Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Erla-Mari Diedericks: ‘Drink lank genoeg en die geraamte begin vlieg’

Daar is ’n geraamte in die dak.

Dit het ’n vreemde stert, vinagtige vlerke en hang teen die dak van ’n piepklein kroegie in Langebaan.

As ’n mens lank genoeg kyk en lank genoeg drink, lyk dit kompleet asof die geraamte vlieg.

Ek kyk en vra, maar niemand kan my sê wat dit is nie.

Ek dink dis ’n seeleeutjie.

Nee, sê die man wat vir my sjerrie koop, hy dink dis ’n nagemaakte geraamte.

Goeie hel, nee, sê ’n ander man wat by die kroegtoonbank sit, groot maag gebalanseer op ’n klein stoeltjie, dis die vreemdste ding wat hy nog gesien het.

Dis ’n dinosourus, reken iemand anders.

In my kop doop ek die geraamte “See-engel”. Ná vele gesprekke voor die knetterende kaggelvuur met See-engel stel ek vas dat sy vroulik is. Sy is iets tussen ’n meermin, ’n engel en ’n seeleeu, vertel sy my.

Mooi, magies en sterk.

Die geraamte in die kroeg van die Farmhouse Hotel in Langebaan. Foto: Erla-Mari Diedericks

Elke aand sit ek voor die kaggel met die geraamte bokant my kop.

Sy is nie die enigste dooie ding in die vertrek nie.

Daar is ’n groot bokkop bokant die kaggel. Hy kyk met glasoë na die rye glasbottels in die kroeg. Glas weerkaats op glas en in die gloed van die vlamme verbeel ek my die bokkop lyk dronk. En asof hy enige oomblik “Sarie Marais” gaan sing. ’n Dooie sebra rus onder my voete, maar dit vat ’n rukkie voordat ek dit gewaar . . .

Dalk was dit daardie een sjerrie te veel of die See-engel se aanhoudende gegiggel, maar een aand sê iets vir my om oor my skouer te kyk. Eers sien ek net ’n paar afgryslike swart toonnaels. Enkele sentimeters van my neus af. ’n Bloedstollende gil stol in my keel. In die donker hoek glinster ’n paar slagtande.

“Goeie donner!” lag die vet omie op die kroegstoel. “As daai bobbejaanmannetjie jou gryp, Meisie, is dit klaarpraat met jou.”

Die skuim van sy bier gaan sit in sy snor. Net so glinsterend soos die opgestopte bobbejaan in die hoek se slagtande.

Terwyl die son oor die “lagoon” sak, vertel See-engel my stories.

Sy vertel van huwelike in die hotel, van ’n spook wat deur die dak dwaal. Sy is nie altyd seker watse soort spook dit is nie. Soms is dit ’n meisie in haar liefde verlaat.

“Die arme ding se geliefde het nooit van die oorlog teruggekom nie.”

Teen die muur sug die bokkop swaar. Êrens het ’n bokwyfie ook tevergeefs vir hom gewag.

Soms is die spook ’n baba wat huil saam met die wind om die hoeke van die huis. Die bobbejaan grynslag net as hy dié storie hoor. So asof hy van iets weet . . .

“Die mure hier het ore,” fluister See-engel. “En ek kan als hoor. En die dinge wat ek al gesien het . . . mens! Jy moet net ’n bietjie rondom jou kyk.”

Sy kom een aand ingestap terwyl ek in die kroeg sit. Sy balanseer versigtig op haar hoëhakskoene, soos ’n volstruis met polvye. Die stywe jean met die blinkertjies en die opgepofte hare wat meters hoog op haar kop ‘getease’ is, laat haar nog meer soos ’n verskrikte voël lyk.

“Sy is altyd hier,” fluister die Engel.

“Ek sal nou ietsie drink, dink ek!” kondig Volstruisie hardop in ’n hoë stemmetjie aan. ’n Paar mense kyk gesteurd op. ’n Kelner is gou by haar sy, maar sy waai hom half vies weg.

“Nee, nie ’n glas nie! Bring ’n bottel, asseblief.”

Dan verdwyn sy en die kelner die gang af agter die bottel wyn aan. Ek bly alleen agter saam met my dooie vriende.

Die volgende dag loop ons in mekaar vas.

“Ek hou van jou styl,” merk ek op. “Bestel sommer die hele bottel, nie net die glas nie.”

“Ag nee wat, ek het genoeg gehad van omgee wat mense van my dink,” sê sy. “Ek is ‘single’ en doen net mooi wat ek wil. Niemand gaan my ooit weer voorsê wat om te doen nie.”

Haar bitter stem tref my soos ’n volstruis se skop.

Later die aand nooi ’n groep mans en hul vroue haar oor om by hulle te kom sit in die restaurant. Die vroue sien haar nie as ’n bedreiging nie – totdat sy begin praat. Die mans hang aan haar lippe.

“So jy het regtig nie ’n man nodig nie?” vra die een man, terwyl hy nader aan haar skuif. Sy vrou sit hom net so en kyk.

“Vir wat het ek een nodig?” vra sy.

Die ooglopende antwoord hang suggestief-swaar in die lug, maar niemand waag dit om iets te sê nie.

“Ek gaan nie weer ‘compromise’ nie. Ek het nie ’n bang haar op my kop nie. Ek ry met my Merc net waar ek wil en die man wat my wil hê, sal vir my ’n duurder Merc en ’n groter huis moet koop.”

Ek staan op en gaan drink die res van my wyn onder my Engel se vlerke.

“Jy moenie haar veroordeel nie,” maan die See-engel. “Sy het haar redes vir bitterheid. Ons het maar almal ons geraamtes in ons kas. En onthou,” fluister die Engel – en vir ’n oomblik sweef sy af tot reg op my skouer:

“Partykeer vlieg jou geraamtes sommer teen die dak rond.”

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.