Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Gert Coetzee: Stryd om siel van kampusse
Nader tuis, maar deel van die groot transformasie-debat, is die siviele eis van R1 miljoen wat twee “verbanne” oud-Kovsies teen prof. Jonathan Jansen en die Universiteit van die Vrystaat (UV) as skadevergoeding vir “kontrakbreuk” en “vooroordeel” ingestel het.

Steeds ontvou die transformasie-dinamika op die kampusse van Suid-Afrika se universiteite wat eens ’n oorwegend wit, Afrikaanse karakter gehad het – met veral die Noordwes-universiteit (NWU) se Potchefstroom-kampus nou onder die loep.

Die spanning gaan oor veel meer as transformasie versus nie-transformasie. Al stel die transformasie-drywers dit dat diegene wat vrae stel, gekant is teen transformasie en regs, konserwatief, behoudend of rassisties is (sonder om dit uit te spel). Die vraestellers oor transformasie stel dit weer dat dit oor die “hoe” van transformasie en oor raskonsekwent-heid gaan.

Tog omvat die hele tafereel velerlei vervlegte fasette waarby in kenmerkend Suid-Afrikaanse konteks ook ras, taal, kultuur en magspolitiek ingeklits is. Ook die gehalte van onderrig en die rol van joernalistieke perspektiewe kom aan die bod.

Ook is dit eintlik dieselfde stryd wat hom, al is dit op ’n ander wyse, op dié kampusse uitspeel. Soos die opskrif van ’n berig in Volksblad oor die Potch-kampus verlede week gelui het, is dit in alle erns ’n “stryd om die siel” van die kampusse.

Kortom: Is daar in hedendaagse Suid-Afrika nog plek vir wit, Afrikaanse kampusse? Hier gaan dit oor veel meer as wat die Grondwet in swart op wit waarborg.

Of moet kampusse homogeen wees met – eindelik – Engels as onderrigtaal?

Dít lê aan die hart van die stryd.

Aan die NWU sou dit een institusionele bestuur as “sambreel” oor die drie kampusse, Potchefstroom, Vaaldriehoek en Mafeking, behels, soos wat prof. Dan Kgwadi, vise-kanselier, dit in sy visie van ’n “unitêre universiteit” wil hê.

Kwgadi is die opvolger van prof. Theuns Eloff wat sy pos kwyt is ná die opspraak oor die Nazi-saluut, as deel van ontgroeningspraktyk, op die Potch-kampus. In sy breë bestuursmodel sal die onderskeie magstrukture van die afsonderlike kampusse – veral Potch! – verdwyn en die NWU sentraal beheer word.

Pleks van drie sal fakulteite een dekaan hê wat besluit oor taalbeleid, maar met ’n plek vir Afrikaans, verseker Kgwadi.

Eers ’n voetnota oor hoekom die NWU-sage – uiteraard – vir Volksblad en sy lesers nuuswaardig is. Vanjaar het die NWU 1 991 studente en 580 afstandstudente van die Vrystaat en 1 417 studente en 1 728 afstandstudente van die Noord-Kaap. Net van Grey-kollege is daar vanjaar 23 Potch-eerstejaars.

Volksblad het dan ook oor die forensiese ondersoek teen prof. Herman van Schalkwyk, Potch-rektor (en ’n vorige kandidaat vir die Kovsie-rektorskap), die Higher Education Transformation Network (HETN) se strafregtelike klagte van bedrog teen Eloff, prof. Johan Rost en Bian Jooste en die skorsing van Monica van Schalkwyk, SR-voorsitter van Potch, berig. Juis Eloff het ’n ope brief aan dr. Blade Nzimande, minister van hoër onderwys, geskryf oor laasgenoemde se uitlating dat Potch ’n “apartheidsenklave” is.

Op die Potch-kampus heers agterdog oor Kgwadi se plan met etlike hoës wat ’n ander agenda vrees en ook viktimisering aanvoer.

Nader tuis, maar deel van die groot transformasie-debat, is die siviele eis van R1 miljoen wat twee “verbanne” oud-Kovsies teen prof. Jonathan Jansen en die Universiteit van die Vrystaat (UV) as skadevergoeding vir “kontrakbreuk” en “vooroordeel” ingestel het. The Weekly se plakkaat sê: Jansen faces racism claim.

Nou is die vraag: Betaal hy (en die UV) dit en raak ontslae van die dagvaarding, maar erken eintlik skuld?

Of staan hulle dit teen, verskyn in die hof en loop die risiko dat hulle nie weet wat gaan uitkom nie?

Waarskynlik opsie twee.

Interessante tye, gewis.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.