Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Elmarie Wiesner: Dié manne lei met outoriteit
Maar Vadersdag het my tog laat nadink oor God as Vader en oor vaderskap en manlikheid.

Sedert die begin van Junie veroorsaak die groep Watch (Women and the Church) ’n ligte opskudding in die Anglikaanse kerk in hul tuisland Engeland: Hulle dring daarop aan om ook vroulike voornaamwoorde vir God te gebruik, tesame en gelyk met die manlike woorde, berig The Huffington Post.

Dieselfde groep het die veldtog aangevoor wat daartoe gelei het dat die eerste vroulike biskoppe sedert Desember verlede jaar tot die amp toegelaat is.

Die argument is as volg: Ortodokse teologie sê dat alle mense na God se beeld geskape is, en dat God nie geslag het nie. Om dus na God net in die manlike vorm te verwys, veroorsaak ’n verdraaide beeld van God, en die idee dat vroue mindere verteenwoordigers van Jesus Christus in die wêreld is.

Die teenargument is natuurlik dat God in die Bybel “Vader” genoem word, wat duidelik ’n manlike term is.

Ek het geen behoefte om in hierdie ruimte hieroor debat te voer nie, hoewel so iets sinvol sou kon wees en heelwat teo­logiese plesier sou kon ontlok.

Maar Vadersdag op die kalender het my tog laat nadink oor God as Vader en oor vaderskap en manlikheid.

Navorsing van die Suid-Afrikaanse Instituut vir Rasseverhoudings toon in Maart 2011 dat 48% van Suid-Afrikaanse kinders in huise sonder pa’s grootword.

Te verstane berig elke nuusagentskap sedertdien oor die stygende getalle vigswesies, die armoede van kinders in veral enkelouergesinne en die maatskaplike nagmerrie wat dit als meebring.

Ek salueer elke ma wat haar kinders liefhet en versorg, ook en veral die enkelma’s. Maar vandag wil ek ’n paar woorde oor die pa’s spreek. Want ek ken ’n hele paar van hulle.

Ek ken ’n hele skare pappas wat saam met die mammas in hul kinders se lewe kringe om hul oë en melkvlekke op hul klere het; wat saam met die mammas sukkel om ’n balans tussen verpligtinge by die werk en tuis te tref.

Ek ken baie pa’s wat tot laatnag sommetjies maak en rande rek sodat kinders versorg kan word. Ek ken hordes wat Saterdag ná Saterdag langs die sportveld staan en aanmoedig, oueraande bywoon, blinkertjies op plakkate aanbring en ewe handig en nederig poniesterte vir hul dogtertjies kan maak.

Ek ken ook ’n man wat hunker om pa te word, dalk selfs meer as sy onvrugbare vrou. Ek ken ’n pa wat daagliks bid en hoop en werk, ook deur regskanale, om meer toegang te hê tot sy kinders wat by die ma woon. Ek ken ’n pa wat op sy oudag nie kan wag dat sy dogter huis toe kom ná maande oorsee nie, so asof sy nog ’n skoolkind is.

Ek kyk na hulle en ek dink: Dis eerder ménslikheid as manlikheid of vroulikheid wat ons moet gebruik as invalshoek om mekaar te benader, mekaar te bespreek. Want pappa-arms is net so bly soos mamma-arms om ’n kind op te raap, pappa-oë kyk net so ver om seker te maak ’n kind is veilig en beskerm; ’n pappa-hart is net so gretig om te versorg en te gee.

En in ’n tyd waar gezoem word oor die krisis by mans oor rolle en identiteit, is daar ’n klomp wat uitgesorteer is, en manlikheid tot suiwer skoonheid verhef: Diegene wat omgee en nie skaam is daaroor nie, dapper genoeg is om toepaslike emosie te wys, en nie toelaat dat hul natuurlike beskermingsdrang deur besitlikheid, beheer of vrees verdryf word nie.

Julle manne is, wat my betref, leiers met outoriteit, die mans wat hul man kan staan, waarvan ons hóú.

Gelukkige Vadersdag dus, aan al die pappas wat die spektrum van vaderskap uitleef. Ek sal vir julle bly bid sonder skroom; ek sal julle noem aan my Vader, wat graag Sy kinders bymekaarmaak soos ’n hen haar kuikens. Want eintlik is ons almal maar net mense.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.