

“Ja, my maat,” sê hy altyd met ’n Gunston-kuggie (alhoewel hy eintlik Yskor rook), “anders as julle perde daar in Tshwanetoria, kan ons ten minste sien wat ons inasem.”

Dit was dus nie ’n groot verrassing om te sien Vereeniging en Siesol is saam met Siescunda boaan die lys van plekke met die vrotste lug in ons ou kuggende, stotterende landjie nie.

Wat wel ’n hengse verrassing is, is dat die Nskandalige vakansiedorp wat sekerlik nóú die slegste van enige plek in Suid-Afrika ruik, nié heelbo aan dié lysie pryk nie. As die lug bokant daai plek nie vinnig gesuiwer word nie, gaan al ons piepols eindelik verstik, al bly jy ook in ’n hutjie heelbo op die Drakensberge.

Oom Kas sê hy sien ons mag darem nou sê die president steel. “Dink julle manne dit beteken ons kan ook sê hy is dus ’n . . . ?”

“Nee, wag, wag, wag met daai een, my oom!” keer Neef Bartel benoud toe die oom daai groot woord wil sê. “In ons ou landjie was twee en twee mos bitter lanklaas vier, so stadig oor die klippe met die name. Al wat ek sal waag om te sê is dat ’n man wat so vinnig ’n gap kan vat soos hy, ’n top-gapser is.”

Soos ek en my ou maters nou in ons eenvoud die Nskandalige proses verstaan, is dit dat Nommer Een die Speaker van die Nasionale Verwarring laat weet het iemand het vir hom Thuli se verslag gelees en hy verstaan dit ten dele en kol-kol, maar wag vir ’n verslag deur die SOE ( spesiale onderwêreld-eenheid). Daarná sal hy die gunstigste van die twee verslae binne die volgende vyf jaar by die parlement indien.

Hy wou ’n afskrif van die verslag binne 14 dae indien, maar sy fotostaatmasjien én brandpoelpomp is stukkend en daar word gewag op tenders vir herstelwerk.

Intussen slaan hy en Mac maar self die vure dood en stel die Speaker ’n ad hoc-komitee saam (wat om middernag op 6 Mei ontbind) om die OB-verslag (wat ruik of dit reeds ontbind het) na die volgende parlement of die hiernamaals (wat ook al eerste kom) te verwys.

Of ons vergeet maar mettertyd sommer net van die ou geurige sakie.

’n Mooi ligpuntjie is dat die beoordelaars nou wraggies raakgevat het met ons nuwe Mej. Suid-Afrika. Ek was eendag, lank-lank gelede by toe wyle Oom Hendrik Schoeman saam met ons destydse mooiste, Lorna Potgieter, afgeneem is en toe vir die fotograaf vra om vir hom die foto te stuur want hy wil dit as ’n boekmerk by Hooglied gebruik.

Nou ja, Rolene, soos Seun altyd oor ’n rêrige mooi Kovsie-meisie gesê het: Jy’s mooier as ’n mooi Bybelversie!

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.