Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
VAN ALLE KANTE
En toe kom Steve met sy plan B . . .
CHRIS MCEVOY

Eens op ’n tyd was Steve Hofmeyr allesbehalwe omstrede. Hy was nie veel meer as ’n middelmatige kunstenaar wat in TV-sepies gespeel en die een CD ná die ander uitgerol het nie. Onmerkwaardig met net genoeg natuurlike sjarme en ’n voorkoms om te sorg vir bewonderaars wat van daardie soort ding hou. En Hofmeyr het dit geweet. Hy het egter sy sex appeal soos ’n instrument bespeel en met die hulp van sy TV-rolle ’n “stoutseun”-persona ontwikkel wat verseker het dat konsertsale deur gillende poppies gevul sou wees.

Hoe het hy dus in die woedende, ras-uittartende vreesstoker van vandag ontaard? Tot relatief onlangs het Hofmeyr geen ware belangstelling in “politieke aktivisme” getoon nie. Polities gesproke het hy vaagweg anti-liberaal voorgekom, maar nie genoeg om in 2007 ’n vleisbraai saam met Jacob Zuma van die hand te wys nie.

Maar toe kom 2008, Hofmeyr se annus horribilis – ’n jaar van egskeiding, smerige onthullings deur minnaresse en regsgedinge. Joernaliste het nie nodig gehad om dit uit te grawe nie; hulle is oorspoel deur ’n tsoenami van smet. Sy minnares (wat vandag sy vrou is) het ’n ope brief geskryf waarin die omvang van sy misleiding onthul is. Sy was woedend omdat hy haar ’n “popster-afleiding” genoem het. En toe tree nog ’n minnares na vore . . .

Dit sou ’n mindere haakplekkie in sy loopbaan gewees het as Hofmeyr régtig ’n stoutseun-rockster of dalk ’n Europese politikus was. Maar hy was ’n suksesvolle kleindorpse kunstenaar wat aanklank by ’n konserwatiewe gehoor gevind het. Die smerige onthullings was te erg vir talle in sy kern-bewonderaarsgroep.

Dit was ’n moeilike twee jaar. Hy was twee keer in die hospitaal, is afgepers en is deur sy regsverteenwoordiger gedagvaar. Daarna het ’n regsgeding met die destydse redakteur van Huisgenoot, Esmaré Weideman, gedreig weens die berugte teegooi-insident.

Maar toe vind hy sy eie afleiding, van ’n politieke aard, gevul met gelaaide woorde soos “plaasmoorde”, “wit volksmoord” en “Julius Malema”. Stadig maar seker, danksy ’n konkoksie van verregaande, dikwels rassistiese uitlatings en berekende publisiteitsfoefies, het hy homself weer in die kollig ingewurm.

Toegegee, hy het ook baie vyande gekry, maar hulle sou in elk geval nooit sy konserte bygewoon of sy albums gekoop het nie. En nou het hulle ten minste iets gehad waarteen hulle luidkeels kon protesteer, wat vir Hofmeyr selfs meer aandag in die media besorg het wat hom gemaak het en wat hy later verafsku het.

Hofmeyr het eenvoudig sy handelsmerk herontwerp. Sy omstrede nuwe persona het sy bewonderaars so te sê sy verlede laat vergeet. Die siniese plan het gewerk, maar dit is ongelooflik hoeveel woede en verdeeldheid een man kan en sal ontlok net om ’n paar albums met Neil Diamond-covers te verkwansel.

​https://twitter.com/ChrisMcEvoy_

Kaapstad

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.