Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
DIE ANDER KANT
Frans Cronjé: Só lyk en leef die ergste soort wit Suid-Afrikaner

“Skynheilig” is ’n wonderlike Afrikaanse woord wat van toepassing is op die ergste soort wit Suid-Afrikaner – geveins, oneerlik, huigelagtig, rassisties. Wie is hierdie mense?

Hulle soek die gewildheid verbonde aan hul politieke korrektheid.

Jy sal hulle erken as die wit universiteitsprofessor wat voortdurend kla dat daar te veel wit universiteitsprofessore is; die wit bedryfsleier wat sy eie geld in die buiteland belê het, maar nog altyd kritici van die regering beskuldig dat hulle “te pessimisties” oor die toekoms is; die wit rugbyadministrateur wat sê dat daar te veel wittes in die Springbokspan is. Jy sal hulle onder die wit “maatskaplike geregtigheid”-aktiviste kry wat private skole as elitisties afmaak, maar hul eie kinders na sulke skole stuur. Dit is mense wat vanuit die gerief van hul eie voorstedelike middelklaslewens betoog dat arm swart mense kleinboere moet word. Hulle kla dat wit mense oorverteenwoordig is in topposte, maar beklee self sulke betrekkings.

Wanneer jy sulke persone teëkom, moet jy hulle vra waarom hulle nie doen wat hulle voorgee om te glo nie. Vra vir die wit professor: As jy werklik glo dat daar te veel wit professore is, waarom het jy dan nog nie bedank nie? Vra vir die onderwysaktiviste of politici wat private skole kritiseer waarom hulle dan hul eie kinders na sulke skole stuur. Vra vir die grondhervormingsaktivis: As jy werklik glo dat eiendom herverdeel moet word, hoekom gee jy dan nie jou eie huis en eiendom weg nie? Niemand sal jou keer nie.

Jy sien, die waarheid is dat hierdie mense net stories vertel. Hulle praat van “transformasie” en “maatskaplike geregtigheid” omdat dit hulle gewild maak. Hulle is baie in hul skik wanneer hulle toekennings ontvang vir “programme” wat swart kinders voed, maar is in die stilligheid dankbaar dat hierdie kinders in afgeleë townships bly. Hulle soek die gewildheid verbonde aan hul politieke korrektheid.

Wat hierdie mense so meedoënloos maak, is die enorme verskil tussen hoe hulle leef en hoe swart mense volgens hulle behoort te leef. Nie een van hierdie aktiviste sal ooit toelaat dat hul eie kinders ’n nag in ’n staatshospitaal deurbring of hulle na ’n B-graad-staatskool stuur nie. Hulle sal nooit een dag van hul lewe daaraan wy om as kleinboer ’n bestaan te probeer maak nie, maar dit is wat swart mense behoort te doen.

Vergelyk hierdie oneerlike skynheiligheid met die ander kant van die wit gemeenskap – die meerderheid van hardwerkende mense wat sê dat hulle hul eiendom gaan behou, dat hulle hul werk verdien het en hul sakeondernemings self opgebou het. Hulle werk elke dag hard om aan ’n beter Suid-Afrika te bou, maar verwerp die polities korrekte skynheiligheid van hul “maatskaplike aktivis”-bure omdat hulle weet dat daar nie ’n herverdelingskortpad na ’n beter lewe vir die meerderheid arm en swart Suid-Afrikaners is nie.

Slegs goeie onderwys, waagmoedige entrepreneurskap en kapitale belegging kan aan die meerderheid swart mense die lewenstyl bied wat die meerderheid wittes geniet. Dit is ’n harde boodskap en onregverdig in die lig van ons geskiedenis; dit is nie polities korrek nie, maar dit is die waarheid.

Clarence Thomas, die tweede swart man om die pos van regter in die Amerikaanse hooggeregshof te beklee, het die skynheiligheid van die wit maatskaplike geregtigheidsbeweging goed verstaan toe hy geskryf het: “Ek het grootgeword met ’n vrees vir die moordbendes van die Ku Klux Klan; as ’n volwassene het ek begin wonder of ek die heeltyd vir die verkeerde wit mense bang was – waar ek nie meer deur fanatici in lang wit gewade vervolg is nie, maar deur linkse heethoofde vol voortvloeiende hoogheiligheid.”

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.